DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 6
ASA EN SY TYDGENOTE
1 Kon 15:9-15;25-16:7; 2 Kron 14:9-15; 1 Kon 16:8-28;
2 Kron 16:12-14; 17:1; 18:1
1. Asa se hervorming
Abia het sy vader Rehabeam as koning in Juda opgevolg en deur God se mag ʼn groot oorwinning oor Jerobeam (Israel) behaal. Abia was egter nie ‘n gelowige nie. God het hom slegs ter wille van Dawid geseën. Jerobeam is twee jaar nadat Asa vir Abia as koning in Juda opgevolg het oorlede. Abia is egter jonk oorlede en deur sy jonger broer Asa opgevolg.
Asa was ‘n gelowige soos Dawid en gedoen wat reg was. Hy het vir 41 jaar regeer. Die eerste 10 jaar was rustig omdat Israel baie verswak was. In hierdie tyd het Asa hom met godsdienstige en militêre aangeleenthede besig gehou. Hy was ʼn hervormer en het al die vreemde altare en heidenhoogtes laat verwyder. Daarna het hy tempelprostitute belet en afgode vernietig. Op militêre gebied, het hy die land versterk deur vestings te bou; ʼn verstandige ding om in tye van vrede te doen. Hierdie voorsorgmaatreël sou die verwagte vrugte afwerp.
2. Asa verslaan die Kusiete
Daarna het Serag, ʼn Kussiet, met ʼn miljoen krygers teen Juda opgetrek. Wie hy was, is nie seker nie. Hy het geen koninklike titel gedra nie. Hy was heelwaarskynlik ʼn bendeleier wat ʼn klomp mense in die woestyn saamgesnoer het. Rowers het graag ryker gebiede vanuit hulle arm woongebiede aangeval.
Serag het nuus gemaak toe hy Juda tot by Maresa binnegedring het. Toe Asa die dood in die gesig staar, het hy God om hulp gebid waarna God die Kussiete in sy hand gegee het. Daarna het Asa hulle agternagesit en met ʼn groot buit na Jerusalem teruggekeer.
Hierdie oorwinning het vir ʼn geestelike oplewing in Juda gesorg. Die prediking van Asarja het harte bereik waarná Asa sy hervormingsoptrede verskerp het. Hy het uit die buit ʼn offerfees gehou waartydens 700 beeste en 7 000 kleinvee in Jerusalem geslag is. Daarna het die volk opnuut trou aan God gesweer. Elkeen wat geweier het, is doodgemaak (Deut.17:2-7). Asa het selfs sy eie moeder wat afgode gedien het, laat opsluit. Dit was in sy 15e regeringsjaar. Juda was dankbaar vir die godsdienshernuwing en tevrede dat ʼn nuwe verbond met God aangegaan is.
3. Nadab koning van Israel
Jerobeam is twee jaar ná Asa se troonsbestyging oorlede waarna sy seun Nadab koning oor Israel geword het. Hy was ʼn booswig en het met Juda oorlog gemaak. Intussen het die Filistyne weer op die toneel verskyn en die stad Gibbeton, die eiendom van die Leviete, verower. Toe Nadab dit beleër het, het Baesa ʼn suksesvolle staatsgreep uitgevoer en Nadab vermoor. Daarna het hy koning van Israel geword.
Konings wat nie langs die normale weë die troon bestyg het nie, is wederregtelikes genoem. Israel het ʼn hele paar van dié kalante gehad! Die wederregtelikes het almal op dieselfde wyse te werk gegaan. Hulle het die koningshuis van hul voorgangers vernietig. God het egter Baesa gebruik om sy straf oor die huis van Jerobeam te voltrek.
4. Baesa koning van Israel
Asa het twee jaar in Jerusalem regeer toe Baesa koning van Israel geword het. Baesa het ná Asa se hervormings teen Juda opgetrek omdat baie van sy mense uit Efraim en Manasse na Asa oorgeloop het. Daarom het Baesa ‘n versperring by Rama (halfpad tussen Jerusalem en Bet-el) gebou om te verhoed dat mense oor die grens gaan.
Daarna het Asa, om sy hand teen Israel te sterk, ʼn bondgenootskap met Benhadad die koning van Aram in Damaskus gesluit. Aram was van oudsher vyandig teen Israel (1 Kon 11:25). Toe Asa en sy nuwe bondgenoot Israel aanval, kon Baesa nie langer in Rama bly nie. Asa het al die manne van Juda opgeroep en vestings in die land van Benjamin begin bou. Hy sou die grens voortaan met die vestings by Geba en Mispa beheer (Jer.41:9).
Hierdie bondgenootskap het nie God se goedkeuring weggedra nie. Asa moes op God alleen vertrou het! Daarom het die profeet Hanani hom ernstig berispe. Asa sou buitendien met God se hulp Benhadad saam met Baesa verslaan het. Gelowiges moenie by ongelowiges hulp soek nie. God gee altyd oorwinning (Mt. 6:33).
Asa het God nie vertrou nie en op buitelandse verhoudings staat gemaak. God sou Juda met oorloë straf. Asa was onthuts en het nie Dawid se voorbeeld gevolg nie (1 Kron.21:8). Hy het kwaad geword en die profeet laat opsluit. ‘n Paar volksgenote wat sy optrede teenoor die man van God veroordeel het, het dit ook ontgeld!
5. Simri net vir een week koning
God het Jehu, die seun van Hanani, met ʼn boodskap na Baesa gestuur. Baesa was ʼn tugroede in God se hand om die huis van Jerobeam uit te roei. Omdat hy nie anders as Jerobeam opgetree het nie, is dieselfde oordeel oor sy huis aangekondig. Dit sou egter eers na sy dood voltrek word. Sy seun, Ela, was minder as twee jaar lank koning toe hy deur Simri, ʼn strydwa-owerste gedood is. Daarmee is die hele huis van Baesa uitgewis.
Simri sou slegs een week lank koning wees. Omri, die leëraanvoerder by Gibbeton, was die gewildste leier. Sy leër het nie van Simri gehou nie. Daarom het hulle Omri koning gemaak. Daarna is hy na Tirsa om Simri aan te val. Toe die stad beleër is en Simri besef dat sy klok gaan lui, het hy selfmoord gepleeg. Hy het die laaste brug aan die brand gesteek en in die vlamme omgekom. Hy wou nie in die hande van Omri val net om eerloos tereggestel te word nie.
6. Omri koning van Israel
Omri was op daardie tydstip nie die onbestrede koning van Israel nie. Die leër het hom koning gemaak. Hy was niks meer as ʼn soldatekoning nie. Een gedeelte van Israel het Omri gesteun terwyl ʼn ander deel ʼn onbekende met die naam van Tibni gesteun het. Die Omri-groep was egter sterker. Toe Tibni sterf, het Omri in die 31e jaar van Asa die onbestrede koning van Israel geword. Dit was vier jaar na Simri se dood.
Omri sou 12 jaar lank regeer. Hy was egter nie goed nie. Hy het ʼn nuwe hoofstad, Samaria, aangelê omdat Sigem, die eerste hoofstad van Israel, moeilik verdedigbaar was. Hy self het in Tirsa gebly. Samaria is na Semer, die eienaar van die berg waarop die stad aangelê is, vernoem. Omri het die grond van hom gekoop. Alhoewel daar nie veel oor Omri gesê word nie, het hy hoë aansien aan Israel besorg. Lank ná sy dood is daar nog na Israel as die land van Omri verwys.
7. Asa se dood
Toe Omri oorlede is, is hy in Samaria begrawe. Asa was toe ook al oud en het swaar geloop. Hy het afvallig geraak deur God nie om genesing te nader nie, maar eerder al sy vertroue in die dokters van sy tyd te lê. Ná sy dood het sy seun Josafat koning geword en 25 jaar oor Juda regeer. In hierdie tyd het Agab koning van Israel geword. Nadat Josafat met Agab se suster getroud is, het die vyandskap tussen Juda en Israel tot ʼn einde gekom. Dit het ʼn era van samewerking ingelei waarop die OT in diepte ingaan.
Vervolg...