Ds AE van den Berg
Lees reeks by Aktuele geloofsonderwerpe: Ds AE vd Berg
" Oorwinning vereis ook sterk optrede. Daar kom tye dat jy moet ophou praat en dinge begin doen... deur die geloof dit wat joune is, in die Naam van Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees te vat. Dis die enigste wenresep.Jou oorlewing in hierdie ontwrigte land hang alles hiervan af! "
1 Sam.17:37
“Verder sê Dawid: Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan en mag die Here met jou wees!”
God was baie lief vir Dawid en het hom soms in moeilike situasies laat beland ten einde hom te leer om nie op mensekrag te vertrou nie maar net op God s’n. Dawid het die lesse geleer en geestelik geskitter. In 1 Sam.17 het Dawid voor ’n reuse probleem te staan gekom en die keuse wat hy moes maak, sou die dood of die lewe vir hom beteken het. Dawid het reg gekies en God vir die oorwinning vertrou, waarna ’n wonder in die dal van die terpentynboom gebeur het.
Die dag het vir Dawid soos al die ander dae begin; hy het skape opgepas. Dié dag sou egter baie anders as al die ander dae eindig!
Sy pa het hom vroeg die oggend na sy broers gestuur wat saam met Saul geveg het. Omdat daar destyds geen weermag was nie, het gewone burgers die koning kom help as daar oorlog gevoer moes word. So het Dawid dan by die laer van Israel aankom en gesien dat hulle bang was vir die Filistyne, veral die spottende drie-meter reus. Niemand het kans gesien om teen Goliat te veg nie, nie eens koning Saul nie!Terwyl Israel in hul tente geskuil het, het Dawid gehoor hoe die reus teen God laster. Dit kon nie so gelaat word nie. Iets moes daaraan gedoen word. Ja, die dag het vir hom dood gewoon begin, maar voordat die son onder gegaan het, het hy van aangesig tot aangesig met ’n reuse probleem te staan gekom.
Dis hoe die reuse van die lewe werk; hulle gee selde kennis dat hulle kom. Jy staan die oggend op en aanvaar dat dit nog ’n dag soos al die ander sal wees, en daar staan hy daar – ’n reus wat jy nie kan vermy of wegwens nie! Omdat hulle ons gewoonlik onverhoeds betrap, maak dit ons bang. Van hulle is so groot, dat ons nie weet wat om met hulle te doen nie!
Ons leef in ’n wêreld van reuse. Probleme wat vlak voor ons kom staan en ons uitdaag om teen hulle te veg. Om te wen, moet ons een baie belangrike ding weet: Reuse verskyn nie sommer vanself nie, dis vooraf bepaal; alles deel van God se plan met ons. God wil hê dat ons rustig moet raak; niks wat in ons lewe gebeur, is nie deel van God se plan met ons nie. As ons dit besef, kyk ons baie anders na die reuse in ons lewe.
Ons is seker ook maar baie soos oud-Israel wat, nadat hulle Egipte verlaat het, twee jaar lank deur die woestyn getrek het voordat hulle op die walle van die Jordaanrivier aangekom het om die beloofde land binne te trek. God het dié land aan hul beloof. Hulle moes net deurtrek. En wat doen hulle? In plaas van die land in besit te neem, stuur hulle twaalf verkenners uit om dit te gaan verken. Tien kom met ’n negatiewe verslag terug: “Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak….” (Num.13:33). Die boodskap is duidelik: Die mense is te sterk. Hulle sal Israel vernietig! En Israel het hulle, ten spyte van God se belofte, geglo! As straf sou hulle vir ’n verdere agt-en-dertig jaar in die woestyn deurbring!
Nou ’n paar vrae: Het God van hierdie reuse geweet? Kon Hy hulle nie maar voor die tyd verwyder het sodat Israel die beloofde land sonder teenstand kon binnetrek? Het God dit so beskik dat hulle daar moes wees? Die antwoord op al dié vrae is: JA. Ja, God het geweet dat hulle daar was. Ja, Hy kon hulle verwyder het. Ja, Hy het hulle toegelaat om aan te bly. Waarom? Omdat Hy wou hê dat Israel hierdie reuse die hoof moes bied. In plaas daarvan het hulle ’n lyn gesny! En raai wat? Toe hulle agt-en-dertig jaar later weer op dieselfde plek kom, was die reuse steeds daar en het op hulle gewag!
Ons vind dieselfde trant dwarsdeur die Bybel; drie jong Jode bevind hul in Babel in die brandende vuuroond, Daniël beland in ’n leeukuil, die dissipels bevind hul op see in ’n storm ens. God het al hierdie dinge as deel van sy volmaakte plan beskik!
Die reuse in jou lewe het nie toevallig verskyn nie. God het dit op sy bepaalde tyd toegelaat sodat jy dit die hoof moet bied. Wat maak jy met die reuse in jou lewe? Klap dit jou telkens onderstebo of aanvaar jy dit as ’n tasbare simbool van God se wil in jou lewe? Ons het een van twee keuses: Om òf soos Saul vir die reus weg te kruip òf dit soos Dawid te trotseer. Reuse in jou lewe kom op God se bepaalde tyd ten einde jou te help om in ’n wêreld van reuse te oorleef.
Toe Dawid die lastering van Goliat hoor, was hy oortuig dat daar iets aan hierdie reus gedoen moes word - hy moes doodgemaak word. Mense het hom selfs probeer ontmoedig, maar nie van plan laat verander nie. Sy geloof het op die vaste fondamente van vertroue in God gestaan; nie in die leër van Saul of in die wapenrusting wat hom aangebied is nie, maar in God. Dawid het Iemand baie groter as die reus aan sy kant gehad en ons weet wat die uitslag was!
Kom ons leer saam met Dawid ’n paar kosbare lesse om die reuse in ons lewens te beveg:
- God het jou nie gered om deur een of ander reus vernietig te word nie. Hy wil hê dat jy oorwin. ’n Reus is deel van sy ewige plan met jou. Beproewing maak jou geloof sterk.
- God verander nie in die middel van die stroom van rigting nie, maar stap die pad enduit. Een van God se wonderlikste eienskappe is sy onveranderlikheid. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb.13:8). Die God wat al die wonders in die Bybel verrig het, is dieselfde God vandag!
- God stel diegene wat op Hom vertrou, nooit teleur nie. Wie op mense vertrou, misluk. Wie op God vertrou, misluk nooit. Ons God is nie swak nie, maar ’n kragtige Oorwinnaar. Jesus sê: “…aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde” (Mt.28:18).
Waarop vertrou jy as reuse in jou lewe opduik? Op mense-hulp, ’n stewige bankbalans, jou eie vermoë? Al hierdie dinge kan val. Slegs vertroue op God val nooit! Ons oorlewing hang van ons gewilligheid om Hom te vertrou af.
Oorwinning vereis ook sterk optrede. Daar kom tye dat jy moet ophou praat en dinge begin doen. Dawid het in die dal van die terpentynbome reguit op Goliat afgestap, sy geloof in God in die openbaar verklaar en ’n klip geslinger wat Goliat gedood het. Wat ’n groot oomblik in hierdie jongman se lewe - hy het iets aanskou wat net hy alleen geglo het moontlik was en niemand anders in Israel nie. Dis geloof!
Niks het sedertdien verander nie. Gelowiges is steeds oorwinnings beloof: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus…” (2 Kor.2:14). “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom.8:37)
Al wat ons moet doen, is om soos Dawid die Here 100% te vertrou en die reuse in ons lewe in die geloof tegemoet te stap. Waarom het Dawid vyf klippies opgetel terwyl net een genoeg was? Hy kon miskien met die eerste een mis. Dan kon hy minstens aanhou, totdat hy suksesvol was. So moet ons aanhou slinger totdat die reuse in ons lewe dood is, nie omdat ons so goed mik nie, maar omdat ons ’n God dien wat nooit mis nie.
God beloof aan ons ’n oorwinning deur sy Seun, wat die dood oorwin en beloof het om ons telkens oorwinnings oor die reuse in ons lewens te gee. Dit bring ons voor een van twee keuses te staan - ons kan in ons tente wegkruip en hoop dat die reus in ons lewe sal verbyloop. Hy sal nie. Goliat het ook bly staan en nie verdwyn soos wat baie Israeliete gehoop het nie. Op die 40 ste dag was hy selfs op pad na Israel se laer! Nee, jou reus sal nie weggaan nie, hy kom al hoe nader om korte mette met jou te maak, indien jy niks daaraan gaan doen nie.
Die tweede keuse is om na vore te kom en deur die geloof dit wat joune is, in die Naam van Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees te vat. Dis die enigste wenresep. Jou oorlewing in hierdie ontwrigte land hang alles hiervan af!