Ds AE van den Berg
Lees reeks by Aktuele geloofsonderwerpe: Ds AE vd Berg
"Ons staan aan die einde van ’n jaar wat vinnig verby is. Dis nou ’n goeie tyd om ’n geestelike voorraadopname te maak en onsself die vraag afvra: Wat het ek hierdie jaar in belang van God se koninkryk, ook in die plaaslike koninkryk, gedoen? Was ek eerbaar?"
“En die Here vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie; ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad…”
Wat ’n getuigskrif komende van God self! Is dit nie wonderlik as God dit van ’n sondaarmens dink nie! Wat het Job so uitsonderlik gemaak? Hy het iets gehad waaraan nie net die wêreld nie, maar ook die kerk vandag mank gaan: inbors. Daarsonder is gelowiges se getuienis min werd: “Maar laat julle woord wees: Ja, ja, nee nee. Wat meer is, is uit die bose” (Mt.5:37).
Waarom was God vir Job lief? Omdat Job vroom was; hy het inbors gehad. Wat is inbors?
Dit is wanneer jou binnekant groter as jou buitekant is. Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer jou buitekant groter as jou binnekant is, leef jy ydel, iets waarvoor Hollywood veral berug is! Hierdie stad wemel van drank-en dwelmverslaafde rolprentsterre met reuse buitekante maar piepklein binnekante. Hulle huwelik- en gesinslewe stort gereeld in duie.Job was ’n uitsondering van sy tyd. Hy het met sy voete plat op die aarde gestaan sonder eiewaan, masker of voordoenery. Job was opreg. Mense het presies geweet waar hulle met hom staan; sy ja was sy ja en sy nee sy nee. Daar was nie verskuilde agendas nie. Daarom het mense hom vertrou.
Ex.20: 5 sê dat God ’n jaloerse God is. Wat beteken dit? Dat Hy die liefde wat Hom toekom met niemand anders deel nie. Hierdie gebod brei op die tweede gebod teen afgode uit. “Niemand kan twee Here dien nie; want of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en mammon dien nie” (Mt.6:24). Ons moet God eerste stel soos wat Job gedoen het.
Job het God met ’n onverdeelde liefde liefgehad. Vir hom was ’n ding of lig of donker; daar was geen grys gebiede in sy lewe nie! Dit het van hom ’n man van inbors gemaak, rotsvas, vroom, opreg, dienend, geen jakkalsdraaie, leuens of kullery nie. Kortom: Job was ’n man na God se hart. Inbors laat enige mens kop en skouers bo ander mense uitstaan. Goeie maniere beïndruk mense net tydelik, maar inbors beïndruk hulle vir altyd.
Kom ons plaas Job vandag in ’n paar moderne beroepe en kyk hoe hydaarin sou vaar:
- As winkeleienaar sou hy mense nie vir ’n produk duurder laat betaal as wat dit werklik werd was nie. “’n Valse weegskaal is vir die Here ’n gruwel, maar in ’n volle gewig het Hy behae” (Spr.11:1).
- As motorwerktuigkundige sou hy nie meer werk doen as wat werklik nodig was nie en al die onderdele wat op die faktuur verskyn, werklik vervang het.
- As eiendomsagent sou hy nie onbillike kommissie uit ’n verkoper se sak jaag nie.
- As versekeringsmakelaar sou hy nie nog ’n polis aan iemand probeer verkoop net om meer kommissie te verdien nie.
- As prokureur sou hy sorg dat die waarheid seëvier en geen skuldige loskom nie.
So is daar in alle beroepe ’n paar mense met inbors en baie daarsonder. Alle suksesvolle mense het nie per sé inbors nie. Sukses sonder inbors is soos kos sonder sout; dit vat die honger weg, maar dit smaak glad nie lekker nie.
Mense met inbors het karakter. En wat ’n behoefte het die wêreld nie aan sulke mense nie. Hulle staan kop en skouers bo die gemiddelde mens uit, al gaan hulle ook deur beproewing soos in Job se geval. Wat ’n aanskouingsles is hy nie vir ons nie! Al het dit ook hoe sleg met Job gegaan, het omstandighede nooit sy karakter verander nie. Benewens die geloof in God was inbors al wat standgehou het toe hy alles, selfs sy10 kinders, verloor het.
Inbors word nie tydens ʼn krisis gevorm nie maar dit word in die storms van die lewe ten toon gestel. Omdat dit deel van die innerlike krag van die menslike gees is, kan dit nie weggewaai en vernietig word nie Toe die storms van die lewe in sy lewe gewoed het, het Job net sy besittings verloor, maar nie sy inbors nie. Waarom nie? Omdat dit op die vaste fondament van ’n lewende geloof in God gebou was. Beproewings het gemaak dat Job sy kop nie baie hoog kon optel nie. Inbors het egter verhoed dat hy dit laat sak.
Beproewing stroop baie mense van hul maskers waarna jy die werklike persoon ontmoet. Mense is soos wyn – in die storms van die lewe word sommige asyn terwyl ander weer meer karakter verkry. Mense is ook soos getinte ruite. As die son skyn, glinster almal. Maar as dit donker word, verraai net ‘n lig wat binne brand, dat daar lewe in die huis is. Hoe lyk jou lewe? Het jy al ’n donkerte beleef? Kon mense sien dat daar lig in jou huis skyn?
Inbors verryk alle lewensterreine - die huwelik, ouerskap, saketransaksies, vriendskap ens. Die meeste van alles verryk dit ons verhouding met God. Hy sien alles raak en weet presies wat in ons hart aangaan: “Here, U deurgrond en ken my. Ken my sit en my opstaan; U verstaan van vêr my gedagte” (Ps.139:1 en 2). Daarom is mense van inbors vrotsige toneelspelers. Hulle kan nie voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie. Goddank daarvoor!
Mense met inbors hoef nie ’n goeie geheue te hê nie. Jy hoef nie te onthou vir wie jy laas ’n kool gestowe het nie. Jy hoef nie bang te wees dat daar iewers ’n geraamte uit ’n kas gaan spring nie. Eerlikheid en inbors is stalmaats. Op die reguit pad van die lewe is daar geen tolgeld te betaal nie, omdat die reguit pad altyd na die regte dinge lei.
Inbors is ’n kosbare skat. Ons moet dit goed bewaar, want as dit eers verdwyn, is talle ander mooi eienskappe ook daarmee heen. Ja, inbors is soos ʼn eiland met steil kranse. As jy dit eenmaal verlaat, kom dit selde weer daarbo uit.
Inbors en geloof is feitlik onafskeidbaar. God het ’n behae in inbors soos die boek Job dit duidelik uitspel. ’n Gelowige met inbors word ’n verlengstuk van God se hande en voete en sê soos ’n Jesaja van ouds: “Hier is ek, gebruik my!” Inbors komplimenteer ons verhouding met Christus. Almal sien dit.
Beroemdheid daarenteen is soos ʼn damp wat verdwyn en gewildheid soos ʼn ongeluk wat vir ʼn tydjie aandag trek. Rykdom is soos ʼn voël wat maklik wegvlieg, maar inbors staan onwrikbaar vas. Mense kan dit bewonder, maar nooit naboots nie.
Inbors maak gelowiges verantwoordelik vir mekaar. Job het groot sorg vir sy kinders geneem al was hulle al groot. As hulle geëet en feestelik verkeer het, het Job hom voor God afgesonder en gebid om hulle te vergewe indien hulle dalk in hul jolige stemming teen Hom gesondig het. Inbors maak van ouers goeie verbondouers!
Jesus is egter die volmaakte voorbeeld van inbors. Hy het nooit gesondig of iemand te nagekom nie. Hy het selfs onskuldig vir ander se oortredings gesterf. Ja, Hy is die Koning van inbors.
Ons staan aan die einde van ’n jaar wat vinnig verby is. Dis nou ’n goeie tyd om ’n geestelike voorraadopname te maak en onsself die vraag afvra: Wat het ek hierdie jaar in belang van God se koninkryk, ook in die plaaslike koninkryk, gedoen? Was ek eerbaar? Het ek my kinders volgens die voorskrifte van die verbond opgevoed?
Inbors is soos reukwater vir vroue en naskeermiddel vir mans. Diegene wat dit gebruik, is beswaarlik bewus daarvan, maar ander wel. Mag ons medegelowiges in die jaar wat kom die kaart van inbors, eerbaarheid en lojaliteit baie duideliker in ons lewe raaksien!