STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (40)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 11

DAWID SUKKEL OM DIE VOLK TE VERENIG

2 Sam 19:9-15; 20:1-22; 24

1.   Die opstand van Seba

Ná Absalom se dood was Israel baie verward.   Hulle was sonder ʼn koning en het met mekaar begin twis.  Dawid het vir Sadok en Abjatar na Juda gestuur om vrede te beding sodat hy na Jerusalem kon terugkeer.  Hy is by Gilgal deur Juda ontmoet waarna ʼn twis tussen die manne van Israel en Juda ontstaan het.   Juda het voorgegee dat Dawid hulle koning is.

Toe die Israeliete by Dawid gaan kla het, het hy niks daaraan gedoen nie.  Hy kon in der waarheid nie.  Indien hy vir hulle sou sê het dat hy vir Sadok en Abjatar na Juda gestuur het, sou dit Israel verder omkrap. Twis het dus die moontlikheid van versoening verhinder.  Niemand was teen Dawid as koning nie.   Die probleem was dat beide partye hom vir hulself opgeëis het!

Daarna het ʼn sekere Seba na vore gekom en gesê: “Ons het geen deel aan Dawid nie; elkeen na sy tente toe, o, Israel”. Dit was die vonk by die kruit!    Hy was ʼn Benjaminiet en derhalwe uit die stam van Saul; een van die manne met ʼn sluimerende anti-Dawid gevoel.   Ten spyte daarvan dat hy ʼn deugniet was, het dit wat hy gesê het, byval gevind.

Dawid het Amasa, die leërowerste, gevra om binne drie dae ʼn leër uit Juda op die been te bring.   Toe hy te lank wegbly, het Dawid vir Abisai met die soldate na Jerusalem gestuur om die opstand te onderdruk.   Amasa was ʼn neef van Joab.  Nogtans het hulle mekaar gehaat.  Toe hy later opdaag, het Joab hom met ʼn swaard doodgesteek.

Intussen het Seba na Abel-Bet-Maäga, die verste noordelike punt, gevlug waar die inwoners hom onthoof en sy kop vir Joab oor die muur gegooi het.   Daarmee was die opstand iets van die verlede.  Alhoewel die opstand nie so ernstig was nie, was dit ʼn aanduiding van ʼn dreigende skeuring tussen Israel en Juda.   Jerobeam sou later Seba se oproep herhaal (1 Kon.12:16).

2.   Die volkstelling

God was kwaad vir Israel en het Dawid aangespoor om die hele bondsvolk te tel.   Waarom God vir hulle kwaad was, word nie gesê nie.   Om ʼn suksesvolle sensus te hou, moes daar rus en vrede in die land wees.  Daar was nie.  Die uitslag het egter getoon dat Dawid die hoogtepunt van sy mag bereik het.   Die rede vir hierdie volkstelling was dat die voorbereidingswerk vir die bou van die tempel direk daarna gevolg het.  Alhoewel Salomo nog baie jonk was, was hy besmoontlik toe alreeds by die bouplanne betrek.

Dis opvallend dat God weer toornig geword het.  Hy was steeds teleurgesteld in Israel wat in sulke groot getalle aan die opstand van Absalom deelgeneem het.   Hierdie opstand was meer as net ʼn politieke gebeure.  God het Dawid as koning aangestel.  Gevolglik was Absalom se opstand ook ʼn opstand teen God en derhalwe ʼn verset teen die instelling van die teokratiese koningskap.

Omdat Absalom ʼn ongelowige was, was sy opstand in der waarheid ʼn poging van Satan om God teen te staan.  Hy wou Israel van God vervreem.   Sulke verset het God kwaad gemaak soos die opstand van Korag, Datan en Abiram (Num.16) in die tyd van Moses.  Verset teen die gesalfde van die Here is ʼn verset teen God self!

Omdat God die volk wou straf, het Hy Dawid as’t ware aangepor om hulle te tel.  So ʼn telling was verkeerd.  Hoe die Here dit kon doen, is moeilik om te verstaan.  Ons dink nie soos God dink nie.  Hy het egter met alles ʼn plan.  Hy het dan selfs Farao se hart verhard om sy Mag aan Israel te toon.  God het Satan selfs toegelaat om Job te teister.

Toe Dawid aan Joab die opdrag gee om die volk te tel, het Joab beswaar gemaak.  Hy het aangevoel dat dit verkeerd was.  ʼn Volkstelling is nie noodwendig verkeerd nie.  God het al self beveel dat dit gedoen word (Ex.30:12; Num.1:2).   Dit hang net af met watter gesindheid en doel dit gedoen word.   Joab het op die ou einde bra teësinnig Dawid se opdrag uitgevoer en ook nie almal getel nie.  Die opdrag het hom bly hinder (1 Kron.21:6).   Die bevolking van 1,3 miljoen was vir Dawid ʼn goeie aanduiding van sy moontlike militêre slaankrag.

Toe Dawid die uitslag verneem, het ʼn skuldgevoel hom oorval.  Daarna hy God om genade gesmeek.   God het hom vergewe, maar nie die straf afgewend nie.  Daarna het God ʼn profeet na Dawid gestuur oor die keuse van straf.   Daar was drie moontlikhede.  Sewe jaar hongersnood,  drie maande se vlug voor die vyand of drie dae se pes onder die volk.   Dawid moes kies, maar hy kon nie.  Hy het God gesmeek om nie in die hand van die vyand te val nie, maar eerder in dié van God self omdat Hy barmhartig is.

Daarná het God pes onder die volk gestuur waarin 70,000 omgekom het.  Toe die strafengel van God by Jerusalem kom, het God hom gekeer.  Hy het op daardie tydstip by die dorsvloer van Arauna gestaan waar Dawid hom kon sien - tussen hemel en aarde met sy ontblote swaard oor Jerusalem uitgestrek.  Wat ʼn toonbeeld van God se onafwendbare straf!

Daarop het Dawid ontroerd tot God gebid en gepleit dat sy volk gespaar moes word.  Hy sou die skuld vir sy rekening neem.   Daarna het die profeet weer na Dawid gekom met die opdrag om ʼn altaar op die dorsvloer te bou.  Arauna wou die grond en vee aan die onderhandelaars skenk; sprekend van die eertydse Oosterse beleefdheid.   Dawid het dit egter vir 600 sikkels goud by hom gekoop en ʼn altaar daar laat bou.  Daarna het hy brandoffers vir God gebring waarna die plaag verdwyn het.

Vervolg...