STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (49)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 9

DIE OORLOG TUSSEN AGAB EN BENHADAD

1 Kon 20

1.   Benhahad soek moeilikheid

Verskeie Oosterse konings het die naam Benhadad gehad.  Die een van Aram was egter die verwaandste.   Die Arameërs was ’n talryke volk.  Sommige van die stamme het tot teenaan die Eufraat gewoon.    Die Grieke het hulle Siriërs genoem.  Benhahad van Aram se gebied was noord-oos van Israel met Damaskus as hoofstad.  Tydens Dawid se regering was die Arameërs ʼn onderworpe volk (2 Sam.8:5,6; 10:18).  Hulle het eers in die tyd van Salomo vir Israel ʼn redelike bedreiging begin word.

Toe Agab koning van Israel geword het, het Benhadad ʼn leër teen hom op die been gebring en 32 bondskonings saam met hom slagveld toe geneem.  Laasgenoemdes was eintlik stamhoofde wat soos konings oor elke Aramese stam regeer het.  Desondanks was hulle aan een sentrale regering in Damaskus onderworpe.   Benhadad het teen Samaria opgetrek en dit beleër.  Dit was die eerste beleg van hierdie stad wat deur Agab se vader, Omri, aangelê is.

Terwyl Agab in Samaria vasgekeer was, het Benhadad boodskappers na hom gestuur en alles wat kosbaar was aanmatigend opgeëis; self sy vroue en kinders!  Hulle is as besittings beskou en het gewoonlik ná ʼn nederlaag, slawe van die oorwinnaar geword.   Agab het besef dat die vyand gedug was en voorkomend baie toegeeflik opgetree.  Daarna het Benhadad nog meer vermetel opgetree.  Onder andere het hy Agab laat weet om nie die buit na hom te stuur nie omdat hy dit sommer self sou kom haal!  Daarna het Israel besluit om die Arameërs teen te staan.

2.    Redding

Net voor die geveg het ʼn profeet by Agab opgedaag en hom ingelig dat God aan hom die oorwinning sou gee sodat almal in Israel kon weet dat Hy die enigste God is.   Ofskoon Agab nie om hulp gevra het nie, was hy dankbaar vir die belofte en het eerste aangeval.  Sy manskappe het op die middaguur, toe niemand dit verwag het nie, die vyand aangeval waarna Benhadad se leër verslaan en hy gevlug het.   Kort hierna het dieselfde profeet weer na Agab gekom en hom gewaarsku dat die vyand ʼn jaar later sou terugkeer om Samaria vir ʼn tweede keer aan te val.

3.    Die tweede stryd

Die Arameërs het saam kajuitraad gehou en geglo dat Israel se gode berggode was.  Daarom het hulle die oorwinning in die bergagtige deel van Samaria behaal.    Indien hulle in ʼn vlakte aangeval kan word, sou die bordjies verhang word.  Heidene het geen benul van God se alomteenwoordigheid nie.  Hulle afgode is gebiedsgebonde.

Benhadad het destyds besluit om met die provinsiale konings weg te doen en hulle met goewerneurs te vervang.   Die konings het heelwaarskynlik te selfstandig na sy smaak opgetree sodat ʼn sentralisasie van die opperbevel nodig was.   Dit het tot ʼn hersamestelling van militêre mag gelei .

ʼn Jaar later het die profeet Agab weer teen Benhadad kom waarsku.  Agab het God weereens nie om hulp gevra nie.  God het self by sy volk betrokke geraak omdat Hy nie wou hê dat Israel in die hand van heidene val wat Hom as ʼn berggod beledig het nie.   Hy sou hulle wys dat Hy oral is – op die berge, op die vlaktes, ja, oral!

Hulle was sewe dae teenoor mekaar gelaer waarna die stryd begin en Israel 100,000 vyandelike voetsoldate verslaan het.   Die oorblywende 27,000 man het na Afek gevlug waar die stadsmuur op hulle geval het.  God het sy eer op ʼn kragtige wyse gehandhaaf.

Benhadad het saam met ʼn paar vlugtelinge van vertrek na vertrek gevlug.  Toe alles tevergeefs lyk het hy van sy dienaars uitgestuur om by Agab vir sy lewe te gaan pleit.   Agab was verras dat Benhadad nog geleef het en toe ʼn flater begaan.    In ʼn opwelling van ydele goedhartigheid het hy Benhadad as sy broer aangespreek en hom langs hom op die wa laat klim.  Dit was ongehoord en ʼn gruwel in die oë van God!

4.  Die verbond tussen Agab en Benhadad

Daarna het Benhadad met baie toegeeflike vredesaanbiedings vorendag gekom.  Nie dat hy ‘n ander keuse gehad het nie!  Hy het beloof om selfs dit wat hy van Omri, Agab se vader, geroof het, persoonlik terug te besorg.   Daarna het Benhadad skotvry na Damaskus teruggekeer.

5.  Agab doen verkeerd

Agab het verkeerd teenoor sy vyand opgetree.  God het dit juis beskik dat die wrede Arameër as deel van God se straf teen die heidene in Agab se mag beland.   Hoe durf Agab hom straffeloos laat gaan het?  God het dié fout op sinnebeeldige wyse onder Agab se aandag gebring deur ʼn profeteseun te gebruik wat hom soos ʼn oorlogsverwonde voorgedoen het.   Hy was kwansuis in die pekel en wou Agab om raad vra.  Hy vertel hom toe dat hy ʼn krygsgevangene moes oppas, maar hom deur sy eie nalatigheid laat ontsnap het.

Nadat Agab ʼn gepaste oordeel oor die agterlosige man uitgespreek het, het hy sy vermomming verwyder en God se oordeel oor Agab uitgespreek.   Omdat Agab sy vyand, strydig met God se uitdruklike opdrag, nie met die banvloek getref het nie, sou God daardie oordeel omkeer en op Israel laat neerkom!   Benhadad was eerstens nie Agab se vyand nie, maar God s’n.  Agab se geestelike afvalligheid het hom aan geloofsopmerksaamheid laat ontbreek.

Agab is twee keer deur profete besoek wat oorwinnings aangekondig het.  Deels om hom uit sy moeilikheid te red, maar ook om die vyand te laat verstaan dat Hy die enigste ware God was.   Agab het dit nie verstaan nie en die oorwinning, wat hy as geskenk van God ontvang het, as’t ware in sy gesig teruggegooi.  Agab het egter geen berou oor sy sonde getoon nie en verbitterd na sy huis teruggekeer.  Hy het in eie reg opgetree en nie as ʼn koninklike dienaar van die ware Koning van Israel nie.  Dit sou hom duur te staan kom!

Vervolg...