DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 12
JEROBEAM II: KONING VAN ISRAEL
II KON 14, 15
1. Sy lewenshouding
Tydens die regerings van Amasia en Ussia in Juda, was Jerobeam II koning in Israel. Hy was die seun van Joas en het 41 jaar lank regeer. Hy was net so goddeloos soos sy naamgenoot, die seun van Nebat, wat ná Salomo se dood koning van Israel geword het. Laasgenoemde het die kalwerdiens in Bet-El en Dan ingestel. Jerobeam II het daaraan meegedoen. God het sy afkeur deur die profeet Amos bekend gemaak (Amos 3:13; 4:4; 5:5). Toe hy na Bet-el is om God se straf aan te kondig, het die priester van Bet-el hom weggejaag en die koning van sy optrede verwittig.
Jerobeam II het groot oorwinnings behaal wat sy ryk aansienlik groter gemaak het. God was genadig oor ʼn sondige volk! Hy het dikwels aan goddelose konings guns betoon soos tydens die regering van Joahas toe die Arameërs Israel baie las gegee het (2 Kon.13:4,5). Hierdie guns was uitsluitlik weens sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Juda het weer God se guns weens God se verbond met Dawid geniet.
Die Here wou Israel nog nie na reg tug nie (2 Kon.13:23). In die tyd van Jerobeam II het Hy selfs sy guns vir ʼn derde keer aan Israel bewys toe hulle ʼn welvaart soos dié tydens die regering van Salomo beleef het. In hierdie tyd het Amos en Hosea die volk ernstig aangespreek en op hulle baie sondes gewys. Israel wou egter nie luister nie en die oordeel van God onafwendbaar gemaak.
Hosea het selfs op God se bevel ʼn straatvrou as vrou geneem. Dis hoe die verhouding tussen God en Israel gelyk het! Israel se afvalligheid was soos owerspel in God se oë. Almal wat die profeet se huwelik aanskou het, moes daarin die volk se egbreuk met God waarneem. God se verbond was soos ʼn huweliksband (Eseg.16:8). In die NT word dié beeld van die gemeente as die bruid van Christus gebruik (Openb.21:9).
2. Amos
Amos was ʼn skaapboer uit Tekoa in Juda en het ook met wildevye geboer. God het hom in die tyd van Jerobeam II na Israel gestuur om in Bet-el teen die kalwerdiens te profeteer en in Samaria teen die volk se maatskaplike vergrype. Israel het baie ryk mense gehad wat armes verdruk het. Hulle het selfs regslui omgekoop om die regsspraak te verydel. Dit was ʼn gruwel in God se oë en moes aangespreek word!
3. Hosea
Hosea was ʼn jonger tydgenoot van Amos. Sy prediking was veral teen die ontrouheid van Israel aan God gemik. Waar Amos maatskaplike onreg aangespreek het, het Hosea God se soeklig op hul geestelike afvalligheid laat val.
4. Jona
Jona het ook in die tyd van Jerobeam II geleef en was bekend as die profeet wat teen sy sin na die heidene (Nineve) gegaan het. Hy het langs moeilike weë uiteindelik by hulle uitgekom en teen sy verwagting die regte reaksie gekry. In Jona se optrede sien ons die godsdiensgeslotenheid van die Bondsvolk baie duidelik. Israel moes leer dat hulle nie alleen in God se genade gedeel het nie. Daar is selfs vir heidene genade!