STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (75)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 2

DIE TEMPEL WORD VOLTOOI

ESRA 4-6

1.   Die tempelbou word vertraag

Met die bou van die tempel het daar by Serubbabel mense aangekom wat die wenkbroue laat lig het.   Hulle was afstammelinge van die mense wat ná die wegvoering van Israel in ballingskap deur die koning van Assirië in Samaria gevestig is en afgode gedien het (2 Kon.17).   Gevolglik was dit vreemd dat hulle met die tempel wou help.  Hulle het egter aangevoer dat hulle God gedien het.  Dit kan in ʼn sinkretistiese sin waar wees – Hy was net nog ʼn god by hulle versameling!

Die geskiedskrywer sê in Esra 4:5 dat hulle die Jode nie goedgesind was nie.  Wat hierdie mense beweeg het om hulp aan te bied, was aanvanklik nie seker nie.  Uit hul latere optrede blyk dit afguns te wees.  Die Samaritane was nie gediend met die Jode se terugkeer nie omdat daar vir hulle plek ingeruim moes word.  En dit het spanning gebring.  Die Jode het egter die steun van Kores gehad waaraan die Samaritane niks kon doen nie.  Daarom wou hulle met hulle saamwerk om nie verstoot te wees nie.

Nadat Serubbabel die saak met Jesua en die belanghebbende familiehoofde bepreek het, is die Samaritane se aanbod van die hand gewys.   Sodoende is die Joodse godsdiens van sinkretisme bewaar.  Daarna het die Samaritane die Jode teengestaan en hulle probeer verhinder om die tempel te bou.  Een van die metodes wat hulle gebruik het, was om van die invloedryke Jode om te koop.   Dit was so suksesvol dat daar op ʼn stadium nie verder aan die tempel gebou is nie.  Dit blyk dat selfs Kores oorreed is om die Jode te verhinder om verder te bou, waarna die bouery lank stilgestaan het.  Dis eers in die tweede jaar van Darius, Kores se opvolger, hervat.

  1. 1. Die tempel word voltooi

Kores het 10 jaar na die verowering van Babel gesneuwel en is deur sy seun Cambyses opgevolg.  Toe hy agt jaar later oorlede is, het daar ʼn groot verdeeldheid in die Persiese ryk geheers.  Na baie stryd en spanning het Darius die nuwe koning van Persië geword.

Haggai en Sagaria het in hierdie moeilike tyd onder die Jode begin optree en hulle aangemoedig om die tempel te bou.  Hulle het egter moeilikheid van ʼn sekere Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, ondervind.   Terwyl die Jode besig was om te bou, het hy en sy sekretaris die bouperseel besoek en navraag oor die opdrag om die tempel te bou gedoen.  Tattenai was oor ʼn baie groter gebied as Sesbassar aangestel en was by magte om die navraag te laat doen.

Toe die Jode antwoord dat Kores die opdrag gegee het, het Tattenai navraag oor die opdrag by Darius laat doen.  Op Darius se navraag is ʼn skrifrol met die opskrif Oorkonde gevind waarin die bevel van Kores opgeteken was.   Hy het selfs voorskrifte vir die bouwerk gegee – die hoogte, breedte asook die fondse wat uit die staatskas moes kom.   So ook die tempelskatte wat Nebukadneser gebuit het en teruggegee moes word.

Hierdie Oorkonde het bewys dat die Jode reg opgetree het waarop Darius die bevel van Kores gehandhaaf het.  Dit was immers die wet van Meders en Perse!   Tattenai moes die bouwerk laat voortgaan en die onkoste uit die staatskas voorsien, selfs die offerdiere, ander offermateriaal, koring, sout, wyn en olie.

Darius het nie ʼn stokkie daarvoor probeer steek nie omdat hy God wou paai en sorg dat die Jode vir hom en sy seuns bid.  Hy het dus sy eiebelang gesoek.  In al die ander tempels in sy ryk is daar vir hom gebid.  Dit moes ook in Jerusalem gedoen word.   God het hierdie versugting egter gebruik om sy Tempel weer op te rig (Jes.60:10).   Darius sou baie streng teen elke koning en volk wat die godshuis in Jerusalem probeer verwoes, optree.  Gevolglik het die goewerneur sorgvuldig volgens Darius se opdragte gehandel en het die Jode so goed gevorder, dat die tempel in die sesde jaar van Darius gereed was om ingewy te word.

Die inwyding is feestelik gevier.  Omdat daar nie noemenswaardige rykdom was nie, is daar baie minder offers as tydens die inwyding van die eerste tempel gebring.   Tydens die inwyding is 12 bokke as sondoffer geslag; een vir elke stam.  Dit as sulks bevestig ook dat die ballinge uit Assirië na hul oorspronklike grondgebied teruggekeer het.

3.  Die paasfeesviering

Die tempel is gedurende die laaste maand van daardie betrokke jaar ingewy.  Op die daaropvolgende veertiende dag van die eerste maand is die paasfees in die nuwe tempel gehou.  Benewens die kinders van Israel is elkeen wat hom van die onheiligheid van die plaaslike bevolking afgesonder het, ook toegelaat om aan die paasfees deel te neem.   Enkelinge wat hul van die heidendom afgekeer en tot God bekeer het, is in die geestelike gemeenskap opgeneem.

Ná die paasfees is die fees van die ongesuurde brode gevier en sewe dae lank met blydskap geniet (Ex.12:15).  Esra 6:22 noem Darius die koning van Assirië menende dat hy die Assiriese mag bekom het.  Darius was inderdaad koning oor dié gebied.  Om sy Koninkryk op aarde te bevorder, laat God selfs konings sekere besluite neem.  Hy bestier alles (Spr.21:1).

4.   Haggai

Haggai het in die tweede jaar van Darius in Jerusalem begin profeteer.  Die teruggekeerde Jode het moeilik aan die tempel gebou.   Omdat hulle met verdeelde aandag gewerk het, was hulle nie baie ywerig nie.   Gevolglik het hulle meer moeite met hul eie huise gedoen.  Daarom het God hulle met ʼn droogte gestraf.  Haggai het die volk egter bemoedig om die tempel te voltooi, waarna Serubbabel en Jesua moed geskep en dit klaar gemaak het.

5.   Sagaria

Sagaria was ʼn tydgenoot van Haggai en het ná hom begin profeteer.  Hy het die volk ook tot die voltooiing van die tempel opgewek.   Wat hierdie profeet bekend maak, is die gesigte wat hy van God ontvang het – agt in een nag!  God het in diepsinnige beelde aan hom die toekoms van Israel getoon.