WAT IS ENGELE...

... EN WAT DOEN HULLE?

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Aktuele geloofsonderwerpe: Ds AE vd Berg

’n Kind is oor die algemeen bang vir die donker en sal nie sommer alleen in ’n donker kamer inloop nie.  Maar as een van sy ouers saamloop, is hy nie meer bang nie want iemand groter as hy verdryf die vrees.  Namate ons groter word, begin ander dinge ons bang maak –slegte omstandighede, siektes, misdaad, onreg ens.   Bang mense dink nie altyd baie logies nie en vrees die dinge wat hulle nie verstaan nie.

Maar toe ons tot bekering gekom en Jesus as Verlosser aanvaar het, het ons onmiddellik rustig geword omdat die Bybel vir ons sê dat niks met ons gebeur waarvan ons Hemelse Vader nie weet nie. “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Ps.103:13).

Jesus stap soos ’n vader saam met sy kinders die donker kamer van die lewe in.  Hy is die Een wat groter is.   Ons durf niks vrees nie, want met Jesus by ons, is daar niks in die lewe om te vrees nie.   Hy leer ons ook om slegte omstandighede reg te verstaan.  Daarvoor het ons God se Woord.   Hoe meer ons dit lees, hoe beter verstaan ons die lewe as dit donker word en hoe minder vrees ons.   Wie met Jesus in die sonskyn wandel, durf nooit die skadu’s te vrees nie!

In Ps.91 roep die digter gelowiges op om onwrikbaar op God en sy beskerming te vertrou.  En as die storms van die lewe om jou woed, om by die Here te skuil.   Hy gee vir elkeen van sy kinders persoonlik om en beskerm hulle dienooreenkomstig.  Hy doen dit op drie besondere maniere.

  1. Deur net te praat en dit gebeur.  Dink aan die storm op die See van Galilea toe Jesus die storm onmiddellik laat bedaar het! “…Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom” (Luk.8:24)
  2. Deur ander mense te gebruik om ons te beskerm.  Dink maar aan Dawid wat Goliat verslaan en die vyand hakskene laat wys het.
  3. Deur van engele gebruik te maak.

Kom ons let op God se gebruik van engele:  “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou wee.  Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie” (Ps.91:11+12).

In Mt.4 lees ons van Satan wat Jesus in die versoeking probeer lei het.  Hy het Jesus na die hoogste punt van die tempel geneem en gesê dat Hy moes afspring omdat God Hom volgens Ps.91:11 en12 sou bewaar en haal dit aan.  Jesus het hom uit Deut.6:16 tereggewys waar daar staan dat jy God nie mag versoek nie.

Gelowiges bid nie tot God dat sy engele hulle moet beskerm nie.  Hulle bid nie tot engele nie, maar tot God vir beskerming wat dit op sy eie tyd en unieke manier verleen.  Dink maar aan die verhaal van Job!

Die mens wat biddend afhanklik van God leef, weet dat sy Hemelse Vader ’n Beskermer is.  Luister hoe getuig Dawid: “Here Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd” (Ps.140:8).   Daarbenewens bring die Heilige Gees rustigheid in ’n lewe: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).

God se beskerming beteken egter nie dat ons nooit op aarde sal swaarkry en onaangenaamhede beleef nie.  Nee, God bewaar ons in die sin dat die nood soos ’n storm verby sal gaan en ons geestelik sterker maak.  Daarvoor gebruik Hy ook sy engele om ons van, in en deur gevare te bewaar.

Artikel 12 van die Nederlande Geloofsbelydenis sê die volgende oor engele: “…Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien” .

Engele is hemelwesens met spesifieke opdragte.  Ons weet nie presies wanneer God hulle gemaak het nie.  Dit was in elk geval voor die skepping van die mens.  Engel beteken gesant of gestuurde.   In Openb.2 en 3 lees ons telkens: “En skryf aan die engel van die gemeente…” Dis nie ’n goeie vertaling nie.   Die N.A.V. vertaal dit met leraar, ook nie ’n direkte vertaling nie, maar met die bedoeling van gesant of gestuurde.

Engele het ook name.   Die Bybel noem twee engele by die naam– Gabriël (Dan.10) en Migael (Openb.12).   Engele het besondere asook gewone take gehad – om God se uitverkorenes te bewaar, Hom te dien en bly te wees wanneer ’n sondaar hom bekeer: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer…” (Luk.15:7).

Engele bewaar gelowiges van gevare.  In Ps.91 lees ons van engele ons van die gevare van onheil en nood bewaar.   By geleentheid het die Assiriërs Jerusalem lank beleer en het dit sleg met Juda gegaan.   Hulle het egter ’n godvresende koning (Hiskia) gehad wat tot God om verlossing bly bid het.

Toe die nood op sy hoogste was, het God op ’n besondere manier die verlossing gegee: “En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtig duisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg klaarmaak, was dit almal dooie liggame” (2 Kon.19:35).

Engele bewaar ons op God se bevel in gevare.   In ’n noodsituasie hou Hy sy kinders vas soos destyds in Jerusalem toe geen Assiriërs Jerusalem binnegedring het nie.  God bewaar ons ook deur gevare.   Dink maar aan Daniël in die leeukuil en sy antwoord aan koning Darius: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie..” (Dan.6:23).

Was daar dan nie ook ’n engel saam met Daniël se drie vriende in die brandende vuuroond nie?   “Toe het koning Nebukadnesar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê:  Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie?  …..Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur  wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos diévan ’n godeseun” (Dan.3:24,25).  God begewe of verlaat nooit sy kinders nie!

Engele bewaar nie alle mense ongekwalifiseerd nie.  Ps.91 sê wie deur hulle beskerm word; diegene wat hul toevlug tot God neem en by Hom skuil; die gelowiges.  God het hulle uitverkies om Hom te dien en met hul lewens te verheerlik.  Daarom is engele in diens van God en nie van mense nie.  Ons sien hulle nie.   Ons praat nie met hulle of bid tot hulle soos die Roomse Kerk deels doen nie.  Ons bid tot God, vertrou op Hom en soek by Hom beskerming!

Al kry gelowiges ook swaar op die aarde en voel dit asof God van hulle vergeet het, bly hulle op sy Woord vertrou wat sê: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom.8:38 en 39).

Een ding waarna gelowiges uitsien, is om in die hemel saam met die engeleskaar God vir ewig te loof en te prys!  Hoor hoe mooi sluit koning Dawid die pragtige Ps.103 af: “Loof die Here, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!   Loof die Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!  Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die Here, o my siel!” (:20-22)

Dank God vir sy beskerming hetsy direk of indirek deur engele.  Ons kan maar net soos koning Dawid uitroep:  “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; u stok en u staf die vertroos my” (Ps.23:4).