REGUIT HOUE MET KROM STOKKE

Lees reeks by Pitkos vir die siel

Ds AE van den Berg

"Die Boerevolk is in duisternis.Ja, daar is onweer in die lug. Doemprofete voorspel nare dinge vir ons toekoms. Ons is soos skape wat deur wrede wolwe op ‘n hoop gejaag is. Hulle bekke kwyl vir die groot slagting."   

“En toe ook daardie hele geslag by hul vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag na hulle op wat die Here en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien en die Here, die God van hulle vaders, verlaat…Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak, verwek die Here rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers” (Rigt.2:10, 11, 15, 16)

Die boek Rigters leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan.   Onwaardige menselewens word kragtige instrumente in sy diens.    Ná die dood van Josua het Israel geestelik veragter.   Die mense van die woestyntrek was feitlik almal dood.  So ook die ganse volksbelewenis.   Dit wat Israel vir 40 jaar saamgesnoer het, was feitlik weg.   Alhoewel hulle in die beloofde land was, het Israel hul God en hul geskiedenis vergeet.

Daardeur het ‘n lugleegte ontstaan wat deur bose dinge gevul is: en hulle het agter ander gode aangeloop….en die Here geterg” (:12). God het Hom nie laat bespot nie en Israel van tyd tot tyd in die hand van die vyand oorgegee.   Hulle was ‘n tugroede in sy hand.   Desondanks het God nooit die werk van sy hande laat vaar nie.

“Maar die Here het leiers na vore laat kom….”(:15) Hierdie maar getuig van God se ingrype teen die normale verloop van sake.   God het t.s.v Israel se afvalligheid hul nie verwerp nie, maar sekere mense gebruik om sy volk van die heidendom te red.

Midde-in die somber verhaal van Israel se afvalligheid, staan die maar van God se genadige bemoeienis met mense en volke.   Hy kon Israel verlaat het, maar Hy het nie.   Hy het eerder sy hand na hulle uitgesteek.   So werk God met almal wat Hy liefhet!   Hy gryp in hul lotgevalle in en voorsien volksleiers om hulle te lei.   Hierdie leiers was nie noodwendig vroom, voorbeeldige en onberispelike mense nie, maar eerder sondaars met wie God reguit houe geslaan het.

En hoe krom was baie van hierdie stokke nie!   Barak het agter ’n vrou geskuil. Gideon het in ‘n parskuip weggekruip.  Simson kon verkeerde vrouens nie weerstaan nie.   Jefta se ma was ‘n straatvrou.  Almal krom mense.  Geensins goeie mensemateriaal nie!

In die hand van God word alles wat skeef en krom is egter diensbaar.  Uitskotprodukte word meesterstukke.   Krom en skewe mense styg bo hul negatiewe  omstandighede uit om roemryke oorwinnings vir God en sy volk te behaal.  Niks is vir God onmoontlik nie!

Met die staf in Moses se hand het God die diepsee oopgekloof.    Later het Hy selfs water uit ‘n rots laat vloei.   God het Aäron se dorre kierie laat bot en amandels laat dra.    Ja, dis ongelooflik wat God kan doen!    Hy laat selfs die dor hout van ons eie lewens bot en bloei wanneer dit Hom behaag.    Deur Jesus Christus neem God al ons tekortkominge op Hom.

Die maar van vers 15 is ook vir die Boerevolk onder die huidige heidenhiel ’n baken van hoop.   Soos wat God die maar as ligbaken op Israel se donker pad geplant het om te verhoed dat helse magte die oorhand oor hulle verkry, doen Hy vandag nog met dié wat Hom vrees.

God laat sy kinders nooit in die steek nie. Ten spyte van hul afvalligheid staan Hy by hulle.   Wanneer die nag op sy donkerste is, gryp Hy in en maak Hy lig. “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9).

Die Boerevolk is in duisternis.   Ja, daar is onweer in die lug.  Doemprofete voorspel nare dinge vir ons toekoms.   Ons is soos skape wat deur wrede wolwe op ‘n hoop gejaag is.  Hulle bekke kwyl vir die groot slagting.   Die Boerevolk is tans sonder werklike leiers.   Politici het baie gepraat, maar min gedoen.   Diegene wat hul as volksleiers voorgedoen het, het ons of verraai.  Toe die tyd vir daadwerklike optrede aangebreek het, het hulle soos mis voor die son verdwyn.   Ons volk het voorwaar ‘n bitter slegte ding oorgekom!

Desnieteenstaande het ons ‘n baie duur les geleer:“Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind – op die mens jou hoop nie bou nie”(beryming Ps.146). Ons het ’n bitter groot fout gemaak om te glo dat politici en kerkleiers ons uit die verknorsing sou red.   Hulle het nie, maar ons in die krisis-uur verraai!   Daarom het die hel aan ons voete oopgebars en het ons sonder ons vryheid daarvan afgekom!

Is dit ikabod vir die Boerevolk?   Gaan die heidene die laaste lag?   Nee, om die eer van God nooit!   God sal op sy tyd die werk van sy hande herbevestig en uit hierdie verloopte Boerevolk leiers na vore laat kom wat die volk, soos die rigters van ouds, na God sal laat terugkeer.

Wat kan ons die Here intussen bied?   Ons het niks benewens die dor hout van ons krom, sondebesmette lewens nie.   In sy hand word uitskotporodukte egter meesterstukke.   Met die dorre kierie van ons volkslewe kan Hy vir ons ‘n pad in die see van wanhoop oopkloof en ons na vryheid lei.

Ja, as die nood op sy hoogste is, sal God vir ons leiers stuur - manne en vroue wie se harte in die bloed van Jesus gewas is; mense wat besield is met ‘n heilige roeping om die Boerevolk van die heidendom te verlos.   Ja, as God ingryp, sal geen mag op aarde Hom keer nie!