STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (58)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 7

DIE KONINGSKAP EN EINDE VAN JEHU

1 Kon 10-11:1-3

1.  Samaria gee oor

Ten tye van Jehu se sameswering het Agab 70 volwasse seuns in Samaria gehad.  Jehu het briewe aan verskeie owerhede in Samaria geskryf en voorgestel dat hulle een van hierdie seuns as koning moes kies omdat hulle in ʼn vesting met wapens, strydwaens en perde was.   Hy het slegs ʼn handjievol manskappe by hom gehad.  Alhoewel dit baie ridderlik geklink het, was dit eintlik ʼn uitdaging.  Twee konings kon nie eens teen Jehu standhou nie!  Gevolglik het die owerhede in Samaria eerder aan Jehu trou gesweer en hom ʼn vrye hand gegee om na goeddunke te handel.  Daarna het Jehu ʼn brief aan hulle geskryf waarin hy hulle versoek het om as blyke van gehoorsaamheid die hoofde van die familie (Agab se seuns) die volgende oggend na hom in Jisreël te stuur.

Wat het hy met hoofde bedoel?  Was dit die aanvoerders van die koninklike familie of die koppe van die 70 seuns?    Jehu was doelbewus dubbelsinnig waarna die owerhede dit letterlik opgeneem het.   Die 70 seuns van Agab is onthoof en hul koppe na Jehu gestuur het.  Toe die volk dit sien, was hulle ontsteld en bang vir bloedskuld.  Daarna het Jehu hul gerus gestel.   Die owerhede het hom kwansuis verkeerd verstaan.  Desnieteenstaande was hy tevrede met die verloop van die omstandighede.  God se oordeel is oor die huis van Agab voltrek.

Daarna het Jehu alle oorblywendes van die huis van Agab wat in Jisreël was, laat doodmaak.  Daar kon dus geen aanspraakmakers op die troon wees nie.  Baesa het dieselfde ding met die koningshuis van Jerobeam gedoen (1 Kon.15:29) en Simri met dié van Baesa (1 Kon.16:11).  Dit was ʼn baie algemene optrede ná ʼn staatsgreep.

2.   Twee ontmoetings

Ná hierdie moorde het die poorte van Samaria vir Jehu oopgestaan.  Op pad daarheen het hy twee ontmoetings gehad.   Die eerste ontmoeting was met die broers van Ahasia, die koning van Juda.  Met broers word nie letterlik bloedfamilie bedoel nie.  Dit kon in elk geval nie Ahasia se eie broers gewees het nie omdat hulle op daardie tydstip toe alreeds deur die Filistyne en Arabiere weggevoer is  (2 Kron.21:17).  Gevolglik dui hierdie uitdrukking op koninklike familie.  Die familielede was onbewus van hul koning se dood en is deur Jehu se manskappe opgespoor en doodgemaak.   Dit was dan ook die einde aan die vriendskap tussen Israel en Juda.

Jehu se tweede ontmoeting was met Jonadab, die seun van Regab.  Jer.35 noem sy nakomelinge Regabiete.   Hulle was ʼn eienaardige groep mense wat geen huise gebou het en geen wyn gedrink het nie.  Daarbenewens het hulle ook nie gesaai, wingerde geplant of grond besit nie.   Hulle moes lewenslank in tente woon en ʼn nomadiese bestaan voer.  Jonadab het Israel se kultuur as ʼn uitvloeisel van die Baäldiens beskou.

Jonadab se kultuurvyandige lewensbeskouing het Jehu geensins aangestaan nie. Beslis nie sy drankverbod nie!   Jonadab het hom egter versigtig oor sy geestesingesteldheid gepols waarna hul mekaar die hand gegee het.  Daarna het Jehu hom op die wa laat klim om meer van sy ywer vir God te wete te kom.

3.  Die Baäldiens word uitgeroei

Jehu het die Baäldiens verafsku en uitgeroei soos wat Jonadab heelwaarskynlik voorgestel het.  Hy het die mense van Samaria byeen laat kom en hulle verseker dat hy Baäl beter as Agab sou dien en ʼn fees tot eer van die afgod aangekondig.  Al die profete en priesters van Baäl moes dit in formele drag in die afgodstempel bywoon.  Wie weier, sou doodgemaak word.   Toe sy soldate ʼn teken van Jehu kry, is al die afgodsdienaars doodgemaak en die heidentempel verwoes.

4.  Atalia koningin van Juda

Toe Atalia, die dogter van Isebel en moeder van Ahasia, van haar seun se dood verneem, het sy die hele koninklike geslag van Juda insluitende haar eie kleinkinders laat doodmaak.  Sy was wreder as Isebel!   Waarom?   Net om haar eie posisie te handhaaf!   Sy het, net soos haar moeder, ʼn sterk persoonlikheid gehad en na haar man, Joram, se dood die gebiedster in Jerusalem geword.   Sy het egter nie haar volk se belange nie, maar eerder haar eie bevorder!

God het egter verhoed dat haar planne slaag.   Onthou dat Christus uit die huis van Dawid gebore sou word.  Die konings van Juda was dus sy voorvaders (Mt.1:6-11).   Indien Atalia in haar doel sou slaag, sou die huis van Dawid uitgeroei word.   Met haar optrede het Satan sy hand na die Messias probeer uitsteek.  God het dit nie toegelaat nie!

Ahasia het nog ʼn suster, Joseba, gehad.  Sy was met ʼn priester getroud.   Dit blyk dat Atalia net die manlike nakomelinge van die koning van Juda laat vermoor het.   Joseba het ʼn seuntjie van Ahasia ontvoer en hom saam met sy soogmoeder weggesteek.   Nadat die gevaar verby is, het sy klein Joas by haar in die tempel geneem waar daar ʼn paar huise vir sekere mense was (Jer.35:4; 36:10).   Atalia het ses jaar lank oor Juda regeer.   Joas is vir die volle tydperk weggesteek.

5.   Die halfhartigheid en dood van Jehu

Jehu het 28 jaar lank oor Israel regeer.  Die Bybel sê nie veel oor hierdie tyd nie.  Jehu het wel die Baäldienste vernietig, maar nie die kalwerdiens nie.  Die Baäldiens het die kalwerdiens op die agtergrond gedruk.  Met die regering van Jehu het dit weer sterk na vore gekom.  Jehu het weens sy optrede teen die huis van Agab die goddelike voorsegging ontvang dat sy seuns vir vier geslagte op die troon van Israel sou wees.  Hy het God maar halfhartig gedien.   Sy halfhartige ywer het ʼn spreekwoordelike uitdrukking geword.  As iemand se ywer nie juis prysenswaardig is nie, word dit ʼn Jehusywer genoem.

Sy ywer en optrede het meer oor sy eie eer en posisie as om God gegaan.   Dit was dan ook die rede vir die handhawing van die kalwerdiens.   Israel moes godsdiensneutraal wees.  Jehu was, net soos Jerobeam, bang dat Israel deur die tempeldiens bekoor kon word en eerder sou opsien.

Kort hierna het God die grondgebied van Israel begin inkort deur die hele Oos-Jordaanland ná ʼn oorlog aan Hasael, die koning van Aram, te gee.  Die verlies aan grondbesit was ʼn straf.  Die verhaal van Jehu eindig met die berig van sy dood.   Hy was toe al in sy sewentigerjare.  Hy is in Samaria begrawe waarna sy seun Joahas koning geword het.

Vervolg...