DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 8
JOAS KONING VAN JUDA
2 Kon 11:4-21; 12 en 2 Kron 23-24
1. Joas word koning
Joas, ʼn seun van Ahasia, is vir ses jaar deur sy tante Joseba en haar man, die priester Jojadja, weggesteek. Daarna het Jojadja die kind na vore gebring om koning te word. Dit het moed gekos omdat Atalia nog regeer het en hewige teenstand van haar verwag moes word. Dit was ʼn geloofsdaad waarin hy die steun van die Leviete en die meeste van die familiehoofde in Juda gehad het. Die familiehoofde het hom gesteun omdat hulle die Dawidshuis in ere herstel wou hê. Die Leviete het hom weer ondersteun omdat hulle teen Atalia en haar Baälaanbidding gekant was.
Ter voorbereiding van die staatsgreep, het Jojadja offisiere van twee militêre groepe na hom laat kom - die Kariërs en die hardlopers. Eersgenoemdes was huursoldate wat in diens van Atalia was. Dawid het ook huursoldate gehad tewel die Kreti en die Pleti asook Gittiete (2 Sam.15:19). Die Kariërs het onder die offisiere van Juda gedien. Die hardlopers was lyfwagte (1 Kon.14:27). Toe die twee groepe by Jojadja kom en hy die seun aan hulle wys, het hulle besluit om vir hom te veg.
Die staatsgreep is vir ʼn feesgeleentheid beplan waartydens al die familiehoofde en Leviete in Jerusalem byeen was. Dit sou in die tempel uitgevoer word omdat dit die veiligste plek was. Atalia het mos geen belang by die tempel gehad nie! Daarbenewens was die tempel net noord van die paleis en gevolglik naby.
Die owerstes het Jojadja se strategie gevolg. Op die spesifieke Sabbat het die paleiswag by die tempelwag aangesluit en ʼn wag om Joas gevorm. Daarná is hy uitgebring, op ʼn verhoog geplaas en tot koning gesalf. Hy het ʼn kroon op sy kop en die Getuienis om sy nek gehad; ʼn afskrif van die Tien Gebooie (Ex.32:15). Daarna het mense van alle kante na hom gestroom, hande geklap en uitgeroep: “Mag die koning lewe!”
Toe Atalia die gejuig hoor, het sy ondersoek ingestel en die seuntjie-koning waarvan sy niks geweet het, vir die eerste keer gesien. Daarop het sy haar mense van verraad beskuldig; dieselfde woorde as haar broers sewe jaar tevore (2 Kon.9:23). Jojadja het haar laat vang en doodgemaak, waarna die huis van Omri tot ʼn einde gekom het.
Hierna het Jojadja twee verbonde gesluit. Die eerste was tussen die koning en die volk met God en die tweede tussen die koning en die volk soos destyds met die salwing van Dawid (2 Sam.5:3). Dit het alles op die tempelterrein plaasgevind. Toe is Jojadja en die mense na die paleis waar hulle Joas op die troon laat sit het.
Die volk het die tempel van Baal in Jerusalem afgebreek en Mattan, die volksvreemde afgodspriester, voor die altaar doodgemaak. Hierdie tempel is heelwaarskynlik deur Joram en Atalia opgerig. Ook al die heidensimbole is stukkend geslaan en die Baäldiens in Jerusalem uitgeroei.
2. Joas se optrede
Joas sou 40 jaar lank in Juda regeer. Hy het aanvanklik goed begin en gedoen wat God van hom verwag het. Jojadja het hom onderrig omdat hy as kind baie leiding nodig gehad het. Jojadja was sy mentor en is ook Beregja genoem. Toe Joas ouer word, het hy vir hom twee vroue geneem en kinders verwek sodat die huis van Dawid weer nakomelinge gehad het.
Sy grootste taak was die herstelwerk aan die tempel wat hy aan sekere priesters opgedra het. Toe hulle sloer, het hy hulle tot verantwoording geroep en afgedank. Die werk het hy aan ander gegee wat dit afgehandel het. Die nodige fondse is deur ʼn spesiale insameling verkry.
Toe Jojadja op die rype ouderdom van 130 jaar sterf, het Joas ʼn ander lewensrigting ingeslaan wat God nie tevrede gestel het nie. Jojadja was die laaste van die OT manne wat so oud geword het. Hy was ongeveer 100 jaar oud toe die staatsgreep uitgevoer is!
Ná sy dood het sommige van die owerstes van Juda na Joas gekom en hom met vleitaal en ander dinge begin beïnvloed. Hy het nie ʼn sterk persoonlikheid gehad nie en het hulle voorstel om die Baäldiens weer in te stel aanvaar. Daarom het God kwaad geword en ʼn paar profete gebruik om hulle te waarsku. Sagaria, die seun van Jojadja, het die sterkste teen hulle opgetree maar die booswigte het hom gegryp en gestenig.
Die toenemende goddeloosheid in Juda was erg, maar die ergste was dat hulle dit op Joas se bevel gedoen het! Hoe kon hy die seun van die priester wat hom op die troon van Juda geplaas het laat vermoor en dit in die voorhof van die tempel waar niemand gedood mag word nie! Atalia is ten minste eers van die tempel af weggelei alvorens sy gedood is. Met Sagaria was daar nie eens tyd om dit te doen nie! Christus verwys hierna in Mt.23:35. Die sterwende Sagaria het God om vergelding gebid.
3. God straf Joas
Joas het nie skotvry daarvan afgekom nie. God sou deeglik met hom afreken. God het, soos so dikwels in die verlede, die vyand as tugroede gebruik. Hy het Aram teen Joas laat optrek. Hierdie betreklik klein leër het ʼn groot oorwinning behaal en baie buit na Damaskus weggevoer. Sagaria se gebed is baie vinnig verhoor!
Hasael was die koning van Aram en het die hele Oos-Jordaanstreek van Israel afgeneem. Hy was eintlik na die Filistyne oppad toe hy deur God gelei is om Juda te straf. Hy was al baie oud en aan die einde van sy jare. Alhoewel Juda baie sterker as Aram was, het hulle ʼn lelike nederlaag gelei waarna Joas hom tempel- en paleisskatte aangebied het net om weg te trek.
Uit Kronieke kan afgelei word dat Joas in die skermutseling gewond is. Hy het egter ook vyande in eie kring gehad het. Twee van sy eie mense het hom kort hierna vermoor. Die volk was so teleurgesteld in hom dat hulle hom nie eens by die konings begrawe het nie. Joas het soos ʼn Simson van ouds ʼn baie goeie begin, maar ʼn droewige einde gehad. Na hom het sy seun Amasia koning van Juda geword.
Vervolg...