DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
DIE BOEK ESTER
LES 1
ESTER
ESTER 1-3
1. Die begin van Ahasveros
Nadat Darius deur sy seun Ahasveros (Xerxes) opgevolg is, het dié ʼn veldtog na Egipte onderneem en deur Palestina getrek. Daar het die teenstanders van die Jode na hom gekom en teen die opbou van Jerusalem beswaar gemaak. Hy het na hulle geluister en beveel om alle werk aan die stad onmiddellik te staak. Ahasveros was bang dat ʼn sterk Jerusalem haar by Egipte kon skaar. Gevolglik was die Jode se eerste ervaring met hom glad nie goed nie.
2. Ahasveros se fees
In die derde jaar van sy regering het Ahasveros ʼn groot ete vir sy dienaars in die vesting Susan laat voorberei. Sy magsgebied het op daardie stadium tot in Afrika gestrek. Toe hy Egipte onderwerp het, het die suidelike grens van die Persies ryk tot teenaan Kus gestrek! Tydens hierdie fees wou Ahasveros dat koningin Vasti voor sy gaste verskyn sodat hulle haar skoonheid kon bewonder. Toe sy weier, was Ahasveros baie kwaad en het in sy radeloosheid sy raadsmanne om hulp gevra. Die woordvoerder het hom op die verreikende gevolge van Vasti se optrede gewys - alle vroue sou hul mans voortaan ongehoorsaam wees. As die koningin dit kon doen, waarom nie hulle nie? Daarna het Ahasveros haar van haar status ontneem en ʼn bevelskrif uitgevaardig dat elke man in sy huis baas moes wees.
3. Ester word koningin
‘n Nuwe koningin moes gekies word. Die koning kon enige dogter van ‘n onderdaan as vrou neem. Gevolglik is al die hubare meisies in Susan byeengemaak, so ook Ester, ‘n Joodse meisie wie se regte naam Hadassa was. Sy was ‘n weeskind wat deur haar neef Mordegai opgepas is. Hulle het in Susan gewoon en was uit ‘n familie wat nie na Jerusalem teruggekeer het nie.
Omdat Ester baie mooi was, is sy deur die koninklike beampte saam met baie ander meisies in die vrouehuis (harem) laat opneem. Die besorgde Mordegai is elke dag daarheen om na haar welstand te verneem en boodskappe na haar te stuur. Hy het Ester aangeraai om nie te sê dat sy van Joodse afkoms was nie. Toe dit haar beurt was om Ahasveros te ontmoet, het sy sy voete onder hom uitgeslaan en koningin in Vasti se plek geword.
- 1. Mordegai in die poort van die koning
Mordegai was oral op die toneel. Toe Ester in die harem beland was hy maar elke dag in die omgewing. Toe sy koningin word, het hy in die poort van die koning gaan sit om te weet wat elke dag met haar gebeur. Hier was baie voetverkeer en die koning se dienaars druk besig was met hul daaglikse pligte. Gevolglik kon hulle hom presies sê wat met Ester aangaan. Dit was juis in hierdie poort waar Mordegai van die plan van twee van Ahasveros se drumpelwagters te hore gekom het om hom te vermoor. Nadat hy Ester daarvan laat weet het, het sy Ahasveros in kennis gestel waarna die twee belhamels tereggestel is.
5. Haman die koning se gunsteling
Oosterse konings het dikwels gunstelinge met groot invloed op die koningshuis en staat gehad. Herodotus beskryf Ahasveros as ʼn ligsinnige, wispelturige karakter. Dit stem nogal met die OT ooreen. Ahasveros het Haman byvoorbeeld sonder enige goeie rede begunstig. Hy het die koning graag na die mond gepraat en graag gevlei. Later het Ahasveros bevel gegee dat al sy onderdane Haman soos ʼn koning moes eerbiedig (1 Kron.29:20; 2 Sam.14:4).
Mordegai het botweg geweier om hom te eerbiedig en hom openlik teen Haman se gunsbejag verset. Dit het Haman se bloed laat kook waarna hy besluit het om al die Jode in Persië te laat verdelg. Hy moes net ʼn geldige rede en geleentheid vind. Daarna het hy na die priesters en towenaars gegaan wat die lot op die 13e van die 12e maand gewerp het. Dit was die maand van die Joodse paasfees waartydens die verlossing uit Egipte gevier is. Dit was in die 12e jaar van Ahasveros se regering en Ester se vyfde jaar as koningin.
Ahasveros het in ʼn onbewaakte oomblik aan Haman toestemming verleen om sy bose plan uit te voer sonder om na die betrokke volk te vra. Al wat Ahasveros geweet het, was dat dit ʼn volk was wat hul eie wette hoër as syne geag het. Haman het voorgegee dat hierdie hele volk die koning se wet oortree het, terwyl net een skuldig was. Haman kon egter na goeddunke handel. Ahasveros het hom selfs sy seëlring gegee om die nodige lasbriewe mee te bekragtig.
Hierin het geskryf gestaan dat al die Jode op een dag verdelg moes word. Hardlopers (Persiese poswese) het die bevel in alle rigtings versprei sodat die mense hulle kon gereedmaak om die Jode op die spesifieke dag om die lewe te bring. As vergoeding kon hulle die Jode se besittings vir hulself neem.
Die stad Susan het eerste van die bevelskrif gehoor. Dit het nie net onder die Jode verwarring laat ontstaan nie, maar ook onder die ander inwoners. Die Jode het ʼn besondere plek in die samelewing beklee; waarom moes hulle uitgedelg word? Terwyl die despotiese willekeur van Ahasveros groot beroering onder die volk gebring het, het hy en Haman gesit en drink!