STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (48)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 8

ELIA EN ELISA

1 Kon 19

"God sou die lewe van die 7 000 wat die knie nie voor Baäl gebuig het nie spaar. Elia was dus nie al gelowige oor soos wat hy op ʼn stadium gedink het nie.  Kragtens die wonder van die uitverkiesing bly daar altyd ʼn oorblyfsel oor waarmee God verder werk (Rom.11:5). Dis vandag nog waar!"

1.  Elia by die berg Horeb

Nadat Agab tuisgekom en Isebel van die slagting van haar profete by die Kisonspruit verwittig het, was sy woedend.  Alhoewel Agab dit self aanskou het, het hy nie ingegryp en die booswigte probeer red nie.   Daarvoor was die volk net te oortuig van God se kragtige werking.   ʼn Verkeerde opdrag kon ʼn hewige stryd in der midde ontketen het.   Daarbenewens was Agab se hart nie werklik by afgodery nie.  Hy het die heidene slegs ter wille van sy vrou geduld.   Hy was uiteraard die een wat Elia se uitdaging aanvaar en die volk byeen laat kom het.   Gevolglik het hy die uitslag aanvaar.

Isebel het dit egter nie aanvaar nie en onmiddellik wraak gesweer.  Daarna het sy ʼn boodskapper na Elia gestuur om te sê dat hy binne 24 uur doodgemaak sou word.    Sy wou hom dood hê ongeag die volk se agting vir hom.  Sy kon nie op Agab se samewerking staatmaak nie omdat hy Elia laat begaan het.   Daarom het sy Elia probeer bangmaak sodat hy kon vlug en hulle van hom ontslae sou wees.

Elia het gevlug.   Hy was ook maar net ʼn mens en bang (Jak.5:17).  Tydens sy vlug in die woestyn het hy met God in gebed geworstel.   Hy het sy taak as afgehandel beskou.   Daarbenewens was sy liggaam uitgeput.  Hy het geglo dat die einde van sy lewenshoofstuk aangebreek het.

2.   Elia onder die besembos

Elia het saam met sy dienaar suidwaarts na Bersèba in Juda gevlug.   Daar het hy die dienaar agtergelaat en die woestyn ingegaan om alleen met God te wees.  Na ʼn dagreis het hy onder ʼn besembos gaan lê en gewens om te sterf.  Dit was ʼn ambivalensie.  Terwyl hy ter wille van sy lewe gevlug het, wou hy liewer sterf!   Die troostelose gedagte dat sy werk en stryd selfs tevergeefs kon wees as Isebel hom vind, het by hom bly spook.   Hy wou liewer slaap om nooit weer wakker te word nie.

Die slaap het gekom, maar nie die dood nie.  In plaas van die doodsengel, het ʼn engel van God hom besoek (Hebr.1:14).  Hy moes opstaan en eet.  God het ʼn broodkoek voorsien wat op warm klippe gebak is en ʼn kruik met water.  Dit was die tweede keer dat God hom op ʼn wonderlike wyse van voedsel voorsien het.

Vir Elia het daar ʼn baie lang pad voorgelê.   Daarom het die engel hom ʼn tweede maal beveel om te eet anders sou die pad vir hom te veel word.   Deur die krag van hierdie dubbele maaltyd het hy 40 dae en 40 nagte tot by Horeb geloop.   Die tog van Bersèba tot by Horeb duur normaalweg nie so lank nie (Deut.1:2).  Dit spel een ding uit – hy was nie haastig nie.   Elia se reis was een van afsondering en selfondersoek.

Hy het by Horeb in ʼn spelonk gaan bly waar God met hom gepraat en gevra het wat hy daar maak. Elia het self daarheen geloop.   God het hom nie daarheen ontbied nie.  Daarna het hy teenoor God gekla dat sy volk die wet van God verlaat het.  Daarom het hy na die God van die wet by die berg van die wet gaan soek (Ex 3:1).  Hy het geglo dat hy God daar op ʼn besondere manier sou vind. Elia wou in die voetstappe van die ander profeet, Moses, staan aan wie hy sielsverwant gevoel het (Mt.17:3).

In sy sielestryd het Elia besluit om na Horeb te gaan.   God se sorgsame genade was vir Elia genoeg.   By Horeb het God Elia eers sy hart laat uitstort waarna Hy hom beveel het om op die berg te klim, ongeveer dieselfde plek waar Hy 800 jaar tevore aan Moses verskyn het (Ex 33:21).

Daar het God vir ʼn oomblik aan hom verskyn en verbygegaan.   Terwyl Elia in die spelonk geskuil het, is hierdie godsverskyning deur magtige verskynsels soos geweldige winde wat rotse versteur, ʼn aardbewing en vuur voorafgegaan.   God was nie daarin te vinde nie, maar wel in die vierde verskynsel – die sagte geruis van ʼn salige koelte.

Elia het net soos ʼn Moses van ouds met sy gesig in sy mantel toegedraai uit die spelonk gekom (Ex.3:6).   Daarna het God hom opdrag gegee om drie salwings waar te neem.  Elia moes namens God drie aanstellings maak.  Ongeag Isebel se dreigemente, het God groot planne met Elia gehad!

Die drie salwings was as volg:  Elia moes eerstens vir Hasael as koning oor Aram salf.  God het hierdie heidenkoning in die uitvoering van sy planne nodig gehad.   Tweedens moes Elia vir Jehu as koning van Israel salf.   Derdens moes hy vir Elisa, die seun van Safat, in sy plek as profeet salf.

Wat wou God met hierdie gesalfdes doen?   Hulle was instrumente in sy hand om straf mee uit te deel.   Wie aan Hasael ontkom het, sou voor die swaard van Jehu val en wie van Jehu vrygekom het, sou Elisa doodmaak.    Gelukkig was dit nie net ʼn saak van wraak nie, maar ook van genade.  God sou die lewe van die 7 000 wat die knie nie voor Baäl gebuig het nie spaar.  Elia was dus nie al gelowige oor soos wat hy op ʼn stadium gedink het nie.  Kragtens die wonder van die uitverkiesing bly daar altyd ʼn oorblyfsel oor waarmee God verder werk (Rom.11:5).  Dis vandag nog waar!

3.  Elisa geroep

Elia het by die derde opdrag begin en na Abel-Mehola, ʼn vrugbare vlakte suid van Bet San in die Jordaandal, vertrek waar Elisa geboer het.   Toe hy by hom verbykom waar hy besig was om te ploeg, het Elia sy mantel op hom gewerp.  Dit was dieselfde mantel waaraan hy altyd deur die mense as die profeet van God herken is (2 Kon 1:8).  Elia het Elisa geken en geweet dat hy opreg van hart was.   Daarom het hy hom ook toegelaat om van sy ouers en knegte afskeid te neem (Luk.9:61,62).   Elisa se versoek het nie uit vertwyfeling gevloei nie.  Hy het selfs sy osse geslag en vir sy mense voorberei.  Daarmee het Elisa sy ou werk gelaat en met ʼn nuwe een begin.

Vervolg...