DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
die boeke PSALMS EN ESéGIëL
DIE BALLINGSKAP
LES 1
KRYGSGEVANGENESKAP
PS 137, ESEG 2-4
- 1. Die lewe van die Jode tydens die ballingskap
Die getal Jode wat na Babilon weggevoer was, was eintlik nie baie groot nie. Tydens die eerste wegvoering onder koning Jojagin is 10,000-18000 weggevoer (2 Kon 24:14,16). Vir die ander wegvoerings word ʼn getal van 4,600 aangegee (Jer.52:28-30). Na berekening is nie meer as 50,000 Jode in die geheel weggevoer nie; hoofsaaklik net die vernaamstes en aansienlikes.
ʼn Deel van hulle het in Tel-Abib by die Kebarivier, suid van die hoofstad Babel, gaan woon waar hulle ʼn georganiseerde leefwyse gehandhaaf het. Esegiël het selfs ʼn huis gehad waar hy die oudstes ontvang het (Eseg.8:1). Van die ander ballinge het huise en tuine gehad omdat hulle besef het dat hulle lank daar sou bly nadat Jeremia aan hulle geskryf het (Jer.29:5). Van die ballinge het selfs die handelswêreld betree.
Hulle het groot aanpassings gemaak en baie verdriet ervaar (Ps.137). Hulle was in ʼn geestelike krisis omdat die meeste van hulle geglo het dat God hulle op die laaste nippertjie sou verlos omdat hulle sy volk was (Jer.5:12; 13:21; 21:2). God het hulle egter nie verlos nie en Jerusalem laat verwoes. Toe hulle in Babel kom, het hulle gesien hoe hul oorwinnaars hul afgode vir die oorwinning oor Juda prys. Dit het sommige laat twyfel of hul God werklik die Magtige is!
Esegiël het hulle deur sy prediking verseker dat hul wegvoering nie die gevolg van ʼn swakheid by God is nie, maar eerder sy straf op hulle sondes. Hy sou hulle egter nie verlaat nie en op sy tyd verlos. Dit het die ballinge gerus gestel en in die geloof laat volhard. Hulle kon egter nie offer of ʼn tempel besoek nie; iets wat ʼn groot leemte gelaat het. Maar hulle het nie in afgodery verval nie. Die Sabbat, besnydenis en rituele van die reinheidswette is streng onderhou. Dit het daartoe bygedra dat die ballinge hulle identiteit bewaar het.
- 2. Die tydsduur van die ballingskap
Die tydsduur van die ballingskap word algemeen op 70 jaar bereken. Dis nie ʼn presiese getal nie. Die groot wegvoering het in 597vC plaasgevind. Die wegvoering van Daniël en ander jong Joodse seuns behoort selfs tot ʼn vroeëre wegvoering. Die tweede wegvoering was tydens die val van Jerusalem in 586vC, wat as die werklike begin van die ballingskap beskou word. Die terugkeer het in 538vC plaasgevind nadat Kores, die Pers, die vorige jaar die Babiloniese Ryk verower en die Jode na hul land laat terugkeer het. Die 70 jaar wat in Jer.25 en 29 genoem word, dui eerder op die duur van die Babiloniese Ryk. Die ballinge het die val daarvan aanskou.
Nebukadneser het 47 jaar lank regeer. Ná sy dood het die ryk begin verswak. Sy seun Evil-Merodag het moeilikheid met die priesters van Mardoek veroorsaak en is kort daarna vermoor. Ná hom het ʼn skoonseun van Nebukadneser vir ʼn paar jaar regeer en daarna Nabonidus wat die maan aanbid het. Dit het hom met die priesters van Mardoek laat bots. Hy het veiligheidshalwe in selfopgelegde ballingskap in Arabië gaan woon en sy seun Belsasar koning van Babilon gemaak.
In hierdie tyd het die Perse, wat ʼn betreklike jong volk was, baie sterk na vore begin kom. Kores, hul eerste koning, het Medië onderwerp en hom daarna op Babel begin toespits. Die Babiloniërs het in der haas by Egipte hulp gaan soek, maar was nie teen Kores opgewasse nie. Hy het beide onderwerp. Dit het die ballinge opgewonde gemaak. Die profesieë van Jesaja (40-46) het begin sin maak - God sou Kores gebruik om hulle vry te maak!
- 3. Die profeet Esegiël
Esegiël was net soos Jeremia van priesterlike afkoms en onder die groep wat saam met koning Jojagin weggevoer is wat in Tel Abib gaan woon het. Dit was vóór die verwoesting van Jerusalem. Die stad is tydens die regering van Sedekia verwoes nadat hy teen Babel in opstand gekom het. Sedekia is gevang en na Babel gebring waar sy kinders voor hom geslag is alvorens sy oë uitgesteek is.
Alvorens dit gebeur het, het Esegiël hom laat waarsku om hom te bekeer en nie teen Babel in opstand te kom nie. Sedekia het egter nie geluister nie en met sy gruwels voortgegaan. Hy het nie besef dat God vir oulaas met Juda gepraat het nie!
Alhoewel Esegiël in Babel was, was hy gedurig in die gees met Jerusalem en sy volk besig. God het die omvang van Juda se sondes in ʼn visioen aan hom getoon (Eseg.8-11). So ook die straf wat op hul sonde sou volg. Nadat Jerusalem verwoes is, het Esegiël in opdrag van God met heilsprediking begin om die ballinge te bemoedig.
Die heidene het die ramp (ballingskap) wat oor die Bondsvolk gekom het as ʼn swakheid van God gesien. Hy was nie in staat om sy volk teen die afgode van Assirië en Babel te beskerm nie. Vir die heidene was godsdiens onder andere ook ʼn kragspel. Die volk wie se god die sterkste is, het die oorlog laat wen. Daarom is daar ná afloop van oorwinnings godsdienstige feeste gevier.
Esegiël se heilsprediking het uit twee dele bestaan. God sou die afgodedienaars wat gedink het dat Hy nie sy volk kon red nie, eerstens verkeerd bewys. Hulle was per slot van sake niks nie; slegs tugroedes in sy Hand. Alles is aan God onderworpe; die goeie en die slegte. Daarom het Hy op sy tyd ingegryp en die Bondsvolk so herstel, dat die nasies besef het dat Hy ingegryp en sy volk gered het. Tweedens sou Hy sy volk geestelik herstel deur hulle ʼn nuwe hart en gees te gee (Eseg.36:26).
Hierdie heilsprofesieë het ʼn hoogtepunt in die groot visioen van hoofstuk 40-48 gevind. God het aan Esegiël ʼn herstelde volk rondom ʼn nuwe tempel getoon. Gevolglik het die jong profeet baie geesdriftig aan die ballinge ʼn nuwe toekoms verkondig. Dit was nie neusie verby met die Juda nie. ʼn Nuwe toekoms het vir hulle voorgelê. God sou hulle nie vir ewig tug nie. Daar het vir hulle ʼn nuwe lewe voorgelê!