STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (66)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 15

HISKIA KONING VAN JUDA

II KON 18-20

1.   Sy lewenshouding

Ná die dood van Agas het sy seun Hiskia koning van Juda geword.  Hy was ʼn gelowige en een van die beste konings wat Juda ooit gehad het.   Hy het nie van God se weë afgewyk nie en die Wet onderhou.   Hiskia was werklik ʼn teokratiese koning en het as hervormer opgetree toe hy die tempel wat sy vader toegesluit het weer oopgesluit en die erediens herstel het.   Daarbenewens het hy ook die verbond met God hernuwe, die pasga gevier en die afgodshoogtes afgeskaf (Deut.12:2).   Hiskia se hele optrede het van godsdienssuiwering getuig.  Die profeet Miga het hom die nodige leiding gegee (Miga 1:5, Jer.26:18).

Hiskia se optrede was ʼn hoogtepunt in die geskiedenis van Juda.  Net toe mense gedink het dat dit neusie verby met Juda was, het God aan hulle die beste koning ooit gegee.  Sy hele lewe het van ‘n liefde vir God getuig, selfs tydens sy siekte en Assirië se aanval op Jerusalem.  God het hom baie voorspoedig gemaak.

2.  Politieke bedrywighede van Hiskia

Hiskia het hierdie vyandelike aanval verwag omdat Assirië van krag tot krag gegaan het.  Sy wou haar mag van die Middellandse See tot by die Persiese Golf en Egipte uitbrei.  Gevolglik moes kleiner lande tussen oorlog of  ʼn gewillige onderwerping aan haar kies.   Die meeste het hulle onderwerp en swaar belaste vasaalstate geword.   Israel en Juda kon nie neutraal bly nie, maar het ook ʼn keuse maak.   Israel was beurtelings vír en dan weer téén Assiriese oorheersing.

In die dae van Agas was Juda ten gunste van Assiriese oorheersing.   Agas het self Assirië se hulp teen Peka en Resin ingeroep.  Daarmee het hy die vyand by sy ryk betrek.   Juda was dus onderhorig toe Hiskia koning geword het.  Hy het in opstand teen die vreemde oorheersing gekom en die Assiriese koning nie verder gedien nie.   Die Filistyne het ook voor dieselfde keuse te staan gekom.  Omdat hulle sy buurvolk was, was dit vir Hiskia belangrik waar hulle met die Assiriërs gestaan het.  Bure wat die vyand ter wille is, is gevaarlike bure!   Met die Filistyne was dit dan ook so.   Daarom het Hiskia hulle verslaan.

3.    Juda word binnegeval

Toe Hiskia hom met die internasionale politiek van sy tyd inmeng, het Jesaja hom gewaarsku om hom daarvan te weerhou.  Hy is later selfs bestraf toe hy hoogmoedig geword het (2 Kron.32:25).   Daarna het Sanherib van Assirië Juda binnegeval.  Hy was ‘n tugroede in God se hand (Jes.10:5).

Sanherib het by Lagis, wes van Jerusalem, laer opgeslaan en ʼn swaarbewapende leër na Jerusalem gestuur.   Hiskia het die poorte van die stad laat sluit en drie gesante na die Assiriërs gestuur om uit te vind wat hulle gepla het.   Hulle het Hiskia laat weet dat Juda tevergeefs weerstand gaan bied.  Indien hulle oorgee, sou hulle ʼn goeie toekoms in ʼn ander land geniet.   Deportasiepolitiek het juis die einde van Israel beteken!

Die Assiriërs het nie geskroom om God se eer aan te rand nie.   Die koning se segsman (rabsake) het Juda aangeraai om nie op God te vertrou nie omdat Hiskia glo God se hoogtes en altare vernietig het.   Die Assiriërs het dus van Hiskia se hervorming geweet en geglo dat hy God eerder kwaad gemaak het.  Wat ʼn vergissing!    Die segsman het geglo dat as die gode van die ander nasies Juda nie van Assirië kon red nie, God dit nog minder kon doen.  Daarmee is God se eer op die spel geplaas.  Hiskia het selfs Sanherib se lastering op skrif ontvang!

4.    Die optrede van Jesaja

Hiskia het hierdie brief voor God gelê en boodskappers na Jesaja gestuur.   Hy het die profeet goed geken wat alreeds in die tyd van sy vader opgetree het.   Jesaja het God se antwoord gereed gehad.  Hiskia moes nie vir Sanherib bang wees nie.   God het Sanherib ʼn gerug laat glo waarna hy dadelik na Assirië teruggekeer het.  Daar is hy tydens ʼn afgodsfees deur twee van sy seuns vermoor waarna ʼn ander seun, Esar-Haddon, in sy plek koning geword het.

5.   Die nederlaag van die Assiriërs

Terwyl die Assiriese magte Jerusalem beleër het, het ‘n engel van God in een nag al 185,000 van hulle omgebring.   Hoe dit gebeur het, word nie gesê nie.   Dit kan wees dat God ‘n pes-epidemie onder die Assiriërs gebring het.  Dit het al tevore gebeur toe koning Dawid ‘n volks-telling gehou het (1 Kron.21:15).    Hierdie ramp het egter in een nag plaasgevind!

6.   Hiskia se siekte

Hiskia het in die helfte van sy regeringsjare baie siek geword.   God het hom egter genees waarna hy 15 jaar geleef het.  Hierdie siekte het hom voor die verlossing uit die mag van Assirië getref.  Die Bybel volg nie ʼn strak chronologiese lyn nie.   Terwyl die koninkryk van Israel deur die Assiriërs vernietig is, was daar vir Juda ʼn toekoms omdat God sy belofte aan Dawid gehou het.  Hiskia het as gelowige aan hierdie belofte vasgehou.

Toe hy die dood in die gesig staar, het God Jesaja met ʼn boodskap na hom gestuur dat hy nie gesond sou word nie en sy sake in orde moes begin kry.  Sy opvolger, Manasse, wat 12 jaar oud was toe hy koning geword het, was toe nog nie eens gebore nie.   Opvolging was dus ʼn groot probleem.

Hiskia het hierop reageer soos dit ʼn gelowige betaam - hy het gebid!   Hy was nog betreklik jonk en wou nog lank lewe.  Daarom het hy God om herstel van sy gesondheid gebid.   Hiskia het God en sy volk getrou gedien.  God het sy gebed onmiddellik verhoor.  Hy sou 15 jaar by Hiskia se lewe voeg.   Dit sou goeie jare wees waarin Hiskia die verlossing uit die mag van die Assiriërs sou sien.

Hiskia was verstom en het vir  ʼn teken van bevestiging gevra.   Die skaduwee sou op die sonwyser terugbeweeg!   Hierdie teken het by die wonder in sy lewe gepas; die verlenging van sy lewe.   Hierdie wonder vergelyk ook met dié van Jos.10.