STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (39)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 10

ABSALOM

2 Sam 14:1-23; 15:1-6,23-35;18;19:1-8

1.   Absalom keer terug

Ná Amnon se dood het Dawid vir ʼn tyd lank oor hom gerou.   Daarna het hy baie na Absalom verlang, maar kon hom nie laat terugkeer nie omdat daar bloedskuld op hom was.  Absalom was slegs in Gesur veilig.   Joab het hom met die saak bemoei en Absalom probeer terugkry sonder dat bloedwraak geneem word.  Hy het ʼn slim vrou gebruik wat vir Dawid ʼn aangedikte storie vertel en die hom die bloedwraak laat ophef het.

Toe Dawid agter die kap van die byl kom, het die vrou met die waarheid voor die dag gekom waarna Absalom laat haal is.   Hy kon wel in sy eie huis woon, maar Dawid nie sien nie.  Dit was soos ʼn ballingskap!    Hy wou Joab gebruik om Dawid te benader, maar Joab het geweier.  Toe sy gars daarna aan die brand raak, het hy geweet dat Absalom iets daarmee te doen gehad het en hom gaan spreek.   Op die ou einde het Joab wel ʼn versoening tussen Absalom en Dawid bewerkstellig.

2.  Die staatsgreep

Absalom was ʼn aantreklike jongman met ʼn weelderige haardos.  Hy het homself van prag en praal voorsien en met sy regspraak die volk beïndruk.  Vier jaar later was die tyd vir sy eintlike doelwit ryp nl. die troon van Israel.   Hy het aanhangers onder al die stamme gehad wat op ʼn gegewe tyd moes uitroep: Absalom is koning!   Daarmee wou hy sy aanhangers van die res van die volk onderskei.

Absalom het op ʼn slinkse wyse na Hebron verhuis vanwaar hy die staatsgreep wou uitvoer.  Dawid het geen onraad vermoed nie en hom toestemming gegee om daar te gaan woon.  Absalom het in Hebron 200 mense na ʼn skyn offerplegtigheid genooi.  Agitofel, een van Dawid se raadgewers, was ook onder die genooides.

ʼn Boodskapper van Dawid het hom egter oor die ware toedrag van sake ingelig.  Absalom wou ʼn staatsgreep uitvoer.   Daarna het Dawid Jerusalem onmiddellik verlaat; ʼn bewys van hoe sterk die sameswering teen hom was.   Hy het vir sy lewe gevrees en met sy hele huishouding gevlug.  Hy het net sy 10 byvroue agtergelaat om die paleis op te pas.

Toe hy die stad verlaat, het hy by die laaste huis gaan staan om te sien wie hom volg.  Sadok en Abjatar was die laastes.   Hulle het die verbondsark gedra.   Dawid het hulle egter teruggestuur omdat die verbondsark in Jerusalem moes bly.  Dit was nie deel sy koningskap nie en kon nie as afweermiddel vir dreigende gevaar aangewend word nie.

Dawid was baie terneergedruk.  Hy het geweet dat hierdie vlug op sy oudag God se straf op sy sondes was.  Nadat hy deur die Kidronspruit getrek het, het hy teen die hoogte van die Olyfberg opgeklim.  Dit was dieselfde pad wat Jesus later sou loop toe Hy deur Judas verraai is.

Dawid het Husai, ʼn wyse man, na Jerusalem gestuur om die sake dop te hou.  Hy moes voorgee om Absalom te steun.  Dawid was veral versigtig vir Agitofel (Batseba se oupa), sy gewese raadgewer.  Husai moes sy raad probeer verydel.    Dawid het tot by die Jordaanrivier getrek om asem te skep.

Intussen het Absalom sonder slag of stoot Jerusalem binnegekom.  Husai het hom goed van sy taak gekwyt sodat Absalom hom vertrou het.  Agitofel het Absalom aangeraai om Dawid se byvroue vir hom te neem.  Dit sou die teken wees dat hy die nuwe koning was.  Absalom het egter ʼn vreemde ding gedoen en al 10 byvroue voor die oë van die volk op die paleis se dak onteer!

Daarna het Agitofel hom aangeraai om Dawid met ʼn troepemag van 12,000 agterna te sit.  Husai het egter hierdie raad verydel en twee priesterseuns na Dawid gestuur om hom oor die toedrag van sake in te lig.  Husai het Dawid aangeraai om t.w.v. sy eie veiligheid noordwaarts te trek.

Intussen het Absalom op Husai se aanbeveling in ʼn heel ander rigting getrek.   Joab wou eerder by Dawid bly en Amasa as veldheer aangestel.    Daarna het Dawid sy manskappe laat monster, maar op aandrang van sy mense nie saam met hulle getrek nie.  Daarvoor was sy lewe net te kosbaar.  Daarbenewens wou hulle hom dit spaar om teen sy eie seun te veg.

Absalom was aan die genade van Dawid se veldhere oorgelewer.  Dawid het hulle versoek om nie hard teen Absalom op te tree nie.  Hoe getuig dit nie van ʼn teer vaderhart nie!   Joab het hom nie daaraan gesteur nie en korte mette met hom gemaak deur drie spiese in sy hart te steek en hom deur 10 wapendraers te laat doodslaan.   Daarmee was sy gepoogde greep op die troon gebreek.

3.   Dawid rou oor Absalom

Joab het ʼn Kusiet na Dawid gestuur om die nuus van Absalom se dood oor te dra.   Ahimaäs, die seun van die priester Sadok, het Joab egter dringend versoek om hóm eerder te stuur.   Hy het geweet hoe ontsteld Dawid sou wees.   Toe hy by Dawid aankom en die nuus van die oorwinning meedeel, het Dawid dadelik na die welstand van Absalom verneem.  Toe Ahimaäs ʼn ontwykende antwoord gee, het die Kusiet daar aangekom en die tyding aan Dawid oorgedra.  Dawid was hewig ontstel en na sy bokamer gegaan om te treur.  Hy sou eerder in die plek van sy seun wou sterf.

Dawid het die dood van Absalom baie anders ervaar as die dood van sy eerste seun by Batseba.   Hy kon in lg. berus.  Op grond van sy geloof was daardie kindjie se siel gered (1 Kor.7:14).  Absalom se siel was verlore!  Absalom was aards gesind.  Sy poging om die koningskap te bekom, het van die verlore toestand van sy siel getuig.   Nou was dit te laat om die saak met God reg te maak!   Daarom dat Dawid gewens om eerder in Absalom se plek te kon sterf.   Dit sou Absalom die geleentheid gegee het om hom tot God te bekeer.

Joab het Dawid op ʼn mooi manier berispe.  Sou dit miskien beter gewees het indien Absalom geleef en hulle almal dood was?   Hy het Dawid aangeraai om eerder in die poort te gaan sit en sy manskappe vir hul moed en trou te bedank.   Dawid het sy raad gevolg, al was dit met ʼn stukkende hart oor sy verlore seun.

Vervolg...