STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (62)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 11

USSIA EN JOTAM KONINGS VAN ISRAEL

II KON 14:23-15:7

1.   Ussia

Ussia was soos sy vader ʼn goeie koning.   Dis ook van Joas gesê.  Tog word gesê dat hulle nie soos Dawid was nie.  Al drie het ten spyt van ʼn regte lewenskoers ernstig gesondig.   Joas het byvoorbeeld  ʼn profeet doodgemaak, Amasia het die afgode vereer en Ussia het inbreuk op die regte van die priesters gemaak en nie die hoogtes afgeskaf nie.   Ussia se voorspoed was aan die leiding van ʼn sekere Sagaria wat godsdiensonderrig gegee het te danke.  Solank as wat hy na Sagaria geluister het, het God hom geseën.   Toe Ussia hom verlaat, het dinge onmiddellik skeef begin loop.

Ussia het Elat laat opbou.   Dit was Juda se enigste hawestad in die tyd toe Edom aan Juda onderworpe was.  Salomo het sy vloot daarvandaan na Ofir gestuur om goud en ander kosbaarhede te gaan haal (1 Kon.9:26-28).   Toe Edom in die tyd van Joram (Juda) afvallig geword het, het Juda se seehandel tot ʼn stilstand gekom.  Dis eers ná Amasia se oorwinning oor die Edomiete hervat.

Daarbenewens het Ussia die Filistyne wat weer moeilikheid gesoek het, se stede aangeval en die vyandelike leër onskadelik gestel.  Daarna het hy Jerusalem met torings versterk en ʼn leër van 307,500 man versamel wat selfs sy kuddes en landerye bewaak het.  Hy het selfs oor die nuutste wapentuig beskik naamlik werpmasjiene (katapulte).   Ussia het tot in Egipte aansien geniet.

2.   Ussia se sonde

Ussia se gewildheid het hom hoogmoedig gemaak.  Hy het hom selfs priesterlike waardigheid in die tempel toegeëien deur self te offer, iets wat alleenlik vir die seuns van Aäron bestem was (Ex.30:7; Lev.10:1).   Die 80 priesters onder leiding van die hoofpriester Asarja was nie met sy magsoorskreiding gediend nie en het hom heftig teengestaan.  Toe Ussia nie na hom wou luister nie, het God hom met melaatsheid getref.   Hy het as die mees onreine mens in die tempel gestaan.   Toe die priesters hom uitjaag, is hy baie kwaad daar weg.  Ussia was tot en met sy dood melaats.

Daarna het sy seun Jotam koning geword.  Ussia het 52 jaar regeer en is nie in die koninklike grafkelder begrawe nie, maar op die terrein waar die graf van Asa was.   Die sterfjaar van Ussia was ook die jaar van die roeping van Jesaja (Jes.1:1).   Uit Amos 1:1 blyk dat daar ʼn hewige aardbewing in daardie omgewing plaasgevind het wat baie mense uit die gebied laat vlug het (Sag.14:5).

3.   Jotam

Alhoewel Jotam reeds voor sy vader se dood begin regeer het, het hy eers na sy dood volwaardig koning geword.   Hy was ʼn goeie koning in die oë van God en het nie afwykings getoon nie.  Die volk het egter nog steeds op die hoogtes geoffer, iets wat hulle van die Kananiete oorgeneem het.  Jotam was net soos sy vader ʼn bouer en het die groot werke van sy vader voorgesit.  Hy het byvoorbeeld Jerusalem met forte omring.  Daarna het hy oorlog teen die Ammoniete gevoer en hulle oorwin waarna hulle vir drie jaar lank swaar belastings aan hom betaal het.  Jotam het ook Judese gesag oor Edom gehandhaaf. 

&