LIGGAAMS- DEURPRIEMING

Ds AE van den Berg

Ex.21:1-6; Rom.12:1-2; 1Kor.6:12-20

Die openbaring van die Antichris is voor die deur.  Dit kan aan die wêreldwye oplewing in die heidendom gesien word; ook in Suid-Afrika.  Ná die prysgawe van politieke mag in April 1994 het ons land ’n ongekende terugkeer na die heidendom beleef.  Dink maar net aan die beeldmateriaal van die toordokter voordanser tydens die inhuldiging van Nelson Mandela.

Laasgenoemde is kort na sy vrylating terug na sy geboortegrond (Oos-Kaap) om sy voorvadergeeste vir sy vrylating te gaan dank.   Net daarna het ’n NG Sinode hom as ’n held ontvang en “Laat Heer U seën op hom daal” toegesing.   Daarna het die heidendom in ons geliefde vaderland oorhand toegeneem.

Dit kan o.a. in insnydings in die vel, liggaamlike deursteking, neusringe, wenkbrou-ringe, tongknopies,  oorringe, tatoeëring en talle ander mismaaksels gesien word.  Dis alledaags.   Ons was tot 20 jaar gelede nouliks hiervan bewus!

Die Bybel roep ons op om heilig te leef; afgesonder vir God.  Derhalwe geld die argument: ”Maar almal doen dit”,  nie vir gelowiges nie.  Hierdie tekens getuig van mense se toenemende betrokkenheid by die heidendom.

Twee van die opvallendste heidentekens is tatoeëring en liggaamsdeurprieming  Dit kom basies by alle heidennasies voor en sigbare tekens dat so ’n persoon nie aan die lewende God behoort nie.  Die Bybel is duidelik daaroor.   “Julle mag ook geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie.  Ek is die Here” (Lev.19:28).

Die Woord van God roep gelowiges op om nie aan die wêreldgelykvormig te word nie: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.,2:9).   Ons kom juis uit die duisternis na die lig.  ’n Mens gaan nie op sy spoor terug nie!

Gelowiges moet hul liggame met agting bejeën.  Dis nie ons eie om daarmee te maak wat ons wil nie.  Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons nie aan onsself behoort nie, maar met liggaam en siel aan God.   Ons liggaam behoort aan Hom wat ons geskape het.   Daarom is ons liggaam ’n tempel van die Here solank as wat dit die siel huisves.  Wat ná die dood daarmee gebeur, is onbelangrik.

Die Bybel vertel ons van heidene wat hul liggame mishandel het.  Die gebeure by Karmel waar Elia die Baal-profete uitgedaag het om vuur uit die hemel te laat neerdaal, is ’n treffende voorbeeld: “En hulle het hard geroep en hulself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon,18:28).  Let daarop dat dit volgens hulle gebruik was om hul liggame te skend.

Die besetene van Gadara het sy liggaam met klippe stukkend geslaan en naak rondgeloop.   Satan haat God en laat gevolglik mense hul eie liggaam aanval omdat dit ’n tempel van die Here is.   In Rigt 8:24 word van Ismaelitiese mans gepraat wat goue oorringe gedra het.  Hulle was heidene.

’n Deurstoke oorlel was in Bybelse tyd ’n openlike aanduiding van voortdurende slawerny.   By geleentheid het God met Jakob oor gruwels in sy gesin gepraat waarna Jakob almal wat vreemde gode in hul besit gehad het aangesê het om dit, asook die ringe aan hulle ore vir hom te gee: “Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode ….en die ringe aan hulle ore en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is…” (Gen.35:4).

Oral waar heidene tot bekering kom, raak hulle vrywillig van heidensimbole ontslae, vanaf die Amasone-woude tot in die Verre-Ooste.   Heidene wat Jesus in hul lewe toelaat, raak bewus van tradisionele booshede en laat vaar dit omdat dit met hul nuutgevonde geloof  in Jesus bots: “Julle mag nie agter ander gode aanloop uit die gode van die volke wat rondom jou is nie” (Deut.6:14).

Dis onvanpas vir ’n gelowige man om ’n oorring te dra.  Wat vir ’n vrou gepas is, is nie noodwendig vir mans gepas nie.  Slawe het in die OT oorringe gedra..  Let daarop dat dit wat deur die wêreld slaafs nagevolg word, selde vir gelowiges geskik is.

Gelowiges is wel vry in Jesus, maar mag hierdie vryheid nie misbruik om te doen wat jy wil nie:  “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie…” (Gal.5:13).  Die Christelike vryheid mag nooit ’n dekmantel vir boosheid wees nie. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1).

Ons moet nooit heidense gebruike probeer goedpraat nie.   Om die liggaam te deursteek of te bekrap, is ’n ontwyding van die liggaam as ’n tempel van God.   Sulke ontheiliging kom op ’n skreiende opstand teen die Skepper daarvan neer.

En Hy straf!  “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?    As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.2:16,17).

Hoe het straatvroue in die Bybelse tyd gelyk?   Hosea beskryf haar as ’n vrou met ’n neusring en baie halssierade net om mans se oog te vang (Hos.12:2).    Daarmee het sy aandag op haarself getrek.   Hoe verskil dit nie van die Bybelse opdrag om beskeie en ingetoë te wees nie!  “Hoogheid van oë en trotsheid van hart – die glans van die goddelose is sonde” (Spr.21:4).   “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke” (1 Tim.2:9.10).

Let gerus op die gesigte van mense wat getatoeëer of deurpriem is.  Getuig dit van ’n gesonde siel?  “Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle en hulle sonde maak hulle bekend…” (Jes.3:9).   Hulle gesigte sê baie duidelik dat hulle in sonde vasgeval het.

Paulus skryf aan eertydse heidene: “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal.2:20).  Kinders van God moet vry van heidense simbole wees.  Geen ware gelowige sal uit vrye wil syliggaam laat tatoeëer of deurpriem nie.

Dis tragies om te sien hoeveel kinders van gelowige ouers hulle met heidensimbole mismaak en in heidense musiek verdiep.  Dit verrot die verstand, verdoof die brein en vul ons jongmense se gemoedere met die dinge van Satan.   Die breinspoelingseffek maak hulle koud vir die dinge van die Here:   “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Rom.3:18).

Moenie soos die wêreld doen en lyk nie: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor.7:1).

Jy het net een lewe.  Leef reg want Jesus is op pad.  En Hy kom as Regter!  “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).  Nie net wat ons deur die liggaam verrig het nie, maar ook met die liggaam gedoen het!

Moenie aan sy verkeerde kant beland nie, maar leef afgesonder van die heidendom: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thess.5:23).