STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (45)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 5

VYANDSKAP TUSSEN ISRAEL EN JUDA

1 Kon 12:21-33; 13; 14:1-20

1.  Rehabeam en Jerobeam versterk hul posisies

Israel en Juda het hul onderskeie ryke versterk en vestings gebou waarin voedsel- en wapenvoorrade geberg is.  Die Leviete wat dwarsdeur die land stede en weivelde gehad het, het dit alles laat staan en na Juda getrek.  Talle burgers van Israel wat in die ware godsdiens volhard het, het Israel verlaat en hulle in Jerusalem gaan vestig.   Jerobeam het in Sigem gaan woon.

2 .  Goue kalwers

Baie van Jerobeam se mense het na Jerusalem verhuis omdat die stad en die tempel hulle bekoor het.  Jerobeam het nie daarvan gehou nie en ʼn plan gemaak om dit te probeer stop.  Hulle moes nie langer vir godsdiensdoeleindes Jerusalem toe gaan nie.  Daarom het hy vir hulle twee goue bulkalwers laat maak om te aanbid.   Hy was nie verniet ʼn hele paar jaar in Egipte nie!

Nadat hy die bulkalwers in Bet-el en in Dan laat opgerig het, het hy die volk aangesê om die bulle as die gode wat hulle uit Egipte laat optrek het te aanbid.  Heidene het  bulle is as vrugbaarheid-simbole beskou.  Daarom is Baäl dikwels met horings op die voorkop uitgebeeld, en daarom het Jerobeam se nuwe godsdiens ʼn seksuele ondertoon gehad.

Jerobeam het egter voorgegee dat dit nie nuwe gode was nie, maar dieselfde wat in Jerusalem vereer is.  Die goue bulle was niks anders as simbole van die ware godheid nie.  Nie almal was hiermee gediend nie.   Ahia het hom bv. hierteen verset (1 Kon.14:9; Hand.7:41) omdat dit ʼn oortreding van die tweede gebod was soos eeue tevore in die woestyn.  Wat was Jerobeam se doel met die afgode?  Hy wou sy ryk versterk deur godsdiens in diens van die politiek te plaas!

Jerobeam het die plekke vir die afgodediens met voorbedagte rade gekies.   Bet-el was op die grens van Benjamin en Efraim, ongeveer 16 km. noord van Jerusalem.  Hy wou Jerusalem tart!   Bet-el het ʼn ryk geskiedenis gehad.   Dit was die plek waar Abram ʼn altaar gebou het (Gen.12:8).   Later het God hier aan Jakob verskyn (Gen.35:7).   Dit was ook die plek waar die verbondsark in die tyd van die Rigters gestaan het (Rigt.20:27).  Dan het weer ʼn heiligdom gehad wat deur ʼn kleinseun van Moses bedien is (Rigt.18:30).

Jerobeam het sy eiewillige godsdiens by ou heiligdomme aangeknoop en selfs manne wat nie uit die stam van Levi was nie priesters gemaak.  Daarna het hy die normale feestye verander en sy eie ingestel.  Hy het die huttefees van die sewende na die agtste maand verskuif om die kloof tussen Israel en Juda groter te maak.  Alles was daarop gemik om sy eie posisie te versterk.

3.  God oordeel Jerobeam

Wat vir Jerobeam die hoogtepunt van sy strewe was, was die einde van God se geduld met hom.  God het sy oordeel tydens ʼn feesgeleentheid met ʼn profesie deur ʼn onbekende man oor Jerobeam laat aankondig.   Dit sou tot in die fynste besonderheid in vervulling gaan (2 Kon.23:15-20).

Jerobeam het hom nie aan die oordeelsaankondiging gesteur nie en met die fees voortgegaan.  Toe die onbekende profeet voorspel dat die altaar uitmekaar sou skeur, het die ontstelde Jerobeam sy hand bo die altaar geplaas en opdrag gegee dat die godsman gevang moes word.  Daarop het sy hand styf geword en die altaar geskeur!

Toe dit gebeur, het Jerobeam besef dat God hom straf.  Daarom het hy die man gesmeek om tot God te bid om hom te genees.   In die uitdrukking jou God lê sy erkenning dat die onbekende man God se gestuurde was.   Daarna het hy gebid en is Jerobeam se hand genees.   Toe Jerobeam ʼn geskenk aan hom wou gee, het die man dit van die hand gewys en vertrek.

4.  Die profeet van Bet-el

In Bet-el was daar ʼn profeet wat nie met Jerobeam se handelswyse saamgestem het nie.  Toe hy van die onbekende man se optrede hoor, het hy hom met ʼn esel agternagesit en vir ete genooi.  Die man het dit van die hand gewys omdat God hom beveel het om by niemand te vertoef nie.  Toe die profeet voorgee dat God hom aangesê het om hom vir ete te nooi, het hy dit aanvaar en omgedraai.

Tydens die ete het die Here met die ou profeet gepraat.  Sy gas was ongehoorsaam aan sy opdrag en sou gestraf word.  Hy sou sterf en nie by sy gesinslede begrawe word nie.  Dit was ʼn harde straf.  Wie nie by sy mense begrawe is nie, is as deel van die goddelose beskou (Gen.47:29,30; 50:25; Jes.53:9).   Met die terugtog is die ongehoorsame man deur ʼn leeu verskeur.  Waarom die profeet nie ook gestraf is nie, word nie gesê nie.   Dit gaan in hoofsaak oor God se straf oor Jerobeam; iets wat nie lig opgeneem moes word nie.

5.  Abia, die seun van Jerobeam

Rehabeam en Jerobeam het beide seuns met die naam Abia gehad.  Dit beteken die Here is my Vader. Rehabeam se seun het hom as koning van Juda opgevolg terwyl Jerobeam s’n jonk oorlede is.  Toe lg. siek word, was Jerobeam baie bekommerd.  Hy het aan die profeet Ahia se belofte dat hy koning oor Israel sou word gedink asook die voorwaarde – hy moes in God se weë wandel.   Jerobeam het besef dat hy in gebreke gebly het om dit te doen en Ahia dringend moes sien.  Omdat hy bang was vir ʼn skrobbering, het hy sy vrou vermom en met geskenke na Ahia gestuur om te verneem wat met sy seun sou gebeur.  Die vermomming was onnodig want Ahia was blind.  Nogtans het God hom oor die besoek ingelig en hom ʼn boodskap vir haar gegee.

Toe sy by hom kom, het hy die boodskap van God oorgedra.  Jerobeam se sonde het hom ingehaal.   God het hom uit onbeduidendheid tot koning verhoog, maar omdat hy ongehoorsaam was, sou hy gestraf word.   Sy huis sou so deur oproer en oorlog verswelg word, dat niks daarvan sou oorbly nie.  Daarmee het die blinde profeet meer as 200 jaar in die toekoms die Assiriese ballingskap (721v.C) gesien.  Toe die vrou tuiskom, is die seun oorlede.

Vervolg...