STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (64)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 13

DIE OPVOLGERS VAN JEROBEAM II

II KON 15:8-26; 16; II KRON 28

1.  Sagaria en Sallum konings oor Israel

Ná die dood van Jerobeam II het sy seun Sagaria koning van Israel geword.  Hy was net so goddeloos soos sy vader.   Die kalwerdiens was op daardie tydstip al so stewig in die Tienstammeryk gevestig, dat dit nie uitgeroei kon word nie.  Sagaria het slegs ses maande regeer waarna hy deur Sallum vermoor is.

Hiermee het die koningshuis van Jehu tot ʼn einde gekom.  Vyf konings het altesaam ʼn eeu lank op hierdie troon regeer.   Daarmee het God sy belofte aan Jehu, dat sy seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sou wees, nagekom.   Hulle was egter almal goddeloos sodat God se lankmoedigheid tot ʼn einde gekom het.   Israel sou nog verder verval en uiteindelik in ballingskap gaan (Hos.8:4)

Sagaria se moordenaar het slegs een maand regeer waarna hy deur ene Menahem vermoor is. Koningsmoorde was destyds aan die orde van die dag.   Hosea het dit ook voorspel (Hos.7:7; 13:11).  Twee van Israel se koningshuise (Jerobeam I en Jehu) was deur God geroep en het ryke beloftes van Hom ontvang.   Ander konings was indringers, geweldenaars en boos.  God se toorn was van die begin af op hulle.

2.  Menahem koning oor Israel

Menahem was uitsonderlik wreed.  Hy het nie net Sallum vermoor nie, maar daarna ook ʼn hele stad verdelg.  Toe Tifsag, wat in die omgewing van Tirsal was, nie met Menahem wou saamwerk nie, is dit verwoes.  Tydens sy koningskap het die Assiriërs weer op die toneel verskyn en Israel aangeval. Menahem het egter die vrede met ʼn geskenk van 1000 talente silwer gekoop.  Daarna het die vyand hom met rus gelaat.  Menahem het vir 10 jaar regeer waarna hy aan natuurlike oorsake oorlede is.  Sy seun Pekahia het hom opgevolg.

Pekahia was ook goddeloos en het slegs twee jaar lank regeer alvorens hy deur sy adjudant, Peka, in sy paleis vermoor is.   Peka het 50 manne van Gilead vir die staatsgreep gebruik omdat hy teen Israel se vriendskap met Assirië gekant was.   Agas was die koning van Juda toe Peka het koning van Israel geword het.   Agas het sy vader Jotam opgevolg.

3.  Peka van Israel en Agas van Juda

Peka sowel as Agas was goddeloos.  Agas het die Baäldiens laat herleef en selfs van sy seuns vir Molog laat offer.   Dit was ʼn Kanaänitiese gruwel (Deutr.12:31; 18:10).  God het dit streng verbied (Lev.18:21; 20:2-5).   Die plek waar Agas en latere konings hierdie offer gebring het, was in die dal van Hinnom (Ge-Hinnom).  Jeremia noem dit Moorddal (Jer.7:32).

Christus gebruik hierdie woord gehenna vir die hel (Mt.5:29); ʼn vervorming van Ge-Hinnom.   Agas het hom nooit bekeer nie, selfs nie in moeilike omstandighede nie.  Hoe groter sy benoudheid, hoe meer het hy gesondig.   Juda het in ongekende afvalligheid versink.

4.  Oorlog tussen Peka en Agas

Peka het om een of ander rede na Jerusalem opgetrek om teen Juda te veg.  Hy is deur Resin, die koning van Aram, bygestaan.   Dit het heelwaarskynlik met Juda se vriendskap met Assirië te doen gehad.  Ironies genoeg het Aram, wat maar altyd vyandig teenoor Israel was, hierdie keer met haar saamgespan terwyl Israel en Juda wat altyd vriende was, vyande geword het!

Agas het swaar verliese in hierdie oorlog gely.  Resin het Elat verower waarna Juda dit nooit weer sou herwin nie.  Resin het Agas verslaan en baie krygsgevangenes na Damaskus weggevoer.  Peka het ook sy slag geslaan en op een dag 120,000 man gedood.  Daarna het hy 200,000 vroue en kinders as gevangenes weggevoer en slawe van hulle gemaak.  God het Agas in Resin se hand gegee.

5.   Die profeet Oded

Toe Israel met die gevangenes uit Juda in Samaria aangekom het, het die profeet Oded hul tegemoetgegaan en gesê dat hulle die gevangenes moes terugstuur.   Oded het gesê dat die oorwinning nie deur eie mag was nie, maar God wat Juda gestraf het.  Israel het onder Juda gemoor met ʼn woede wat ten hemel geskreeu het.   Dit was genoeg.   Die krygsgevangenes moes nie verder leed aangedoen word nie.   Israel was sonder ontferming; God wel!  Juda is immers ook sy volk.  Oded se woorde het ingang gevind waarna die krygsgevangenes versorg en onvoorwaardelik teruggestuur is.

6.  Assirië maak opgang

Assirië het as ʼn wêreldmag groot opgang gemaak.  Tiglat-Pileser III was die koning.  Hy het Damaskus verower en die inwoners in ballingskap weggevoer.  Dit het gebeur nadat Agas hom as dienaar van Assirië aangebied het.  Hy het by Tiglat-Pileser III  gepleit om hom uit die hand van die koning van Aram te verlos.   Daarna het Tiglat-Pileser III teen Israel opgetrek en die hele noordelike deel verower en baie van die mense in ballingskap weggevoer.

Toe Tiglat-Pileser III ʼn koninklike setel in Damaskus gevestig het, het Agas daarheen vertrek om sy helper te gaan vereer.  Dit was destyds die gebruik om voor die oppermag te kruip.  Alhoewel Agas nie in ʼn oorlog verslaan is nie, het hy tog voor die Assiriër gaan kruip.

Terwyl hy in Damaskus was, het Agas ʼn besonder mooi altaar gesien.  Hy het ʼn skets met al die nodige besonderhede laat maak en na die priester Uria (in Juda) laat stuur om ʼn soortgelyke altaar te laat maak.   Toe hy uit Damaskus terugkeer, was dit gereed waarna hy self daarop geoffer het.  Dit was ongehoord omdat slegs priesters daarop geregtig was.   Die plek waar die altaar gestaan het, het Agas egter nie aangestaan nie waarna dit verskuif is om die altaar van God te oorskadu!

As ondergeskikte (vasaal) van Assirië moes Agas swaar belasting betaal.  Daarvoor het Agas die tempel geplunder en moes hy die vernedering as ʼn onderdanige verdra.   Hy het tot sy dood toe as onderhorige regeer, waarna hy deur sy seun Hiskia as koning opgevolg is.