STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (50)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 10

NABOD WORD VERMOOR

1 Kon 21;22:1-40

1.   Aanleiding tot moord

Agab het in Samaria gebly.   Omdat dit in die somer baie warm in Samaria geword het, het Agab ook ʼn paleis op ʼn stuk erfgrond in Jisreël, noord van Samaria, gehad.   Hierdie plaas was aan die voet van Gilboa waar Saul selfmoord gepleeg het.  Dit was ʼn vrugbare gebied wat tydens die verdeling van Kanaän aan Isaskar toegewys is.

Agab se buurman Nabot was ʼn wingerdboer; ook op erfgrond.   Agab het sy druiweplaas begeer en kon maklik sy buurman laat onteien het.   Hy het dit egter nie gedoen nie en hom eerder ʼn aanbod daarvoor gemaak.  Nabot het sy aanbod egter van die hand gewys omdat dit erfgrond was.   Hy het baie waarde aan familiebesit geheg en geglo dat God dit so beskik het.   Agab was teleurgesteld maar het nie sy koninklike mag gebruik om hom te onteien nie.    Dit het hom egter nie verhoed om soos ʼn stout kind daaroor te tob nie.

2. Isebel se bose plan

Isebel het besluit om sake nie daar te laat nie en ʼn plan beraam om Nabot se plaas te bekom.  Nadat sy met Agab se onwilligheid om sterk op te tree gespot het, het sy besluit om die konserwatiewe druiweboer ʼn les te leer.  Haar jarelange verblyf in Israel het haar met die gebruike van die volk vertroud gemaak sodat sy haar plan daarvolgens beraam het.   Sy sou twee valse getuies betaal om te getuig dat Nabot God en Agab gevloek het.   Wie die koning gevloek het, het God gevloek omdat hy as God se verteenwoordiger op aarde geag is (Spr.24:21).   So ʼn persoon is gewoonlik gestenig.

Isebel het ʼn nasionale vasdag laat uitroep.  Vasdae het altyd oor baie ernstige sake gegaan wat soos ʼn alarm oor die land weerklink het.    Samuel het by geleentheid so ʼn vasdag oor Israel se sondes laat uitroep (1 Sam.7:6).   Vasdae is ook ten tye van oorlog, ramp of gevaar uitgeroep.  Mense was altyd gespanne oor die rede daarvoor.  Die oudstes van die volk het gewoonlik die aankondiging gedoen.   Dit het gewoonlik oor ʼn groot skuldlas of ergerlike sondaar onder die volk gehandel.

Gevolglik het Isebel se oproep die inwoners van Jisreël onrustig gemaak.   Dat sy valse getuies gevind het, het van hulle vrees vir haar getuig.   Die wet van Moses het twee getuies vereis (Deut.17:6).   Nabot is op die voorpunt geplaas waar almal hom kon sien en twee skurke oorkant hom.  Nabot was kwansuis die rede vir die vasdag.  Beskuldigdes is gewoonlik uit die staanspoor verdink, veroordeel en dadelik tereggestel soos dan ook met Nabot gebeur het.   Christus sou eeue later ook op grond van valse getuienis skuldig bevind en tereggestel word!

3.   Die oordeel oor Agab en Isebel

Toe Agab die wingerd in besit neem, het hy sy eie doodvonnis onderteken.  God het Elia gestuur toe hy die moordgrond gaan besigtig het en hom veroordeel.  Honde sou sy bloed op dieselfde plek as dié van Nabot lek.   Met honde word rondloperhonde bedoel wat van aas en afval geleef het.  Agab se dood sou smadelik wees.

Agab was hewig ontsteld oor die profeet se verdoemende oordeel en het hom daarna as sy vyand gebrandmerk.  Elia was alewig in sy bose pad!   Eers het Agab hom ʼn beroerder van Israel genoem en daarna sy vyand.   Elia het egter nog slegte nuus vir Agab gehad – God sou al die manlike lede van sy huis laat uitroei!

Agab het homself lelik in die voet geskiet.   Hy het nou wel die begeerlike druiweplaas gekry, maar terselfdertyd God se oordeel oor hom en sy huis gehaal.   Hy het Elia egter geen kwaad aangedoen nie, maar in ʼn bedrukte stemming berou getoon.   Die boetekleed wat hy aangetrek het, het God geval waarna Elia hom laat weet het dat hy self nie die oordeel sou beleef nie, maar wel sy seun.

4. Agab se laaste jare

Die verhouding tussen Israel en Juda het baie verbeter - van vyandskap na vriendskap.  Josafat, die koning van Juda, het met Agab vrede gesluit waarna Agab hom aangespoor het om saam met hom Ramot te herower.  Ramot was aanvanklik een van die ses vrystede (Jos.20:8) en in die dae van Salomo die setel van een van sy 12 bestuurders (1 Kon.4:13).   Daarna het die Arameërs dit van Israel verower.

Toe Josafat sy 400 beroepsprofete na die wil van God oor die aangeleentheid gevra het, het hulle hom laat weet dat dit God geval het.   Josafat was egter ongemaklik hiermee en het vir ʼn profeet in Israel gevra.  Die naam van Miga, seun van Jimla, is genoem.    Agab het niks van Miga gehou nie omdat hy by geleentheid teen Agab geprofeteer het waarna hy in die tronk gestop is.

Desondanks is Miga ontbied.   Toe hy praat, het die beroepsprofete geweet dat hy ʼn ware profeet was omdat hy die koning nie na die mond gepraat het nie.   Alhoewel Agab bang was om die waarheid te hoor, wou hy nogtans hoor wat God sê.   Daarna het Miga die boodskap van God onbevrees oorgedra - Israel is soos skape sonder ʼn herder op die berge verstrooi.   Die betekenis was duidelik - Israel sou geen oorwinning behaal nie en soos skape sonder ʼn herder (Agab) verstrooi word.   God se boodskap het Agab nie verhoed om sy eie kop te volg nie.   Josafat het slegs saamgegaan omdat hy Agab bystand beloof het.

Agab het besluit om hom soos ʼn gewone strydwa-soldaat te klee en Josafat die koninklike gevegsgewaad  te laat dra.  Wat Agab nie geweet het nie, was dat die koning van Aram, wat allermins vir die oorlog lus was, hom laat dophou en spesifiek geteiken het.   Tydens die geveg het ʼn Aramese boogskutter ʼn pyl afgeskiet sonder om te korrel.   God het beskik dat hierdie pyl Agab tussen die pantsers getref het.   Hy daardie nag weens bloedverlies dood.

ʼn Strydwadrywer het die volgende oggend die lyk van Agab na Samaria geneem waar hy terstond begrawe is.   Na afloop van die begrafnis het hulle Agab se bloed wat die vorige dag op die strydwa gedrup het by ʼn dam gaan afwas.   Toe hulle by die wa kom, was honde besig om daaraan te lek soos voorspel is.

Vervolg...