STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (78)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

TERUG BY ESRA

LES 1

DIE JODE ONDER ARTASASTA

ESRA 7; 8:18-36; 9; 10:1-17

  1. 1. Esra word na Jerusalem gestuur

Nadat Ahasveros in 464vC vermoor is, het sy seun Artasasta (Artaxerxes) koning van Persië geword en vir 40 jaar regeer.    In die sewende jaar van sy regering het Esra uit Babel na Jerusalem verhuis.  Hy was ʼn afstammeling van Aäron en dus uit die hoëpriesterlike geslag.  In Esra se geslagsregister kom daar dan ook name van talle bekende hoëpriesters soos Sadok, uit die tyd van Dawid (2 Sam.8), Hilkia uit die tyd van koning Josia (2 Kon.22) en Seraja uit die tyd van Nebukadneser (2 Kon.25) voor.

Alhoewel Esra amptelik na Jerusalem gestuur is, was dit sy hartsbegeerte om terug te gaan.   Gedagtig daaraan dat Artasasta ʼn paar jaar tevore nie so welwillend teenoor die Jode was nie, het Esra hierdie opdrag as ʼn goddelike beskikking gesien.  Artasasta het tevore ʼn waarskuwingsbrief van ene Rehum ontvang wat hom teen die opbou van Jerusalem gewaarsku het omdat die Jode ʼn opstandige volk was wat besmoontlik teen sy heerskappy kon opstaan (Esra 4:8,12).  Rehum het Artasasta aangeraai om die kroniekboek te lees en homself daarvan te vergewis.

Maar waar het Artasasta aan hierdie kroniekboek gekom?   Die OT konings was sterk op bewaring ingestel en het ʼn argief in die tempel gehad.   Sommige van die skrywers en geleerdes het selfs in die tempel gebly.   Veroweraars het geweet dat sulke argivalia waardevol was en dit dikwels gebuit, nie om te vernietig nie, maar om dit te lees en hulle van die volk en sy geskiedenis te vergewis.

Artasasta het na Rehum geluister en Jerusalem nie verder laat opbou nie.   Hy het genoeg probleme van sy eie gehad, veral met die Grieke.   Daarbenewens was die Egiptenare ook in opstand en moes hy oral vure doodslaan.  ʼn Sterk vesting soos Jerusalem kon net nog probleme gee en daarvoor het hy nie kans gesien nie.

Artasasta se gesindheidsverandering jeens Esra was ʼn werking van God.   Esra het egter geen opdrag ontvang om die mure van Jerusalem te herbou nie, slegs die tempel waarvoor hy silwer en goud vir die aankoop van offerdiere saamgeneem het.    Artasasta het soos Darius die guns van God probeer bekom (Esra 6:10).

In die aanbevelingsbrief wat hy vir Esra gegee het om aan die owerhede in Jerusalem te oorhandig, is Esra se taak duidelik uiteen gesit.   Ahasveros wou hê dat die landstreek rustig moes raak en het geglo dat dit net moontlik was indien dit volgens die wet van God geregeer word.    Esra moes toesien dat dit gedoen word.

Die ongeveer 10,000 Jode wat saam met Esra gegaan het, het die geledere van die teruggekeerde Jode aansienlik versterk.   Dit was basies ʼn tweede terugkeer.   Alvorens hulle vertrek het, het Esra hulle by Ahawa, een van die besproeiingskanale in Babilon, byeen laat kom om te vas en vir ʼn voorspoedige reis te bid.   Esra het nie vir gewapende Persiese begeleiding gevra nie omdat hy geglo het dat God se hand oor hulle sou wees.

God het hul gebede verhoor.   Ná ʼn reis van vyf maande het hulle in Jerusalem aangekom en aan God geoffer.  Daar is onder andere 12 bulle geoffer - vir die hele Israel wat teruggekeer het.  Daarna is Ahasveros se bevelskrifte in sake die bou van die tempel en die hervatting van die Joodse godsdiens aan die owerhede oorhandig wat dit met groot vreugde ontvang het.   Die koms van Esra en sy reisgenote was vir die godsdiens en volkslewe van Israel van onskatbare waarde.

2.   Die werk van Esra in Jerusalem

Nadat Esra en sy mense hul in Jerusalem gevestig het, het ontstellende berigte sy ore bereik.   Baie van die Jode het die Wet van Moses geminag en hulle nie van die heidene in die landstreek afgesonder nie, maar met hulle ondertrou - selfs van die priesters!   God het sulke vermenging streng verbied (Ex.34:15;16; Deut.7:3).   Toe Esra dit hoor, was hy so ontsteld dat hy sy klere geskeur en van sy hare uitgepluk het.   Toe het hy skudbelydenis gedoen en vir die volk by God ingetree.

Esra het baie ernstig met die volksowerstes en daarna ook met die volk gepraat.  Sy aangrypende woorde het hulle trane laat stort.   Daarna het hulle by monde van Seganja beloof om die vreemde vroue weg te stuur en Esra gevra om hulle te help.   Die bywoning van die volksvergadering is verpligtend gemaak.   Almal wat nie binne drie dae in Jerusalem was nie, se besittings sou vernietig word en hyself uit die vergadering van die terugkerende Jode geban word.   Gevolglik was almal daar.

Esra het die volk op hul sonde gewys en ʼn skuldbelydenis voor God geëis.   Daarbenewens moes hulle hul van die heidenvolke in hul midde afsonder en die vreemde vroue onmiddellik wegstuur.   Dit was nie maklik nie.   Nogtans was die suiwerheid van die heilige geslag so ʼn ernstige saak, dat dit nie anders as deur die wegstuur van die vreemde vroue herstel kon word nie.

Hierdie onverbiddelike eis kon baie maklik in ʼn hewige onderlinge stryd ontketen het.   Esra se hervormingsywer het egter so ʼn inpak op die Jode gehad, dat hulle daartoe ingestem het.   Die wegstuur van die vreemde vroue is nie deur elke man self hanteer nie, maar amptelik en op las van ʼn kommissie van familiehoofde waarvan Esra die voorsitter was.   Dit was immers ʼn saak wat die hele volk geraak het en waarmee Esra volgens die wet van God moes handel.   Dit het die kommissie drie maande geneem om die volk van die heidendom te reinig.