STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (80) (SLOT)

(NEHEMIA EN MALEAGI AS SLOT VAN HIERDIE REEKS)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 2

NEHEMIA SUKSESVOL

NEHEMIA 8-9

1.   Die samekoms by die waterpoort

Nadat die mure van Jerusalem opgebou is, is ʼn groot volksvergadering op die eerste van die sewende maand gehou waartydens die volk soos een man op die plein voor die waterpoort byeen gekom het.   Esra het na vore gekom en op ʼn houtverhoog gaan staan waarna hy vir hulle van vroegdag tot die middag toe uit die wet van Moses voorgelees het.   Terwyl die volk eerbiedig na hom geluister het, het Leviete tussen die volk beweeg om aan hulle die woorde van Esra te verduidelik.  Hulle het basies die Hebreeus in Aramees, die taal van die volk, vertaal.

Hierdie voorlesing het so ʼn diep indruk op die volk gemaak dat hulle skuldbewus gehuil het. 

  Esra en Nehemia het die volk egter versoek om eerder bly te wees en fees te vier omdat dit ʼn dag was wat vir God heilig was.   Om bedroef te wees, het nie daarby gepas nie.  Dit het die Jode se  gemoedstemming laat omswaai.
  1. 1. Die huttefees

By nadere ondersoek van die wet, is gevind dat die kinders van Israel op ʼn fees wat op die sewende maand gehou is, in tydelike hutte moes woon (Lev.23:39-43; Deut.6:13-15).   Gevolglik het die Jode dit in ere herstel en ʼn verskeidenheid van boomtakke gaan haal om hutte van te maak en dit op hul erwe, dakke en selfs in die tempelvoorhowe opgerig.  Tydens hierdie fees het Esra daagliks uit die wetboek gelees waarna ʼn vuuroffer aan God gebring is (Lev.23:36).   Sedert hierdie tyd het die huttefees ʼn groot plek in die Joodse godsdiens verkry (Joh.7) – ʼn danksegging vir die terugkeer uit die ballingskap.

3.   Vas- en biddag

Die huttefees het van die 15de tot die 22ste dag van die sewende maand geduur.  Daarna het die volk twee dae later uit vrye wil sondebelydenis gedoen.  Hulle het gevas, rouklere aangetrek en as teken van droefheid oor sonde grond op die hoof gegooi.   Vir ʼn kwart van die tyd is uit die wetboek gelees, waarna ʼn kwart aan gebed en skuldbelydenis afgestaan is.

Hulle het God ook vir al sy weldade ten spyte van Israel se afvalligheid geloof.   Hy kon dat die oorwinnaars hulle vernietig het soos byna in Persië tydens die bewind van Ahasveros gebeur het!   Tydens die fees is daar ook om algehele vrywording gebid.   Die Jode was wel terug in hul eie vaderland, maar heidene het nog steeds na willekeur oor hulle geheers.   Dit het ʼn sug na vryheid laat onstaan.

4.    ʼn Vaste verbond

Esra het groot invloed op die Jode gehad en hulle met eedswering plegtig verplig om met God te wandel.   Dit was ʼn vaste verbond en is op skrif gestel en met die seëls van owerstes Leviete en priesters bekragtig.   Dit was ʼn opregte verbondsvernuwing soos deur Jojadja plegtig onderneem is (2 Kron.23:16).    Sulke vernuwings is ook in die tyd van Hiskia (2 Kron.29:10) en Josia (2 Kron.34:31) geloods.   Dat hierdie verbonde later met nuwes vervang is, dui daarop dat dit nie lank geduur het nie.    Nehemia het as goewerneur eerste geteken.   Daarna die Leviete, priesters en volkshoofde.   Die volgende beloftes is afgelê:

  • Ondertrouery met volksvreemdes sou gestaak word;
  • die Sabbat sou voortaan streng onderhou word;
  • tempelbelasting sou vir die instandhouding van die erediens ingesamel word;
  • so ook tiendes en die hout vir die brandoffer.

5.   Nehemia se tweede verblyf in Jerusalem

Ná 12 jaar in Jerusalem het Nehemia na Persië teruggekeer.  Hy was net tydelik na Jerusalem gestuur (Neh.2:6).   Sy hart het egter in Jerusalem agtergebly.   Na ʼn ruk het hy weer toestemming gekry om na Jerusalem terug te gaan waar ʼn onaangename taak op hom gewag het.   In sy afwesigheid het Tobia, een van sy teenstanders, ʼn kamer in die voorhowe van die tempel vir sy koopmanswerk laat inrig vanwaar hy handel gedryf het.    Nehemia was bitter ontstel daaroor en het die goed uit die kamer laat gooi.  Daarna het hy ook van ander ongerymdhede verneem.   Die bewaring van die tiendes en die versorging van die Leviete en sangers wat goed gereël was, is so verwaarloos dat hulle die tempeldiens verlaat het en mense onwillig was om dankoffers te gee.   Die vaste verbond was baie duidelik vergete!

Daarbenewens het mense op die Sabbat wyn gemaak en koring na Jerusalem vervoer.  Vis en allerlei koopware was op Sabbatte in Jerusalem te koop.   Gevolglik het Nehemia die poorte vir die volle duur van die Sabbat laat sluit sodat geen handel gedryf kon word nie en die Leviete as poortwagters aangestel.   Poortwag was gewoonlik ʼn verdedigingsaangeleentheid maar in hierdie geval het dit ʼn godsdienstige saak geword.

6.  Nehemia werk afvalligheid teen

Die Jode was ‘n ongehoorsame volk.   Ten spyte van Esra se streng maatreëls, het hulle nog steeds met volksvreemdes getrou.   Toe Nehemia hoor hoe die kinders op straat ander tale as Aramees praat, was hy hewig onsteld.   Waar kon hulle anders daaraan kom as aan die knie van volksvreemde moeders?   Nehemia was onthuts want taal behoort ook tot die suiwerheid van die volkslewe!   Daarna het Nehemia hardhandig teen sekere mense opgetree.   Hy het hulle geslaan en hulle hare uitgepluk!    Daarna het hy die volk met die woorde van Deut.7:3 laat besweer.   Hy het ook gesê dat as Salomo nie eens teen die volksvreemde vroue opgewasse was nie, hoe sou gewone mense dit regkry?

Esra en Nehemia het baie gedoen om die volkslewe van die teruggekeerde ballinge volgens die Woord van God, by name die wet van Moses te rig.   Dit was die regte uitgangspunt en pad na geestelike herstel.  Hulle was instrumente in God se hand en is deur die volk geag.

DIE BOEK MALEÁGI - laaste OT-boek

Maleagi is die laaste boek in die OT en het heelwat later as Haggai en Sagaria opgetree.   Die tempeldiens was byvoorbeeld toe alreeds herstel.

God het Maleagi geroep om Israel oor hul traagheid met die tempeldiens aan te spreek.   Mense het al hoe minder kerktoe gekom.

Verder moes hy hulle ook oor dieselfde sonde aanspreek waarteen Esra en Nehemia gestry het - gemengde huwelike en versuim om dankoffers te gee.

Hy sluit egter op ‘n positiewe noot af en voorspel dat die Messias na Wie se koms die Jode eeue uitgesien het, aan die kom was en dat hy ‘n profeet as wegbereider sou gebruik,  een wat soos ‘n Elia van ouds in ‘n tyd van groot geestelike verval sou optree.   En hierdie profeet was Johannes die Doper (Luk.1:17).

So begin die Nuwe Testament dan met die vervulling van die laaste belofte van die Ou Testament.