DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
DIE TEMPEL
1 Kon 5-6; 8:1-11; 9:1-9; 10:1-13; 11:1-13,41-43
1. Op die berg Moria
Die tempel is op die berg Moria in Jerusalem gebou. Salomo wou vir God ʼn sierlike huis bou en het twee konings gevra om vir hom hout uit Libanon te lewer. Hy het ook ʼn bevoegde ambagsman gehuur om vir hom godsdienstige voorwerpe van goud, silwer, koper en ander materiale te maak . Selfs heidene het help voorsien (Jes.60:5,11; 66:12). Salomo het hulle met plaaslike produkte soos koring, gars, wyn en olyfolie betaal. Sederbome is gekap en met vlotte na Jafo gebring waarvandaan dit deur 70,000 uitlandse lasdraers oorland na Jerusalem vervoer is. Die klippe is plaaslik uit sandsteen gekap.
Die tempel was ʼn drieverdiepingstruktuur. Dit was 60 el lank, 20 el breed en 30 el hoog met ʼn verdeling soos dié van die tabernakel in ’n hoof- en binnevertrek. Dit was ryklik versier, maar, so anders as die heidentempels, sonder enige Godsbeeld omdat dit deur die Wet verbode was. Tydens die bouery is geen geluid van hamers en kloubeitels gehoor nie omdat die stene reeds by die klipgroewe kant en klaar gemaak is. Die mure was met sederhout bedek waarin snywerk van gerubs, palmbome en blomknoppe gemaak is. Dis met goud oorgetrek sodat die tempel soos ʼn goue tempel gelyk het. Die gerubs en palmbome het die tuin van Eden voorgestel.
2. Tempelvoorwerpe
Salomo het ʼn altaar van koper gemaak, die see en tien waskomme. Hierdie see was ʼn reuse, ronde waskom tien el in deursnee. Die priesters het hierin gewas. Die ander tien waskomme was vir die gereedskap van die brandoffer en is van wiele voorsien soos afspoelwaentjies. Alles is versier. Die see het bv. op 12 koperbeelde van beeste gerus. Die koperaltaar was baie groot – 20 el lank en breed, en 10 el hoog, en het in die voorhof gestaan. Salomo het 10 goue kandelare laat maak en in twee rye van vyf elk geplaas. Daar was ook 10 tafels vir die toonbrode in die voorvertrek.
Salomo het nie ʼn nuwe verbondsark laat maak nie, maar die oorspronklike een gebruik. Hy het wel ʼn groot gerubs van olienhout met goud oorgetrek, laat maak en die ark onder die vlerke daarvan geplaas. Op die ark se deksel is twee gerubs met hul gesigte na mekaar aangebring. Daar was dus vier gerubs in die allerheiligste deel - simboliese bewakers van die huis van die Here.
3. Die tempelinwyding
Die inwyding van die tempel was ʼn groot plegtigheid. Die hele volk was in stamverband teenwoordig. Die hoogtepunt was toe die verbondsark uit Sion daarheen gebring is. Moria lê net noord van Sion. Dit was dus ʼn klein entjie na die tempel. Voordat die verbondsark na die tempel oorgeplaas is, is daar geoffer waarna dit deur die priesters ingedra en onder die gerubs geplaas is. Terwyl die Levitiese sangers gesing het, is die tempel, net soos met die inwyding van die tabernakel met ʼn wolk oordek (Ex.40:34). Terwyl Salomo die woord gevoer het, het die heerlikheid van God het die tempel vervul.
4. Die Wysheid van Salomo
Salomo is van jongs af as ʼn baie wyse man beskou (1 Kon.2:9). Sy bede om wysheid was alreeds ʼn bewys van sy wysheid. God het hom ook ‘n besondere insig in regsake gegee, meer as enige Oosterling (Arabiere en Edomiete) of Egiptenaar onder wie daar wyses was (Jer.49:7; Job.2:11). Agur en Lemuel (Spr.30,31) was moontlik wyse Edomiete.
Die Egiptenare was ook baie slim. Hulle ou literatuur bevat talle wysheidsgeskrifte. Salomo het egter almal oortref en 3 000 wysheidspreuke gedig waarvan 600 in die boek Spreuke bewaar gebly het. Ongelukkig het niks van sy 1 050 liedere bewaar gebly nie. ʼn Goeie voorbeeld van sy regsinnigheid is in 1 Kon 3:16-28 te vind waar hy die natuurlike moederliefde die uitslag van ʼn regsaak laat bepaal het.
5. Die koninging van Skeba
Salomo se besondere wysheid het ook buitelanders aan die praat gehad. Die koninging van Skeba het selfs na Israel gereis om Salomo se wysheid met raaisels te beproef. Oosterlinge was gek na raaisels (Rigt.14:12; Spr.1:6; Dan.5:12). Dit het van speelse vernuf getuig asook die drang om die verborge dieptes van werklikhede aan die lig te bring. Om ʼn raaisel te kon stel, moes die betrokke persoon self oor besondere wysheid beskik. Salomo kon alles verklaar. Nadat hy die koningin van Skeba al sy besittings gewys het, het sy verbysterd uitgeroep het dat sy nie eens die helfte daarvan verwag het nie. Nadat geskenke uitgeruil is, is sy terug na haar land van herkoms.
Niemand weet presies waar Skeba was nie. Omdat hierdie koningin uit die geslag van Gam was, kon dit iewers in Afrika of selfs in Suid-Arabië gewees het. Die hoofstad was heelwaarskynlik Marib. Argeologiese opgrawings het getoon dat dit ʼn groot stad met groot waterwerke was wat deur middel van ʼn waterskema ʼn vrugbare landstreek gevorm het. Skeba se speseryhandel het veral tot die welvaart van hierdie koninkryk bygedra. Soos wat die Fenisiërs meesterhandelaars in die Middellandse See was, was die suidelike Arabiere dit in die Arabiese see.
Daar is baie legendes oor die besoek van die koningin van Skeba; elkeen met ʼn seksuele ondertoon. Een legende lui dat Salomo ʼn seun, Menelik, by haar verwek het. Hy het sy moeder opgevolg en koning van Ethiopië geword. Hy het glo die verbondsark geroof en na sy land gebring waar dit, volgens oorlewering, van toe af in die geheim bewaar word.
6. Die einde van Salomo
Salomo se regering staan as die goue eeu van Israel bekend. Ongelukkig het Salomo later van God afvallig geword en deur sy spandabelrige, swierige lewensstyl die land swaar belas. Dit het die volk kriewelrig gemaak en met sy dood amper tot uitbarsting gekom. Benewens opstandigheid was daar ook natuurlike oorsake wat die land weens Salomo se geestelike afvalligheid geteister het.
Salomo se afvalligheid was aan sy veelwywery te wyte. Sy uitlandse vroue het hom afgode soos Astarte (Sidoniërs), Milkom (Amoniete) en Kamos (Moabiete) laat dien. Salomo het selfs vir hulle hoogtes op ʼn berg oos van Jerusalem laat bou om aan hulle afgode te kon offer.
Salomo se begin en einde verskil soos die dag van die nag! Waar Dawid aan die einde van sy lewe geestelike hoogtepunte bereik het, het Salomo in die dieptes van afgodery versink. Salomo was geen voorbeeld vir enige toekomstige koning nie. Dawid wel. Dawid het gesterf met die wete dat sy ryk ʼn groot toekoms tegemoet sou gaan. Salomo het gesterf met die wete dat sy ryk sou skeur!
Vervolg...