DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 4
NAäMAN WORD GENEES
2 Kon 5
1. ʼn Klein getuie in ʼn groot huis
Israel het nooit goeie verhoudinge met Aram gehad nie al het hulle soms teen vyande saamgespan.
Ná Agab se dood het Hahadeser, die koning van Aram, Israel nie aangeval nie omdat hy hulle in sy stryd teen die Assiriërs nodig gehad het. Tydens ʼn strooptog het van die Arameërs wel ʼn Joodse dogtertjie weggevoer en haar aan Naäman as slavin gegee. Hy was ʼn gesiene man wat na ʼn skitterende oorwinning oor die Assiriërs naam gemaak het.
God het nie net oor Israel se toekoms gewaak nie, maar ook ander volke se lotgevalle bestuur. In hierdie val was dit die Arameërs. God heers op alle slagvelde! Assirië was ʼn opkomende mag wat deur God in toom gehou is totdat Hy hulle as tugroede teen Israel gebruik het.
God het aan Naäman groot oorwinnings gegee omdat Hy van hom ʼn gelowige wou maak. Daarna het Hy hom melaats gemaak sodat hy die saligmakende getuienis van ʼn klein dogtertjie sou aanhoor. Om na Elisa te kon gaan, moes Naäman ʼn brief van sy koning aan koning Joram van Israel besorg.
Dat hierdie brief nie persoonlik aan Elisa nie, maar aan Joram gerig was, blyk uit die eertydse eenheid tussen staat en godsdiens in die Ooste. Alles het om die persoon van die koning gedraai. Hadadeser het Elisa as ʼn ondergeskikte beskou wat moes reageer indien die koning sy vingers geklap het. Daarom is Joram gevra om Naäman se melaatsheid weg te neem. Hadadeser het ook geskenke aan die profeet en almal wat by die genesing betrokke sou wees, saamgestuur.
2. Die wondergenesing
Die brief het Joram hewig ontstel. Was hy dan God wat gesondheid of siekte gee? Die nuus het vinnig deur Israel versprei en ook Elisa se ore bereik. Daarna het hy Joram versoek om die man na hom te stuur. Toe Naäman by Elisa opdaag, het hy hom nie verwerdig om van die wa af te klim nie. Elisa het ook nie na hom toe uitgegaan nie.
Gevolglik het dienaars oor en weer boodskappe gedra. Naäman het homself te vernaam beskou om in die profeet se huis te kom. Elisa daarenteen wou ook nie voor ʼn heiden kruip nie. Gevolglik het die profeet hom laat weet om hom sewe maal in die Jordaan te was. Dit sou hom genees; ʼn eenvoudige bevel met ʼn duidelike toesegging.
Naäman was onthuts toe die profeet nie na hom toe wou uitkom nie. Hy het gehoop dat die profeet ten minste ʼn nederige houding sou inneem en sekere rituele sou uitvoer ten einde die genesing te bewerkstellig. Elisa het inteendeel geen kennis van die heiden se waardigheid geneem nie. Naäman was ook nie gediend met die geneesmiddel nie - die Jordaan van alle riviere! Die riviere van Aram was syns insiens baie beter.
Naäman het egter besef dat as hy iets van Elisa se God wou hê, hy sy opdrag moes volg. Dis maar hoe geloofsgehoorsaamheid werk! Naäman het vererg omgedraai en weggery. Op pad terug na Aram moes hulle oor die Jordaanrivier gaan. Hier het een van sy dienaars hom oortuig om Elisa se raad te volg waarna hy genees is. Naäman het besef dat dit nie die Jordaan nie, maar God was wat die genesing gebring het.
3. ʼn Nuwe mens
Daarna het Naäman omgedraai en teenoor Elisa erken dat die God van Israel die ware God is. God het uit die mond van ʼn Arameër lof en erkenning ontvang. Toe hy ʼn geskenk wou aanbied, het Elisa dit geweier. Hy het die gawe van God gratis ontvang en gratis teruggegee (Mt.10:8). God se gawes word nie verkoop nie. Naäman het toe belowe om nooit weer aan afgode te offer nie.
Daarna het hy van Elisa grond gevra, soveel as wat ʼn paar muile kon dra. Hy wou dit na Damaskus neem om ʼn altaar vir God daarop te bou. Hy het God aan die grondgebied van Israel verbind. Dit dui op die noue verband tussen God en grond. In die Bybel word grond dikwels as ʼn erfdeel van God beskryf (1 Sam.26:19). Gelowiges weet dat hulle land ʼn gawe van God is.
Naäman het egter nog ʼn probleem gehad. Omdat hy die koning se regterhand was en oral met hom moes saamgaan, was dit ook sy taak om sy koning na die afgod Rimmon (ook Hadad genoem) te neem om daar te bid. Dit blyk dat Hadadeser se gesondheid nie goed was nie en dat hy op Naäman geleun het. Gevolglik was Naäman genoodsaak om saam met die koning te buig.
Wat moes hy nou doen? Pligsversuim kon hom sy lewe kos! Daarom het hy Elisa gevra of die Here hom dit sou vergewe? Hy sou dit sonder toewyding doen soos een wat daartoe geding is. Die vrag grond was nie nodig nie omdat God alomteenwoordig is en voor ʼn afgod mag ‘n gelowige die knie nie buig nie. Al wat Elisa vir hom gesê het, was om in vrede te gaan. God sou hom help!
4. Gehasi word melaats
Gehasi was nie ‘n voorbeeldige gelowige nie. Hy was bemoeisiek, eersugtig en geldgierig. Ná die vertrek van Naäman het die versoeking hom oorval. Elisa het die ryk Arameër laat weggaan sonder om ‘n geskenk van hom aan te neem. Gehasi het hom agternasit en met ʼn leuen silwer en twee stelle klere gekry. Dit was vir Elisa ‘n beginselsaak om geen geskenk van Naäman aan te neem nie. Daarom is Elisa se eer gekend toe Gehasi wel iets van Naäman aangeneem het.
Naäman was dankbaar om iets kon gee. Hy het Gehasi selfs meer as die verlangde items gegee. Daarna het Gehasi die geskenke weggesteek. Toe Elisa hom vra vanwaar hy kom, is Gehasi die kans gebied om sy sonde te bely. Hy hét egter nie, en voorgegee dat hy nêrens was nie. Daarna het Gehasi geskok ontdek dat Elisa van alles geweet het. Hy was immers ʼn profeet. Daarna het Gehasi melaats geword; hy en sy hele nageslag. Hy het in die dodelike slagyster van selfverryking getrap waarteen die Bybel dikwels waarsku (1 Tim.6:9,10).
Vervolg...