DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
DIE BOEK NEHEMIA
LES 1
NEHEMIA
NEHEMIA 1-2, 4-5
1. Nehemia kom in Jerusalem aan
Artasasta het 20 jaar in Persië regeer toe hy vir Nehemia, ‘n hooggeplaaste Jood, na Jerusalem gestuur het. Esra was toe alreeds 13 jaar in Jerusalem woonagtig. Van Nehemia word daar geen geslagsregister opgeteken nie, slegs sy pa se naam. Nehemia het nie ballinge saamgevat nie, maar alleen Jerusalem toe gereis. Hy was Artasasta se skinker en gevolglik ‘n vertroueling van hom (Gen.40:1). Daarbenewens was hy ‘n patriot, vroom en opreg.
Nehemia het van sy broer Hanani wat hom by geleentheid besoek het, verneem dat dit met die Jode in Jerusalem sleg gegaan het. Nehemia kon dit nie glo nie omdat Esra daar was. Dit het egter oor die mure van Jerusalem gegaan wat nie opgebou is nie. Alle pogings het misluk omdat die vyande dit wat opgebou is telkens weer verwoes het.
Esra kon ook nie toesien dat die mure opgebou word nie omdat hy ʼn Skrifgeleerde was en sy volle aandag aan die geestelike suiwering van die volk gewy het. Ná Nehemia se aankoms in Jerusalem het hy egter met hom saamgestem dat alleen God ʼn ommekeer in die verloop van sake kon bring en dat die Jode hulle tot gebed en verootmoediging voor God moes wend.
Die verdriet van sy volk het Nehemia so aangegryp dat Artasasta dit op sy gesig kon lees. Omdat Artasasta baie simpatiek was, het Nehemia sy hart teenoor hom uitgestort waarna Artasasta hom verlof gegee het om vir ʼn tyd lank Jerusalem toe te gaan. Artasasta het aan Nehemia twee briewe gegee; een vir vrygeleide (tipe van paspoort) en een aan die koninklike houtvester in Juda om die nodige hout vir die herbou van die poorte te verskaf.
Nehemia het die hand van God baie duidelik hierin gesien. Artasasta kon ongenaakbaar wees en hom geen vergunning verleen nie. Net die teenoorgestelde het gebeur - die koning se hart was soos waterstrome in God se hand wat dit na God se voorneme gelei het. So het Nehemia in Jerusalem aangekom waar hy op bevel van die koning as goewerneur aangestel is.
2. Nehemia bou die mure en poorte van Jerusalem op
Nehemia was drie dae in Jerusalem toe hy een nag ‘n verkeningstog onderneem het. Hy wou nie hê dat iemand hom moes sien nie. Die vyandiges was juis ongelukkig oor sy aankoms en het vermoed dat hy iets in die mou voer. Hulle was van die volke wat ná die ballingskap daar gevestig is. Met die Jode se terugkeer uit die ballingskappe is hulle uit die Joodse gemeenskap uitgesluit. Hulle is in die tyd van Nehemia deur Sanballat, Tobia en ‘n Arabier met die naam Gesem aangevoer.
Sanballat was ‘n baie invloedryke man en die Jode vyandiggesind. Sy naam is ‘n verhebreeuse Babiloniese naam. Hy was egter van Bet-Horon in Efraim en derhalwe van Israelitiese afkoms. Hy het hom egter met die vyandiges vereenselwig en die naam Sanballat “krag van die maangod” aangeneem. Uit baie ou papiri wat op Olifanteiland in die Nyl gevind is, blyk dat Sanballat die stadhouer (burgemeester) van Samaria was en derhalwe oor ‘n gewapende mag kon beskik het.
Sanballat se dogter was met ‘n kleinseun van die hoëpriester Eljasib getroud. Eljasib was egter ‘n geesgenoot van Nehemia. Sanballat se handlanger, Tobia, was ‘n Ammonitiese kneg en Gesem‘n Arabier. Hy was heelwaarskynlik die goewerneur van die Persiese ryk se Arabiese provinsies. Nehemia het dus baie sterk teenstanders gehad.
Tydens sy nagtelike verkenningstog het Nehemia die verwoeste mure gesien en met die Joodse leiers gaan praat om dit weer op te rig. Toe hy hulle van God se beskikking met sy sending vertel, het hulle geesdriftig ingestem om die mure op te bou. Sanballat, Tobia en Gesem het hulle egter gespot en verdag probeer maak deur soos Rehum te sê dat hulle met die opbou van die mure teen Artasasta in opstand wou kom.
Rehum het intussen tot ander insigte gekom en Nehemia se voorneme gesteun. Dit het sy saak soveel sterker gemaak. Nehemia het vas op God vertrou en aan sy teenstanders gesê dat God hulle sou help. Hy het nie geskroom om aan Sanballat en sy makkers te sê dat hulle geen reg op Jerusalem gehad het nie. Serubbabel het soortgelyke woorde teenoor die Samaritane geuiter toe hulle hom aan die tempel wou help bou. Die Jode moes eksklusief godsdienstig wees.
So het die Jode dan met 42 bouspanne ywerig aan die stadsmure begin bou. Dit het 52 dae geneem om te voltooi. Daarna het Jerusalem weer mure gehad en is die poorte ingesit. Die bouery het moeilik gegaan omdat daar met die een hand gebou en met die ander hand verdedig moes word. Die vyande wou Jerusalem ontwrig. Daarom het Nehemia wagposte opgestel en sy volk gedurig bemoedig.
God het die plan van die vyand verydel waarna hulle Nehemia in ʼn lokval by die dal Ono onder die voorwendsel dat hulle met hom wou onderhandel probeer vastrek het. Nehemia het hulle telkens laat weet dat hy te besig was om met hulle te praat. Daarna het hulle hom weer begin belaster en gesê dat hy priesters aanstel om koning van Jerusalem te word. Nehemia het dit egter as versinsels afgemaak, die mure voltooi en die poorte ingesit. Toe is die stad deeglik gegrendel en kon die inwoners veilig daar bly.
Omdat Jerusalem maar betreklik yl bevolk was, het baie van die terugkerende Jode hulle daar gevestig. Dit was nodig sodat Jerusalem haarself teen vyande kon verskans. Gevolglik is die oprigting van die stadsmure plegtig ingewy en met offerbloed en reinigingswater seremonieel gereinig. Daarna het twee kore verskeie dankliedere gesing en op musiekinstrumente gespeel. Mense van gemengde bloed is nie toegelaat om aan die daaropvolgende volksvergadering deel te neem nie.
3. Uitbuiting
Intussen het daar klagtes ingekom, veral van die vroue, dat baie van die Jode onder armoede, honger en gebrek gebuk gegaan het. Die werk aan die mure was nie loonarbeid nie, maar vrywillig verrig. Dit het vir sekeres voedselgebrek gebring. Mense wat niks besit het en baie kinders gehad het, het verhonger terwyl diegene wat iets besit het, dit moes verpand om kos mee te koop. Weens ʼn mislukte oes was koring betreklik skaars. Daarbenewens is die Jode ook swaar belas. Alhoewel hulle terug in Israel was, moes hulle nog steeds aan die Persiese koning belasting betaal.
Die skerp onderskeidslyne tussen arm en ryk het bitterheid onder die Jode veroorsaak. Baie van die rykes het die pandgeld so verhoog dat hulle van die pandgoedere bekom het. Dit het die posisie van die armes aansienlik laat versleg en rykes die oorhand laat kry. Dieselfde ding het in die dae van die konings gebeur (Jes.5:8; Amos 2:8). Seuns en dogters is as slawe afgestaan en grond het in die besit van rykes gekom wat nie ʼn flenter vir hul arm volksgenote omgegee nie!
Was hulle dan nie almal ballinge nie? Het God hulle dan nie almal vrygemaak nie? Waarom het hulle nou slawe van mekaar gemaak? Veral hulle dogters wat deur hul besitters as byvroue geag is en voorwerpe van die bevrediging van hul wellus geword het. Dit was ‘n Oosterse gebruik waarteen slawe geen verweer gehad het nie!
Toe Nehemia hiervan hoor, was hy uiters verontwaardig en het ‘n groot volksvergadering belê. Hy het die uitbuiters tereggewys en beveel dat al die pandgoedere aan die regmatige eienaars teruggegee moes word. Daarna het daar rus onder die Jode gekom.