DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 1
PROFETE TYDENS DIE LAASTE JARE VAN DIE RYK VAN JUDA (2)
SEFANJA 1, OBADJA 1, NAHUM 1
1. Sefanja
Sefanja was ʼn tydgenoot van Jeremia en het ook onder koning Josia begin profeteer. Hy het sterk teen die Baäldiens asook die verering van hemelliggame geprofeteer. Sefanja het dus alreeds voor die groot hervorming van Josia begin optree. Sefanja se voorsate word tot in die vierde geslag genoem. Sy pa was Kusi, sy oupa Gedalja, sy oupagrootjie Amarja en sy oorgrootjie Hiskia. Daar word nie koning Hiskia gesê nie. Hierdie Hiskia was dus nie die goeie koning van Juda nie, maar ʼn ander een. Sefanja was nie van koninklike afkoms nie, maar het met groot vrymoedigheid teen konings en prinse gepreek (Sef.1:8,3:3).
Sefanja het die oordeel van God met die uitdrukking die dag van die Here begin verkondig. Gevolglik het hy nie net oordeel oor heidene aangekondig nie, maar ook oor Juda! Die heidene word selfs by die naam genoem - Filistyne, Moabiete, Amoniete en die Kusiete. Daarbenewens het Sefanja ook die val van Nineve (Assiriërs) aangekondig.
Sefanja het gesê dat die Here Jerusalem met lanterns sou deursoek om alle goddeloses te ontmasker. Op daardie stadium het dit alreeds ellendig met Jerusalem gegaan (Sef.3:1-4). Sy profesie eindig met ʼn heilsaankondiging van universele aard - God sal nie vir altyd kwaad wees nie. Hy sou op ʼn stadium ingryp en aan die Bondsvolk rein lippe gee waarna hulle God sal aanroep en Jerusalem God sal loof.
2. Nahum
Nahum was ook ʼn tydgenoot van Sefanja en het ook oor die val van Nineve geprofeteer. Sy hele profetiese geskrif is hieraan gewy. Nineve was eeue lank die hoofstad van die Assiriese Ryk. Oordeelsaankondigings oor stede het uiteraard ʼn oordeel oor die hele volk beteken. As ʼn oordeel oor Jerusalem aangekondig is, is die volk Juda bedoel en oor Samaria is Israel bedoel.
Nahum het ook die val van Thebe geprofeteer. Dit was ʼn baie groot koningstad in die suide van Egipte aan die Nyl en is ook No-Amon genoem. Dit het 100 poorte gehad. Egipte was altyd ʼn bedreiging vir wêreldvrede omdat die Egiptiese konings na wêreldheerskappy gesmag het. Met Egipte so naby aan hulle, het die Bondsvolk dikwels ongemaklik geleef. Wanneer Nahum die val van die Egiptiese mag aankondig, sien hy in ʼn profetiese blik hoe ʼn boodskapper met die vreugdeboodskap oor die berge aangehardloop kom.
3. Obadja
Obadja was ook ʼn tydgenoot van Jeremia, maar het eers teen die einde van Jeremia se optrede op die toneel verskyn. Sy profesie was uitsluitlik teen Edom, die grondgebied van Esau, gerig. God het hom gestuur om straf oor die Edomiete aan te kondig. Hulle het hulle in die nood van Jerusalem verlustig! Toe die koning van Babel na ʼn beleg Jerusalem ingeneem het, het die Edomiete diegene wat uit Jerusalem ontsnap het gevang en aan die Babiloniërs uitgelewer. Hierdie leedvermaak het die straf van God verdien.