REG TOT VERSET TEEN 'N GEWELDDADIGE, GODDELOSE OWERHEID

Ds Willem van Schalkwyk

"Christus het ons nie duur met sy bloedgekoop sodat ons ons 'gehoorsaamheid aan die begeertes van mense moet verpand nie – nog minder dat ons aan hulle goddeloosheid uitgelewer moet wees!' "

Die beginsel is: Elke owerheid het altyd net beperkte mag en gesag. Die oomblik wanneer 'n onderdaan 'n keuse moet maak tussen gehoorsaamheid aan die owerheid en sy gehoorsaamheid aan God, verval sy verpligting tot gehoorsaamheid aan die owerheid.  Die Bybel is baie duidelik: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense (Hand. 5:29).

Calvyn sê: "Die HERE is die Koning van die konings. Wanneer Hy sy heilige mond oopmaak, moet ons voor en bo alle mense na Hom luister... Wanneer hulle (die owerheid) 'n bevel teen Hom aan ons gee, moet dit geen plek of waarde by ons hê nie." Hierdie beginsel vind hy by Daniël: Toe hy weier om die koning te aanbid, sê hy in sy verweer dat hy geen onreg aan die koning gedoen het deur aan God gehoorsaam en aan die koning ongehoorsaam te wees nie (Dan 6:22).

"Wanneer die owerheidsbepalinge nie in oorstemming is met Gods Woord nie... die reg nie gehandhaaf word nie, die regbank nie betroubaar is nie, minderhede uitgebuit en onderdruk word, kortom, wanneer die lewe onmenslik en ondraaglik geword het, het die burgers die reg van verset"  -Heyns.  Waarom? Omdat die owerheid nie God se eer in die oog het nie, maar eiebelang.

Calvyn stel dit nog sterker: Wanneer die owerheid wette maak of optree op 'n wyse wat in stryd is met die Woord van God, mag die Christen nie daaraan gehoorsaam wees nie. Wanneer die owerheid sy roeping as God se onderdaan vergeet en sy "horing teen God... verhef", het hy sy eie mag vernietig. Daarom wek die HERE soms vanuit sy diensknegte mense op om openbare wrekers te wees. Hy rus hulle toe om die misdadige oorheersing te bestraf en 'n volk wat deur onregverdige maatreëls onderdruk is, van hul ellende te verlos. So het Hy in die geskiedenis konings en rigters gegee om Israel van vreemde oorheersing te bevry.

Dit is uiteraard belangrik om te verstaan dat verset die einde van 'n proses is en nie die begin nie. Slegs wanneer voorafgaande onderhandelinge en samesprekings misluk het, kan 'n volk gelei word om in verset op te staan.

Calvyn sê dat hierdie verset nie deur die volk in hulle private hoedanigheid mag plaasvind nie.  Mense mag nie reg in eie hande neem nie. Onder leiding van wettige volksverteenwoordigers is dit wel geoorloof dat die volk opstaan teen tirannieke oorheersing. Nog meer, indien hierdie 'volksamptenare' nie namens die volk optree nie en die "konings, wat onbeheersd tekere gaan en nederige mense vertrap, oor die hoof sien" en hulle nie straf nie, verraai hulle "bedrieglik die vryheid van die vollk" en is hulle skuldig aan goddelose troubreuk. Hulle is immers "kragtens God se beskikking as beskermers van die volk aangestel."

Wanneer in die konteks van geweld na verset gekyk word, moet beslis verstaan word dat hierdie nie 'n poging is om die volk daartoe aan te moedig nie. Hier is slegs na die beginsels gevra wat vanuit die Woord tot ons spreek. Ons moet steeds verstaan dat enige vorm van verset of oorlog sy diepste wortels vind in die sondige werklikheid waarbinne ons lewe. Sonde veroorsaak dat mense so ver van mekaar verwyderd raak dat die pen en die tong vervang word met die swaard. Juis daarom is die enigste genesing: verlossing uit die sonde. Wanneer  partye mekaar in die versoeningsbloed van Jesus Christus aansien, verdwyn alle verskeurdheid en liefdeloosheid. Helaas is dit deel van die ewigheidsverwerkliking waarna ons uitsien.

Verantwoordelike kinders van die HERE sal dus nie sommer vir die geringste aanleiding teen die owerheid in opstand kom nie.  Nugter moet elke wet en elke optrede van die owerheid aan die Skrif getoets word sodat ons nie emosioneel teenoor hulle optrede reageer nie. Vanuit die gesag van die Skrif moet ons  getuig dat die owerheid in bepaalde sake nie aan God gehoorsaam is nie. Juis daarom is dit ook vir ons nodig om vir die owerheid te bid sodat ons 'n rustige en stil lewe mag lei. (1 Tim 2:1,2).

Ten slotte moet ons sê dat die HERE nie van ons verwag om onsself bloot te stel aan barbaarse terrorisme en die grypsug van mense wat niemand se eiendom ontsien nie.  Juis daarom sluit Calvyn sy Skrifondersoek na die gesag van die owerheid en die verantwoordelikheid van die onderdane af deur te sê Christus het ons nie duur met sy bloedgekoop sodat ons ons "gehoorsaamheid aan die begeertes van mense moet verpand nie – nog minder dat ons aan hulle goddeloosheid uitgelewer moet wees!"