DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 6
SAUL STERF
1 Sam 27-29; 31; 2 Sam 1
1. Alweer Filistyne!
Toe die Filistyne teen Israel optrek, het Agis geglo dat Dawid hom as gevolg van die vete met Saul sou help. Agis het vir Dawid en sy 600 manskappe selfs ʼn eie stad (Siklag) gegee vanwaar hulle strooptogte teen die Amalekiete en Gesuriete onderneem het. Dawid het hom slegs by die Filistyne aangesluit omdat Agis vir hom goed was. Net toe Dawid teen Israel wou veg, het die Amalekiete ʼn wraakaanval op Siklag geloods en moes hy onmiddellik daarheen vertrek.
Die Filistynse vorste het Dawid egter gewantrou. Hulle het geglo dat hy in die hitte van die stryd teen hulle sou draai net om Saul te beïndruk. Die Amalekiete het hom en sy manskappe groot skade aangerig en selfs sy twee vroue, Abigail en Ahinoam, weggevoer. Die manskappe was so verbitterd oor hulle verliese, dat hulle oorweeg het om Dawid te stenig! Ná ʼn Godspraak deur die priester Abjatar, het hulle die vyand agterna gesit en alles teruggekry. Intussen het Saul sy leër opgestel en op die berg Golboa stelling ingeneem.
2. Saul in die knyp
Toe Saul die ontsaglike groot Filistynse leër sien, was hy baie benoud waarna hy God probeer raadpleeg het. Omdat daar nie meer ʼn verhouding tussen hulle was nie, het God hom nie geantwoord nie. Daarbenewens het Saul God nie in vertroue geraadpleeg nie. In sy diepste nood het Saul geen berou getoon of hom tot God bekeer nie. Sy soeke na God was in werklikheid ʼn soeke na kennis van die toekoms. God was ʼn paniekknoppie!
ʼn Mens kan net op twee maniere kennis van die toekoms bekom – òf deur God òf deur die Satan. Toe God hom nie wou antwoord nie, het hy ʼn Satansagent (heks) gaan raadpleeg wat die gees van gestorwenes kon oproep (1 Kron.10:13). Ironies genoeg het Saul, wat alle Satansagente volgens die wet laat uitroei het (Lev.19:31), op die ou einde self een benodig.
Saul se dienaars het van ʼn vrou in Endor geweet. Hy het hom vermom en na haar gegaan. Sy was egter baie bang dat dit ʼn strik was en met haar lewe kon boet. Nadat Saul gesweer het om haar geen leed aan te doen nie, het sy Samuel vir hom laat opkom. Hierdie eedswering het egter niks beteken nie. Watter nut het ʼn eed uit die mond van een wat God verlaat het?
ʼn Mens kan begryp waarom Saul spesifiek na Samuel gevra het. Hy was immers van meet af aan een van die belangrikste mense in sy lewe. Saul het hom dikwels om raad gevra. Hierdie keer selfs na sy dood! Toe Samuel opkom, het die vrou gegil en Saul herken. Hy het egter nie die gees gesien nie, maar uit wat die vrou gesien het, geweet dat dit Samuel was.
3. Die gesprek
Samuel het Saul verwyt dat hy hom nie met rus gelaat het nie. Saul het homself probeer regverdig deur te sê dat hy in die knyp was en God hom nie wou antwoord nie. In die daaropvolgende gesprek het Samuel vir Saul op sy sonde gewys en gesê dat hy en sy seuns saam sou sterf. Daar was vir Saul geen troos nie, slegs ʼn verpletterende oordeel!
[Oor die vraag of Samuel werklik uit die doderyk opgeroep is, is daar meningsverskil. Maak God dan van duiwelskuns gebruik? Verbied Hy dit dan nie juis nie? Sal God Hom deur ʼn heks laat dwing om ʼn verworpene te antwoord? Desondanks het die voorspelling van Saul se dood die volgende dag in vervulling gegaan. God het vir Saul geen boodskap gehad nie. Die Satan moes dit aan hom bekend maak!]
Toe Saul die boodskap verneem, het hy van spanning en honger omgekap waarna die heks ʼn kalf laat slag en hy by haar geëet het. Wat ʼn kontras! Saul se lewe as koning het met ʼn maaltyd by die profeet van God begin en met ʼn maaltyd by ʼn heks geëindig! Dit was dan ook sy laaste ete.
4. Saul pleeg selfmoord
Toe Saul by sy leër terugkom, het die dag pas gebreek en die geveg begin. Dinge het vir Israel van meet af aan skeef geloop. Drie van Saul se seuns het gesneuwel - Abinadab, Malkisua en Jonatan. Hulle het egter ʼn heldedood gesterf; ʼn eer wat Saul nie beskore was nie. In die hitte van die stryd het hy sy wapendraer gevra om hom met sy swaard dood te maak. Toe die man weier, het Saul sy eie lewe geneem deur in sy swaard te val. Daarna het die Filistyne groter mag as ooit tevore oor Israel gehad; alles aan Saul se mislukking as koning te wyte.
Toe die Filistyne die volgende dag die lyke plunder, het hulle op die lyke van Saul en sy seuns afgekom. ʼn Amalekiet was egter voor hulle daar en het Saul se kroon gesteel. Hierdie kroon was ʼn voorhoofband van goud. Daarna het ʼn Filistyn Saul se kop afgekap. Dit was heelwaarskynlik uit weerwraak vir dit wat Dawid aan die reus Goliat gedoen het. Daarna is Saul se wapenrusting as oorwinningstrofee deur die Filistynse ryksgebied gestuur en die lyke van Saul en sy seuns teen die stadsmuur van Bet San vasgespyker. Dit was ʼn verskriklike vernedering vir die huis van Saul!
Gedurende die nag het ʼn paar dapper manne van Jabes die lyke van die stadsmuur verwyder en dit verbrand om te verhoed dat die Filistyne ʼn verdere bespotting daarvan kon maak. Daarna is die beendere onder ʼn tamariskboom in die omgewing begrawe. Dawid het hierdie oorskotte later laat opgrawe en in die graf van Saul se vader, Kis, geplaas (2 Sam.21:12-14).
5. Dawid ontvang die doodstyding
Die Amalekiete se aanval op Siklag het in dieselfde tyd as die aanval van die Filistyne op Israel plaasgevind. Nadat Dawid in Siklag aangekom het, het ʼn Amalekiet met geskeurde klere en grond op sy kop (teken van rou) die doodsgerig van Saul en sy seuns aan hom oorgedra. Hy het voorgegee dat hy Saul doodgemaak het en die kroon as bewys daarvan aan Dawid oorhandig. Dawid se optrede was baie anders as wat die Amalekiet verwag het. In plaas van ʼn goeie beloning, het Dawid die man laat teregstel omdat hy die gesalfde van die Here doodgemaak het!
“Hoe het die helde geval!” het Dawid ontsteld uitgeroep. Daarna het hy ʼn lied geskryf waarin hy net lof vir Saul gehad het. Hy het niks kwaad van hom gesê nie. Dawid kon dit so maklik gedoen het sonder dat iemand hom sou verkwalik het. Maar hy het nie. Hy het positief gebly soos wat dit ʼn gelowige betaam.
Vervolg...