Ds AE van den Berg
" God sê: “Bekeer julle van julle sonde”. Die RK sê: “Dis nie nodig nie. Die kerk sal jou sonde vergeef en jou die hemel indra”. Kan daar iets gevaarliker as dit wees? Rome het al miljoene siele mislei en in die verderf laat beland!"
Die Jesuïete Orde staan sentraal in die doolhof van bose Roomse organisasies wat daarop ingestel is om Protestantisme te vernietig. Die Roomse Kerk (RK) pak nie al haar eiers in een mandjie nie omdat sy weet dat die geldmag nie alleen genoeg is om wêreldheerskappy te verkry nie. Daarom maak sy van 'n magdom van sub-organisasies gebruik om haar bose doel te bereik; organisasies wat gereed staan om al die pous se opdragte tot op die letter uit te voer. Alles moet aan die RK onderwerp word; regerings, kerke, kultuurverenigings, organisasies, en alles moontlik.
Op 13 Maart 2013 het Jorge Mario Bergoglio die nuwe pous geword. Hierdie 76 jarige Argentyn van Italiaanse ouers is die eerste Jesuïet wat pous geword het, iets waaroor die Jesuïete in die wolke is. Na jare van knoeiery, sameswering en insypeling in elke kantoor van die Vatikaan, het hulle uiteindelik die pousdom verower. Omdat hulle nou die Vatikaan beheer, kan hul bose invloed nie meer gestuit word nie. Die stert swaai nou die hond!
Bergoglio het die ampsnaam Franciscus aangeneem na aanleiding van Franciscus van Asissi ’n Roomse heilige en die stigter van die Franciskaanse monnik-orde. Bergoglio is egter nie ’n Franciskaan nie, maar ’n Jesuïet, ’n orde wat uit booswigte bestaan wat soos duiwe lyk, maar roofvoël-instinkte openbaar.
Die stigter van hierdie bose orde was Ignatius Loyola, ’n wreedaard wat in 1491 in Spanje as ’n prototipe van die Satan gebore is. Hy was ’n befaamde militaris wat na ’n oorlog-besering boeke van eertydse Roomse kerklui gelees en hom voorgeneem het om nog groter dinge vir die kerk te vermag.
Hy is in 1528 na die Universiteit van Parys waar hy die Gemeenskap van Jesus (Jesuïete) gestig en baie volgelinge gewerf het. Hierdie organisasie het deur die eeue heen die vrees en dood van miljoene mense, insluitende een pous, veroorsaak.
Jesuïete word deur eed-swering gebind. Hulle moet elke opdrag van die pous uitvoer en hul daarvoor beywer dat hy algehele mag oor die mensdom verkry. Alle aardse mag moet in hom, die verteenwoordiger van God op aarde, setel. Daarom is die Jesuïete die volmaakte beliggaming van die pouslike droom en wegbereiders vir die koms van die Antichris wat mag oor die mensdom verkry.
Niemand kan by die Jesuïete aansluit nie. Hulle keur en lei slegs uitgesoekte mense op. Van hierdie gekeurdes word verwag om hul meesters willoos te gehoorsaam. Dit verskil lynreg van Jesus se opleiding van sy volgelinge soos in die Bergrede voorkom. Dis twee verskillende opleiding-style, elkeen met sy eie vertrek- en eindpunt – een by God, die ander by Satan; een in die hemel en die ander in die hel!
Elke Jesuïet moet dit wat hy weet of selfs net vermoed aan sy owerste bekend maak. Hulle spioeneer soos Kommuniste op mekaar en die hele sisteem deur ’n ontstellende netwerk van wantroue en verraad gekenmerk. Niemand is van vervolging of selfs sy lewe seker nie!
’n Gekeurde volg eers ’n inleiding-kursus om te bepaal of hy hom van ganser harte aan die organisasie se doelstellings sal onderwerp. Indien hy slaag, word hy uitgenooi om ’n nuweling te word waarna hy hom vir ’n tyd lank van alle aardse bande moet afsonder. Hy mag geen wil van sy eie toon nie en homself vrywillig in die hande van sy opleidingsbeampte plaas.
Vir Jesuïete gaan dit oor die vernietiging van die eie wil en gewete. Almal moet eenders dink soos wat die organisasie dink. Dis ’n gekunstelde vorm van breinspoeling en verskil wesentlik niks van die kommunistiese breinspoelings-metodiek nie. Leerling-monnike se gehoorsaamheid word soms op weersinswekkende wyses getoets!
Die nuwelingskap duur ongeveer twee jaar waarna die suksesvolle kandidaat as student aanvaar en in die teologie en ander wetenskappe opgelei word. Nadat hy sy studie voltooi het, word hy ’n medewerker. Dis ’n baie hoë vlak in die organisasie omdat medewerkers dikwels met moeilike take belas word. Hulle tree as priesters vir koninklikes, politieke leiers en rykes op. Daarbenewens werk hulle as onderwysers in skole, dosente aan universiteite en tree ook as geheime agente in Protestantse opleiding-sentrums op.
Om te ondermyn, moet jy geheime kennis hê. En dit verkry hulle deur die bieg. Jesuïete-priesters weet baie dinge van mense af en kan dus intimideer. Die bieg is egter Babilonies van oorsprong en verskil hemelsbreed van die Bybelse voorskrif: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar” (Jak.5:16). Die gedwonge onthulling van sondes ten einde vergifnis te verkry, maak dat Roomse priesters alles van almal weet. Inligting is uiteraard mag.
Jesuïete-priesters teiken drie groepe mense - jeugdiges, invloedrykes en rykes. Deur die bieg verkry hulle kennis van godsdienstige en politieke sake en maak die bieg so aanloklik moontlik om dit vir hul eie bose doeleindes te misbruik.
Die NT maak geen melding van die bieg nie en leer baie anders - gelowiges maak hul sonde op grond van Christus se soenverdienste sonder ‘n tussenganger aan God alleen bekend maak. Die bieg is ook nie in die vroeë kerk beoefen nie maar is ’n heidense gebruik wat aan priesters mag besorg het.
Jesuïete haat Protestantisme met hartstog en probeer dit uitroei. Hulle spits hul veral op ongelowiges toe omdat hulle weet dat gelowiges wie se harte in die bloed van Christus gewas is, se brein nie gespoel kan word nie.
Jesuïete stel intens in politiek belang omdat hulle hul vir ’n nuwe hervorming volgens die Jesuïete ideaal beywer. Wie hulle teenstaan, word op alle denkbare maniere uitgeskakel, selfs vermoor. Daarom is hulle in die verlede in talle lande verban. Van 1555 tot 1880 het 78 lande hulle weens ondermyning van staatsgesag verbied.
Toe pous Johannes Paulus II die Jesuïete probeer ontbind het, is hy op 13 Mei 1981 deur ’n huurmoordenaar geskiet wat daarna erken het dat hy deur kardinale van die Vatikaan gehuur is – Jesuïete!
In 1982 het hy ’n spoedvergadering met sy senior kardinale gehou om die klagtes oor die optrede van Jesuïete priesters in Suid-Amerika te ondersoek. Hierdie priesters het opstand teen die onderskei regerings aangehits en openlik Marxisme vanaf hul kansels verkondig. Let maar net op die bedenklike rol wat Roomse geestelikes nie in die omvêrwerping van wet en orde in Suid-Afrika gespeel het nie!
Die hoof van die Jesuïete word die Vader-Generaal genoem en het die nie-amptelike naam van Swart Pous. Dit het niks met velkleur te doen nie, maar met boosheid. Jesuïete spits hulle veral op die jeug toe en lei derhalwe baie onderwysers op. Die bedenklike invloed wat hulle op die jeug het, skreeu ten hemel. Jesuïete pas hul by die plaaslike omstandighede aan, kleredrag, lewenstyl en beroep. Hulle doen hulle selfs as Protestante voor en sypel politieke organisasies, die onderwys en veral kerkorganisasies met verskuilde agendas binne ten einde leierposisies te bekom. As hulle eers ’n vastrapplek verkry, begin hulle met heroriëntasie – alle Jesuïtiese paaie lei na Rome!
Uit die geledere van die medewerkers word ’n handjie vol betuigdes aangestel wat die leierskorps van die Jesuïete vorm. Hulle is met die diepste geheime van die organisasie vertroud. Gewone Jesuïete weet gewoonlik nie wat in die topstrukture aangaan nie. Die Vrymesselaars gaan soortgelyk te werk. Net ’n paar word in die geheimenisse ingewy.
Jesuïete is baie moeilik identifiseerbaar. Slegs in Roomsgesinde lande soos Argentinië werk Jesuïete openlik in die kerk en staat. Bergoglio is bv. openlik ’n Jesuïet. In ander nie-Roomsgesinde lande werk hulle ondergronds, maar werk dié werk hulle! Hulle het sedert hul stigting in 1528 nooit hul boosheid laat vaar nie. Elke kerk, organisasie en staat moet ’n Katolieke beeld vertoon en elke mens op aarde die knie voor die pous buig!
’n Kerk wat getrou aan Loyola se bose doelwitte mense breinspoel en die pad na verlossing in Jesus versper, verdien die warmste plek in die hiernamaals! Burgerlike gemeenskappe en burgerlike regering is geensins in stryd met God se wil nie. Hieroor is Rom.13 baie duidelik.
Protestante moet miskien weer hul geskiedenisboeke oopmaak en uit die verlede leer om die gevare wat dreig, beter te verstaan. Baie jare gelede het die NG Kerk ’n boekie uitgegee genaamd Die Roomse Gevaar. En hulle was reg! Dis ’n gevaar soos Satan self! Die RK het tydens die Hervorming gesweer dat elke Protestantse kerk nog na haar sal terugkruip. Dit gebeur vandag!
Let bv. op die Roomse gebruike in die NG Kerk – kerse, kindernagmaal, vas-Woensdag ens. Die eertydse geseënde Protestantse hervorming is gestop, omgekeer en feitlik uitgeskakel. Hoe het dit gebeur? Weens die insypeling en knoeiery van Jesuïete in skole, regerings en opleidingsentra, veral teologiese akademies. Die Nuwe-Afrikaanse Bybelvertaling het bv. Codex Vaticanus as grondteks. Nadat dit gedruk is, het die NP regering vir Pik Botha persoonlik met ’n luukse-uitgawe daarvan na pous Johannes Paulus II gestuur. Mission accomplished?
Jesuïete juig vandag oor die uitskakeling van Protestantisme in Europa en ander wêrelddele. Hulle het vir 400 jaar hard gewerk om van die aardbewoners dogters van Babilon te maak en grotendeels geslaag. Bitter min mense weet van hul ondermyningstaktiek wat soos kanker deur ’n gesonde liggaam versprei het en wrange vrugte dra – ’n Babelse verwarring op feitlik elke lewensgebied.
Die Jesuïete is ernstig by Vrymesselary betrokke, ‘n kragtige handlanger van die RK. In die Vatikaan is daar bv. 29 losies! Die hoofdoelwit van al hierdie bose organisasies is om alle rykes, magtiges en invloedrykes aan die RK te onderwerp.
Skokkende nuus is dat die RK onlangs toestemming gekry om ’n pouslike troon in Jerusalem op te rig, die verhoog waarop die Antichris sy verskyning gaan maak: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teenstander wat hom verhoog bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4).
Geen lid van die RK kan die hemel beërwe nie. Hulle verlossingsleer verhinder hulle. Die RK sê dat geen mens sonder sonde is nie. Daar is egter geen manier waarop hy die sonde kan beveg nie. Daarom het God ’n ander manier voorsien waarop die saligheid beërwe kan word - deur die RK. Sondaars wat in die RK gedoop en aangeneem is, ry die hemel op die rug van die kerk binne. Gevolglik is daar geen saligheid buite Rome nie!
Luister wie praat hier; niemand anders nie as hy wat vir Eva vra: “Is dit ook so dat God gesê het….” en as sy antwoord, haar dan verseker: “Julle sal gewis nie sterwe nie”. God sê: “Bekeer julle van julle sonde”. Die RK sê: “Dis nie nodig nie. Die kerk sal jou sonde vergeef en jou die hemel indra”. Kan daar iets gevaarliker as dit wees? Rome het al miljoene siele mislei en in die verderf laat beland!
Waarom word die unieke verlossing in Christus, sy maagdelike geboorte en opstanding vandag in Protestantse geledere bevraagteken? Waarom dwaal slimgeleerde teoloë? Jesuïtiese invloed via die ekumenisme – die strewe na kerkeenheid, ’n ketting wat in Rome gesmee is om Protestantisme te verwurg!
Let op Openb.17 en 18. Dis ongetwyfeld ’n profesie oor die RK – die sewe heuwels (Rome), skarlaken en purper (amptelike kleure), wyn (bose invloed). Groot name soos Wycliff, Calvyn, Luther, Wesley, Finney, Moody en Spurgeon het almal geglo dat die RK die groot hoer is waarvan Openbaring 17 praat.
Hierdie hoofstuk beskryf nie ‘n oud-wêreldse Babilon nie, maar die Vatikaan! Ironies genoeg beteken Vaticanus plek van Godsverheerliking in Latyn, terwyl die teenoorgestelde eerder waar is: “..… ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste ….” (Openb.18:2).
Die Antichris gaan binnekort uit Roomse gelede opstaan nadat die Derde tempel gebou en die troon ingerig is. Die Vatikaan is tans die rykste organisasie ter wêreld, baie ryker as die Internasionale Monitêre Fonds. Wat beteken dit? Dat die RK die geldmag het om die hele wêreld na haar pype te laat dans. Die meeste mense dink dat die 666 merk van die dier ’n mikroskyfie is. Hulle dink heeltemal te klein. Dis ’n wêreld geldmag – die RK! Met ’n Jesuïet as pous, staan ons voor die deur van ingrypende veranderinge. Mag God ons genadig wees!
Openb. 17 en18