STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (53)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 2

JORAM KONING VAN JUDA

2 Kon 8:16-29; 2 Kron 21,22

1.  Twee swaers

Daar was nie net een Joram nie, maar twee; een in Israel en die ander in Juda.   Toe Ahasia, die seun van Agab, sonder ʼn seun sterf, het sy broer Joram koning van Israel geword.   Ná Josafat se dood het sy seun, ook ʼn Joram, koning van Juda geword.   Hy was goddeloos en het die Baäldienste in Juda hervestig.   Sy naamgenoot in Israel het weer die Baäldienste afgeskaf.

Die skrywer van Kronieke teken afgodsdiens as geestelike hoerery aan.  Dit herinner sterk aan die prostitusie wat in die Baäldiens bedryf is.  Die agtergrond van hierdie uitdrukking is interessant.  Die verhouding tussen God en sy volk is telkens met die verhouding tussen ʼn huwelikspaar vergelyk (Eseg.16:8).  Dit kom veral in die boek Hosea sterk na vore.   Wanneer Israel ander gode gedien het, was sy soos ʼn losbandige vrou.

Die rede vir Joram se goddeloosheid was aan sy huwelik met Atalia, die dogter van Omri, te wyte.  Die twee Jorams was dus swaers.   Atalia het ʼn bose invloed op haar man gehad net soos haar ma op haar pa.   In Jerusalem was daar naas die tempel ook ʼn Baältempel met priesters (2 Kon.11:18).  Dis heelwaarskynlik deur Atalia laat oprig.  Wat Isebel in Samaria gedoen het, het Atalia in Jerusalem gedoen (1 Kon.16:32).

2.   Broedermoord

Joram se goddeloosheid het tot moord op sy broers gelei.  Joram was die oudste.   Sy vader het hom die koningskap belowe en groot geskenke aan die ander seuns gegee.   Joram het hulle egter nie vertrou nie en as ʼn bedreiging vir sy toekoms beskou.   Daarom het hy almal laat vermoor.

Uit die brief wat Elia vir hom geskryf het, kan afgelei word dat sy broers teen die Baäldiens gekant was en die gees van hul oorlede vader geadem het.  Daarom het Elia hom laat weet dat sy vermoorde broers beter af was as hy.   Isebel het selfs die priesters van God laat doodmaak!

Die moord op sy broers sou vir Joram bittere gevolge hê.   Was dit nie vir God se genade nie, was dit die einde van Juda.  Daarvoor was die oortreding groot genoeg!   God het egter ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het Juda nie vernietig nie.  Hy het Dawid beloof om vir hom en sy nageslag altyd ʼn lamp te gee (1 Kon.11:36; 15:4).

In Oosterse huise het daar altyd snags lampe gebrand.  Dit was die teken van lewe.  As dit uitgeblus was, was dit ʼn teken van ʼn ramp of die dood (Job.18:6; 21:17).  God het Dawid beloof om sy huis altyd lewend te hou, ʼn belofte wat in Christus vervul is (Jes.9).   Joram sou egter nie God se straf vryspring nie.

3.  Die Edomiete raak van Juda afvallig

God het Juda gestraf.  Hy het Edom van Juda afvallig laat word waarna hulle self ʼn koning aangestel het.  Juda se mag was aan die kwyn.  In die opstand wat gevolg het, het Joram ter noue nood aan die dood ontkom en ontsnap.  God se genade moet ook hierin gesien word.  God het ter wille van Dawid nie toegelaat dat die vyand die koning van Juda in die hande kry nie.  Juda se oorlog teen Edom was ʼn groot mislukking.  Edom kon, tot en met die afhandeling van die Kroniekboek, nooit weer tot onderhorigheid gedwing word nie.

4.   Die Filistyne en Arabiere stroop Juda

Daarna het Libna, ʼn onderhorige stad teenaan die Filistynse gebied, van Juda afvallig geword waarna Filistyne en Arabiere strooptogte op Juda uitgevoer het.  Hulle was so suksesvol dat hulle selfs Jerusalem binnegeval en die paleis geplunder het.   Hulle het die inhoud van die paleis asook die koning se seuns en vroue weggevoer.   Net sy jongste seun, Joahas, het oorgebly.    Die wiel het vir Joram gedraai!   Hy wat sy broers vermoor het, moes toekyk hoedat al sy seuns, op een na, weggevoer word.   God sou sy belofte van ʼn brandende lamp gestand doen.

5.  Elia se brief

Joram het ʼn goddelike waarskuwing by wyse van ʼn brief van Elia, wat toe alreeds in die hemel opgeneem is, ontvang.   Elia het profeties vooruitgesien wat met Juda sou gebeur en het kort voor sy opname ʼn brief aan Joram geskryf wat later aan hom oorhandig is.   Hy is op sy sonde gewys nl. afgodery.  Hy sou God se straf voel!    Terwyl Juda geplunder is, het Joram so siek geword, dat sy ingewande uitgepeul het.  Hy is kort hierna dood sonder dat ʼn traan oor hom gestort is.   Hy is nie eens in die grafte van die konings begrawe nie.  Nog minder is daar wierook vir hom gebrand.

6.    Joahas volg Joram op

Joahas was die enigste oorlewende seun en het sy vader opgevolg.  Hy was net so goddeloos soos sy pa en het slegs vir een jaar in Juda regeer.   Met Atalia as moeder en raadgeefster, was hy van moederskoot af met die Baäldiens vertroud en het dit heelwaarskynlik ook bevorder.  Hy het saam met sy oom Joram van Israel teen Aram saamgespan.  Dit sou Joram se twaalfde en laaste jaar op die troon van Israel wees.  Beide van hulle is tydens ʼn staatsgreep deur Jehu om die lewe gebring.  Dit was een van die keerpunte in die Bondsvolk se geskiedenis.

Vervolg...