DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 10
AMASIA KONING VAN JUDA
II KON 14; II KRON 25
1. Sy lewenshouding
Amasia het aanvanklik gunstig van sy voorgangers verskil en gedoen wat reg was in die oë van God. Die res van sy lewe toon dat hy God nie met ʼn volkome hart gedien het nie. Hy het nie die hoogtes afgeskaf nie; nie dat dit hom as sulks anders sou gemaak het nie. Asa en Josafat wat wel soos Dawid gewandel het, het dit ook nie gedoen nie. Alhoewel die hoogtes in naam as ʼn diens aan God gehou is, was dit heidens van oorsprong. Dit was sinkretisties en ʼn vermenging met die Baälgodsdiens. Dat gelowiges dit geduld het, moet as ʼn gebrek aan Skrifinsig toegeskryf word. Hiskia was die eerste koning wat werklik daarmee weggedoen het.
Sy vader Joas was so ongewild, dat hy nie eens in die graf van die konings begrawe is nadat hy vermoor is nie. Sake was dus nie pluis toe Amasia koning van Juda geword het nie. Hy moes versigtig wees om nie die moordenaars van sy vader tereg te stel nie. Hulle het almal buitelandse vroue gehad wat ʼn diplomatieke herrie kon ontketen. Nadat hy sy posisie versterk het, het hy hulle wel tereggestel, maar hulle kinders se lewens gespaar. Amasia het volgens die Wet van Moses opgetree (Deut.24:16). Hierdie voorskrif was vir die gewone strafreg bedoel en nie vir Godsgerigtes soos in Num.16 en Josua 7 nie.
2. Amasia verslaan die Edomiete
Edom was ʼn gedugte vyand wat die Bondsvolk dikwels probleme besorg het. Daarom moes Amasia hulle onderwerp. Tydens die regering van Joram het hulle van Juda afvallig geword. Die besit van Edom was belangrik met die oog op seehandel. Amasia het ʼn leër van 300,000 man byeen gebring terwyl Edom ʼn skamele 10,000 man kon monster. Daarna het Amasia nog 100,000 soldate by Israel vir 100 talente silwer gehuur. Hieruit blyk dat Israel ná die oorlog met Hasael goed herstel het.
Net toe Amasia vir Edom wou aanval, het ʼn man van God hom gevra om nie die Israeliete slagveld toe te neem nie. God was nie met Israel nie omdat hulle goddeloos geleef het. God het Hom wel in die tyd van Joahas oor Israel ontferm en aan hulle die oorwinning oor die Arameërs gegee, maar dit was ter wille van sy verbond met Israel. Daarna het hulle met hul bose lewens voortgegaan. Israel was dus ʼn ongewenste bondgenoot vir Juda wat die Here nog gevrees het.
Op Amasia se vraag wat hy met die reeds uitbetaalde soldy moes doen, het die man van God geantwoord dat God hom baie meer sou gee. Daarna het Amasia die huursoldate teruggestuur. Hulle was baie kwaad omdat hulle hul aandeel van die buit gemis het en ʼn plundertog in sekere stede van Juda uitgevoer.
3. Amasia vereer die gode van Edom
Ná die oorwinning oor Edom het Amasia die eerste gebod oortree en aan die gode van Edom geoffer. Hy het die afgodsbeelde as buit uit Seïr saamgebring; iets wat die heidene as ʼn groot verlies beskou het. Vlugtende volke het altyd probeer om hul afgode met hulle saam te neem.
Amasia het die Edomitiese afgode vereer omdat hy bang was om hulle in sy besit te hê. Hulle kon moontlik kwaai wees en bose dinge oor hom laat kom. Gevolglik het hy probeer paai deur hulle te vereer. Dit was die kersie op die koek van sy oppervlakkige godsdiens! Alvorens God hom gestraf het, het Hy nog ʼn profeet na hom gestuur om hom op sy dwaasheid te wys. Hy het afgode vereer wat nie eers hul eie aanbidders uit die hand van Juda kon red nie!
Amasia wou nie na die profeet luister nie. Hy het hom sommer in die rede geval en gesê dat hy sy raad en bemoeienis nie nodig gehad het nie. Amasia het selfs ʼn bedekte bedreiging na sy kant gemik toe hy van die dood van die profeet Sagaria melding gemaak het wat ter wille van sy getuienis teen sy vader, Joas, doodgemaak is.
Hieruit blyk dat Amasia in staat was om dieselfde ding met hierdie profeet te doen. Hy was maar net soos sy vader. Die appel val nie ver van die boom af nie! Daarop het die profeet hom geantwoord dat hy die doodvonnis oor sy eie koningskap onderteken het; iets wat in die daaropvolgende oorlog teen Israel voltrek sou word.
4. Die einde van Amasia
Ná hierdie nederlaag teen Israel het Amasia nog 15 jaar geleef. Daar staan geleef en nie regeer nie. Dis in Konings sowel as Kronieke opgeteken. Amasia is heelwaarskynlik van sy koninklike mag onthef of heeltemal in die skadu geplaas ten einde owerstes oor die land te laat regeer. Dit was in elk geval roemlose jare vir hom. Gerugte van ʼn sameswering het hom na Lagis, ʼn belangrike vesting, laat vlug. Miskien het hy gehoop dat die bevelvoerder hom sou kon beskerm.
Sy vyande was egter so gedug, dat hulle hom daar gaan soek en doodgemaak het. Amasia is dus net soos sy vader Joas, vermoor. Sy begrafnis was egter meer eervol. Hy is op ʼn perdewa na Jerusalem gebring waarna hy by sy vaders begrawe is. Daarna is Ussia, ʼn seun van Amasia koning gemaak. Hy was slegs 16 jaar oud. Die boek Konings noem hom Asarja.
Vervolg...