DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 11
JOSAFAT
1 Kon 22:41-54; 2 Kron 17;19:4-11; 20
1. Ingrypende hervormings
Josafat was ʼn gelowige. Nogtans het hy nie die hoogtes waar daar geoffer is, afgeskaf nie. Daar was twee soorte hoogtes – dié van die Kanaäniete en dié van Israel. 2 Kron.17:6 meld dat Josafat die hoogtes en heilige boomstamme laat verwyder het omdat Baäl daar aanbid is. Israel se hoogtes is selfs voor die bou van die tempel gebruik (1 Kon.3:2). Samuel was veral bedag daarop dat geen heidense gebruike by hierdie hoogte-offers ingesluip het nie (1 Sam.9:13,19,25). Ná die tempelbou het Israel egter aangehou om op die hoogtes te offer. Ten spyte van die gevaar dat dit met heidense elemente vermeng kon raak, het Josafat dit laat voortgaan.
2. Onderwys en regspraak
Josafat het ʼn godsdienshervorming in Juda gebring en sy onderdane in die wet laat onderrig. Dit was die eerste en enigste keer in die geskiedenis dat sulke onderrig van stapel gestuur is. Esra het dit ook later onderneem (Esra 7:10). God het sulke onderrig hoog geag (Lev.10:11; Deut. 4:14; 33:10). Josafat het ʼn aantal kundiges uitgestuur om wetsonderrig (boeke van Moses) in al die stede van Juda te gee. Dit het Juda se geestelike peil aansienlik verhoog waarna Josafat ʼn kosbare regsbeginsel in werking gestel het: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie vir die mens, maar vir God, die reg! Hy is by julle in regspraak!” (2 Kron.19).
3. Die voorspoed van Josafat
Omdat Josafat in die weë van Dawid gewandel het, het God hom geseën. Hy het hom so goed van sy taak gekwyt, dat mense hom met geskenke oorlaai het. Die plaaslike owerhede het sy gesag eerbiedig. Omdat hy baie dapper krygers gehad het, het hy selfs buitelandse agting geniet. God het ook gesorg dat die omringende nasies Juda met rus gelaat het. Selfs die Filistyne en Arabiere het vir Josafat geskenke gebring. Geen wonder dat Agab in hom ʼn goeie bondgenoot in sy stryd teen Aram gesien het nie. Josafat moes egter nooit hierdie bondgenootskap aanvaar het nie. God het hom later gestraf deur die Moabiete en Ammoniete teen hom te laat optrek.
4. Josafat roep ʼn vasdag uit
Toe Josafat berig van die vyandige opmars ontvang het hy ʼn vasdag uitgeroep sodat die volk hul voor God kon verootmoedig. Die vyand het in groot getalle van anderkant die Dooie See af opgetrek en was al by Engedi oppad na Jerusalem toe! Josafat was baie bang. Hy het nie uitsluitlik op sy krygshelde vertrou nie. Gevolglik het hy die regte ding gedoen toe hy God met ʼn vasdag geraadpleeg het.
Nadat die volk in groot getalle by die tempel byeengekom het, het Josafat tot God gebid en Hom as die God van die vaders en Heerser oor al die koninkryke van die aarde aangespreek. Hy het sterk op die verbond gepleit en God die vriend van Abraham genoem. God het sy gebed dadelik verhoor deur sy Gees op Jahasiël, ʼn Leviet, te laat kom en Josafat te laat weet dat hy hom nie verder moes bekommer nie. Die veiligheid en toekoms van Juda was nie langer sy saak nie, maar God s’n. Juda sou nie eens die wapen opneem nie, maar die verbysterende redding van God aanskou (Ps.91). Daarna het Josafat en die volk God geloof en geprys.
5. God red!
Juda het op God vertrou en die volgende dag die vyand tegemoet getrek. Toe Josafat sangers in gewyde gewade opgestel het, het God ʼn gees van verwarring onder die vyand gestuur sodat hulle mekaar uitgewis het soos op die dag van Midean (Rigt.7). Dit het Juda drie dae lank geneem om die buit in te samel. Op die vierde dag het hulle God geloof en die plek Lofdal genoem. Daarna is hulle terug na Jerusalem en reguit na die tempel toe. God het immers hulle stryd gestry en sy verbond gehou. Hy het nie toegelaat dat die vyand Juda uit die besitting wat Hy vir hulle gegee het, verdryf nie!
6. Die vaart na Ofir
Die Rooisee word in die suide van Israel met die Indiese Oseaan verbind. Vroeë seevaarders het hiervandaan teen die kus van Afrika afgevaar om handel te dryf, veral met die land Ofir wat vir sy goud bekend was. Israel het die hawens van Elat en Eseon-Geber aan die Golf van Akaba vir Salomo se vloot aangelê. Om dit te kon doen, moes Israel seggenskap oor Edom hê soos in die dae van Salomo en Josafat. Josafat het Edom destyds deur ʼn landvoog laat regeer.
Josafat wou by geleentheid goud in Ofir gaan haal en ʼn hele aantal Tarsus-skepe vir hierdie doel laat bou. Tarsus was in die weste (Spanje). Tarsus-skepe was spesiaal ontwerpte vaartuievir lang seevaarte. Josafat se skepe is heelwaarskynlik deur Fenisiërs gebou. Hulle was nie net goeie seevaarders nie, maar ook ervare skeepsbouers. Hulle het byvoorbeeld al Salomo se skepe vir hom gebou.
Josafat was nie so ʼn begeesterde seeman soos Salomo nie. Nadat hy met Ahasia ʼn bondgenootskap gesluit het, het ʼn onbekende profeet, Eliëser, ʼn boodskap van God aan hom gebring. Sy seehandel sou misluk. Kort hierna het die skepe net buite die hawens gestrand! Die kapteins het heelwaarskynlik op ʼn noordewind gewag toe God ʼn sterk suidewind laat opkom het. Dit het die skepe teen die kus gedryf en laat vergaan. Toe Ahasia nuwe skepe wou laat bou, het Josafat kop uitgetrek. Hy het besef dat ʼn samewerking met goddeloses geen voorspoed gebring het nie. Juda het geen bondgenootskap nodig gehad nie. God was groot genoeg om haar van al haar vyande te verlos en liefdevol genoeg om in al haar stoflike behoeftes te voorsien.
Vervolg...