DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
die boek esra
DIE TERUGKEER UIT BALLINGSKAP
LES 1
Kores
ESRA 1, 2:68-3:13
1. Die edik van Kores
Esra begin waar Kronieke eindig en melding maak van die edik van Kores wat die Jode in Babilon en Assirië toegelaat het om na hul land terug te keer. Die 70 jaar wat God die Babiloniese ryk toegelaat het om wêreldheerser te wees, was verby en die Perse baie anders as die vorige twee wêreldheersers.
God het aan Kores groot oorwinnings gegee om die stigter van die Persiese ryk te word. Dit was alles ter wille van Israel (Jes.45:1-8). Kores het dan ook erken dat God al die koninkryke van die aarde aan hom gegee het en die opdrag om vir Hom ʼn huis in Jerusalem te bou. Ná die wrede regering van die vorige twee wêreldryke het God van Kores ʼn vredevors en herder gemaak (Jes.44:28). Dit sê egter nie dat hy ʼn gelowige was nie. Wat hy vir die Jode gedoen het, het hy ook vir Babel gedoen deur hul afgodsdiens te herstel. Sy seun het weer die Egiptiese godsdiens en ʼn tempel herstel. Kores wou seker maak dat die gode van die onderskeie lande hom goedgesind was.
Sy oproep dat die Jode na hul land kon terugkeer, het ook vir die ou Tienstammeryk (Israel) gegeld. Assirië was uiteraard deel van die nuwe Persiese ryk (2 Kon.17:6). Kores het die Babiloniërs selfs aangemoedig om die Jode met silwer, goud en goedere vir die bou van die tempel in Jerusalem te help. Tydens die uittog uit Egipte het Egiptenare ook kosbaarhede aan die Israeliete gegee.
2. Die eerste bereidwilliges
Alvorens die Jode vertrek het, het Kores die tempelskatte wat Nebukadneser uit Jerusalem laat wegvoer het, aan die Jode terugbesorg. Dis amptelik gedoen toe die skatmeester van Babel dit aan Sesbassar, die goewerneur van Juda, oorhandig het – 5,400 stukke in getal! Ten spyte van hul nuutgevonde vryheid, was die Jode steeds Persiese onderdane.
Binne die bestek van vyf maande het duisende Jode uit Babel en Assirië in Jerusalem aangekom en is die kinders van Israel genoem. Die families wat teruggekeer het, word in Esra 2 en Nehemia 7 genoem. Daar het in totaal 42,360 teruggekeer. Daarbenewens was daar ook 7,376 slawe en slavinne asook duisende kamele, perde, muile en donkies.
3. Die brandofferaltaar word gebou
In die sewende maand Tisri het ʼn aantal godsdienstige plegtighede in Jerusalem plaasgevind. Die 10de dag was die groot versoeningsdag en van die 15de tot die 22ste dag is die huttefees gevier. Aanvanklik was niks in Jerusalem vir ʼn fees in plek nie. Daarom het Serubbabel en Jesua by die belangrikste ding begin – die herstel van die brandofferaltaar.
Jesua was die seun van Josadak, die hoëpriester, wat met die ballingskap na Babel weggevoer is (1 Kron.16:15). Hy het later as hoëpriester onder die teruggekeerdes opgetree en word in Hagai Josua genoem. Serubbabel was die seun van Sealtiël en kleinseun van koning Jojagin wat tydens die tweede wegvoering Babel toe is. Die nuwe leiers was dus ʼn priester- en koningseun.
Toe die eerste dag van die sewende maand aanbreek, het die kinders van Israel soggens en saans begin offer en het die herinstelling van die erediens 'n aanvang geneem. Daarna het die Jode die huttefees sonder ʼn tempel gevier.
In Esra 3:3 word ʼn verdere rede vir die bou van die altaar genoem – die vyandige gesindheid van die omringende volke. Hulle word in 2 Kon.17:24 by die naam genoem en het later met die agtergeblewe Israeliete ondertrou om ʼn nuwe volk, die Samaritane, te vorm. Hulle was egter goddeloos (Esra 9:1). Ná die ballingskap het daar spanning tussen die Samaritane en die terugkerendes ontstaan wat hul oorspronklike eiendom (huise en landerye) opgeëis het. Die Jode was egter bang vir die Samaritane en het hul toevlug tot die Here geneem.
4. Die fondament van die tweede tempel word gelê
Nadat die brandofferaltaar herstel is, is die erediens weer hervat. Die bou van die tempel was volgende aan die beurt. Die fondament kon betreklik maklik uit die puin van die eerste tempel gebou word. Die hout vir skrynwerk moes egter uit Fenisië ingevoer word. En daarvoor het Kores ook die nodige toestemming gegee.
Die bou van die tempel is onder leiding van Serubbabel, Jesua en die Leviete aangepak en die lê van die fondament feestelik gevier. Priesters in ampsgewade het op trompette geblaas soos tydens die vervoer van die verbondsark na die tent wat Dawid laat inrig het (1 Kron.15:24).
Tydens hierdie plegtigheid was die ouer garde wat die eerste tempel geken het, so ontroer, dat hulle hardop gehuil het. Hulle weeklag en die vreugdegeroep van die jongeres kon baie ver weg gehoor word.