STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (57)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 6

JEHU KONING VAN ISRAEL

2 Kon 8-9

1.   ʼn Vrou kry haar eiendom terug

By geleentheid het Elisa die seun van ʼn Sunamitiese vrou uit die dood opgewek.  Sy en haar man het hom dikwels herberg verskaf.   Kort na haar man se dood het daar hongersnood in die land gekom en het Elisa haar aangeraai om vir ‘n tyd lank in die land van die Filistyne te gaan woon waar daar volop kos was (Rigt.15:5).   Daar word nie gesê dat die hongersnood weens droogte was nie.  Oorlog, strooptogte en sprinkane het ook hongersnode veroorsaak.

Hoe sy haar eiendom verloor het, word nie gesê nie.  Eiendom wat vir ‘n lang tydperk alleen gelaat is, het staatseiendom geword.   Toe sy later terugkeer, moes sy ʼn beroep op die koning doen om haar eiendom en die opbrengs van haar grond terug te kry.

Sy moes alles self reël omdat haar seun nie oud genoeg was om dit te doen nie.  Die OT maak dikwels van die ongunstige omstandighede waarin weduwees en wese hulle bevind het melding.  Hulle is dikwels te na gekom (Ex.22:22; Deut.10:18; Job.22:9).

Toe sy by die koning kom, was hy juis met Gehasi in gesprek.  Al was hy melaats, wou hy nogtans alleen met hom oor Elisa praat.  Net toe hy oor die opwekking van die seun praat, het die vrou haar by die koning aangemeld, haar verhaal vertel en haar eiendom teruggekry.

2.      Elisa in Damaskus

Benhadad was die koning van die Arameërs wat Samaria wou beleër.  God het hom egter verhoed. Toe Elisa in Damaskus kom, het Benhahad ernstig siek geword.  Omdat daar handelsverkeer tussen Samaria en Damaskus was, het Elisa ook van sy siekte verneem (1 Kon.20:34).   Hy was juis in Damaskus om ʼn laaste opdrag van Elia uit te voer - hy moes Hasael as koning salf (1 Kon.19:15).

Toe Benhadad verneem dat Elisa in die stad was, het hy Hasael met ʼn geskenk na hom gestuur om te verneem of hy moontlik gesond sal word.  Die profeet was ʼn bekende persoon in Damaskus, veral na die genesing van Naäman.   Elisa het die geskenk geweier en vir die gesantskap gesê dat Benhadad nie sou herstel nie.  Elisa het ʼn toekomsgesig van die ontsettende kwaad wat Hasael die Israeliete sou aandoen, ontvang en dit beween.

Toe Elisa aan Hasael sê dat God hom koning van die Arameërs gaan maak, het hy dit geglo, maar niks daarvan aan Benhadad gesê nie.   Hy het gelieg en gesê dat hy gesond sal word.   As Benhadad die waarheid moes weet, sou hy hom doodgemaak het.  Hasael was haastig om koning te word.  Hy het nie op God gewag nie, maar Benhadad in sy bed vermoor.

3.   ʼn Staatsgreep

Op daardie tydstip was Joram, ʼn seun van Agab, in Israel op die troon.  Hy is in die stryd om Ramot gewond en het na Jisreël, die buiteverblyf van die konings van Israel, gegaan om te herstel.  Terwyl Ahasia van Juda hom daar besoek het, het Jehu, ʼn leërowerste van Joram, ʼn staatsgreep in Israel uitgevoer en die troon bekom.  Dit was egter nie die eerste militêre staatsgreep nie.  Omri het ook een uitgevoer (1 Kon.16:16).  Daarna het Elisa hom, as ʼn laaste opdrag van Elia, as koning gaan salf (1 Kon.19:16).   Jehu was ʼn gesiene man.

Elisa het nie self die salwing gedoen nie, maar een van sy profeteseuns gestuur om die taak te verrig.  God het Jehu self as koning aangewys en sodoende God se bemoeienis met die tienstammeryk hernu.  Dit sou egter hul laaste kans wees.   Voordat die profeet vertrek het, het hy geprofeteer dat Jehu die huis van Agab sou verwoes.

4.   Jehu as koning gehuldig.

Omdat Jehu onopsigtelik as koning gesalf is, het hy nie teenoor sy manskappe daaroor gepraat nie.

Hy was nie seker hoe hulle sou optree nie.   Toe hulle na die optrede van die profeet uitvra, het Jehu met die waarheid uitgekom waarna almal hom geesdriftig gehuldig het.   Jehu was, net soos Omri, ʼn soldatekoning.

5.   God se oordeel word voltrek

Jehu se geheime salwing moes tot ʼn openlike kroning lei.   In sy voortvarendheid het Jehu nie op God se leiding gewag nie, maar homself gekroon.   Hy is met soldate na Jisreël waar Joram aangesterk het.  Toe Joram hom vra of hy in vrede gekom het, het hy geantwoord dat daar weens Isebel se verknogtheid aan Baäldiens geen vrede in Israel kan wees nie.   In ʼn land van hoerery en towery is daar geen sprake van vrede nie!

Hoerery en towery is eie aan die heidendom.  Jehu was ʼn felle teenstander van die Baäldiens en voorstander van die diens aan God.    Toe Joram wou vlug, het Jehu hom met ʼn pyl doodgeskiet en sy lyk op die eertydse grond van Nabot laat gooi.  God se oordeel oor Agab is aan Joram sy seun voltrek (1 Kon.21:29).   Uit 2 Kon.9:25-26 kan afgelei word dat Agab ook Nabot se seuns laat vermoor het om die erfgrond te bekom!

6.    Die dood van Ahasia

Toe Ahasia gewond is, het hy na Megiddo gevlug om van Joram se plaaslike bevelhebber hulp te bekom.   Joram se agtervolgers het hom egter ingehaal en doodgemaak.   Ahasia was net so goddeloos soos die koningshuis van Israel.  Daarom het sy dood saam met die oordeel oor die huis van Agab geval.   Jehu het hom laat doodmaak omdat hy ʼn afgodsdienaar en gevaar vir Juda was.

7.  Die dood van Isebel

Toe Jehu in Jisrëel by die paleis kom, was Isebel, die koninginmoeder, ongeveer 60 jaar oud.  Daarna het hy haar deur hofdienaars by die venster laat uitgooi sodat sy gesterf het.  Hulle het haar net so gelos en gaan eet.  Nadat hulle klaar was, het hulle gaan kyk waar sy was.   Hulle het net haar kopbeen, voete en handpalms gevind soos wat die honde haar opgevreet het.  Dit was die voltrekking van die oordeel wat vroeër oor haar uitgespreek is!  

Vervolg...