VOED JUL KINDERS IN DIE HERE OP

'N HELE VERLORE GESLAG OMDAT ONS OPVOEDING VERSUIM

Ds AE van den Berg

Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid  hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte” - Deut. 7:9 (6:4-7)                            

Die meeste van u het al ’n kettingbrief ontvang waarin enersyds geluk belowe, maar andersyds ook gedreig word dat die ketting nie gebreek mag word nie.  Almal begin met ’n belofte en eindig met ’n bedreiging.   Die tweede gebod begin met ’n bedreiging en eindig met ’n belofte.  Die bedreiging is dat God geen afgode duld nie en oortreders tot in die vierde geslag straf.   Hy beloof egter om aan diegene wat die gebooie hou, besondere guns te bewys.

Daar is niks wat met God se besondere guns vergelyk nie.   Hy verleen dit graag aan ouers wat kinders opvoed.    Ouers het ’n reuse verantwoordelikheid om hulle kinders in die vrese van die Here groot te maak:  ”En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efes.6:4).  Dit sluit ook moeders in.

Wat bedoel Paulus met vertoorn?   Geestelike verwarring soos om een ding te sê maar die teenoorgestelde te doen wat 'n swak voorbeeld vir ons kinders is.  “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr.22:6).   Een van die vereistes vir ’n kerkraadslid is: “een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou” (1 Tim.3:4).

Kinderopvoeding is ’n ketting wat nie gebreek mag word nie. “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg….maar aan die volgende geslag vertel…om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar…” (Ps.78:3-7).

Die Bybel sê nie vir ons om net ons kinders godvresend  groot te maak nie, maar ook aan ons kinders om so te leef dat hulle weer op húlle beurt godvresende ouers vir húlle kinders sal wees en só ’n geseënde kringloop inwerking stel.   Gevolglik is gelowige ouers se eerste verantwoordelikheid nie om hulle kinders gelukkig te maak nie, maar om hulle in die vrese van die Here op te voed.

Die wyse waarop jy opgevoed word, bepaal tot ’n groot mate jou en jou kinders se toekoms.   Dis òf ’n bose òf ’n geseënde kringloop.   Daarom is die grootste diens wat ouers aan God kan lewer, om kinders in sy vrese op te voed.

Deut.6 is baie duidelik oor die noodsaaklikheid van geestelike kinderopvoeding:   ”Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:5-7).

Dit is direk na die Wet van God in Deut.5 opgeteken.  Dit is, om die waarheid te sê, die eerste opdrag direk daarna - om by kinders ’n liefde vir God en sy gebooie in te prent.   Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).

Die opvoeding van kinders en hul navolging van God moet vir gelowige ouers een van die hoogste prioriteite in hul lewe wees.    Dis belangrik om kinders te leer tel, maar beter om hulle te leer wat in die lewe tel – die Woord van God.

Kinderopvoeding mag nooit blote kopkennis wees nie.  Dit moet hartkennis wees - ’n opregte liefde vir die dinge van God.   Ons liefde vir God moet deur ons liggaam , siel en gees uitstraal.   Daarom kan opregte godsdiens nooit gekompartementeer word nie – soos slegs tot Sondae beperk wees nie.

Gelowiges moet heeldag daaroor wil praat.   Dit moet so ’n onlosmaaklike deel van hul lewens vorm, dat hulle in alles wat hulle met die hand doen en met die verstand bedink, deur die Bybel gelei word.   ’n Gelowige se huis moet van die heerskappy van Christus getuig sodat mense kan sien wat ’n verskil Jesus in verloste sondaars se lewe maak.   Daar is geen groter getuienis as dit nie; nie deur woorde nie, maar met dade.

As ons nalaat om ons kinders in die vrese van die Here op te voed, kan ons die punt bereik waarvan Rigters vertel: “En toe ook daardie hele geslag by hul vaders versamel is, staan daar ’n ander geslag na hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie” (Rigt.2:10).

Die Boerevolk het die kritieke punt bereik waar hul kinders groter geesdrif vir Harry Potter en Play Stations as vir God toon.  Wie se skuld is dit?  Tye wat verander?   “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kleinkinders bekend maak” (Deut.4:9).

Die Bybel vertel van gelowiges wat die geestelike opvoeding van hul kinders verwaarloos en op die ou einde met die uitgebrande as van ontnugtering gesit het.  Eli is ’n sprekende voorbeeld hiervan:  “En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulle gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie” (1 Sam.3:13).    Van Samuel se seuns word gesê: “Maar sy seuns het nie in sy weë gewandel nie; hulle het onregverdige wins agternageloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai” (1 Sam.8:3).  Dawid se mislukking om sy opstandige seun Absalom te dissiplineer, het rampspoedige gevolge vir sy koninkryk gehad nl ’n burgeroorlog.    Opvoeding sonder vaste geestelike waardes maak van kinders slim duiwels!

Hoe lyk ons volk se gesinslewe?   Die Bybel waarsku dat daar aan die einde van die tyd swaar tye voorlê waarin verhoudinge gaan skeeftrek: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom,  Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hul ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het….” (2 Tim.3:1-5).    Klink dit nie modern nie?

Ongehoorsaamheid aan ouers word pertinent genoem - kinders wat hul ouers nie eerbiedig nie, gruwels doen en verwag dat almal genoeë daarmee sal neem: “Vervloek is hy wat sy vader of moeder verag; en die hele volk moet sê: Amen” (Deut.27:16).  Dink maar net aan saambly!   Die Bybel sê dat sulke  dinge gestraf word: “’n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag – die kraaie van die dal sal dit uitpik…” (Spr.30:17).

Gehoorsaamheid aan ouers en eerbied vir oumense neem skerp af.   “Luister na jou vader wat jou verwek het en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie“ (Spr.23:22).  “Vir die grys hare moet jy opstaan en die persoon van ’n grysaard eer…” (Lev.19:32).  ‘n Kind wat oneerbiedig teenoor ouers optree, eerbiedig ook niemand anders nie.

In die lig van die geweldige druk op ons volk se gesinslewe en toenemende versoekings waaraan jongmense blootgestel word, moet ouers berekende stappe neem om hul kinders met ’n liefde vir God en die kerk op te voed.   Vaste fondamente en goeie gewoontes dissiplineer ’n kind vir ’n lewe van heiligheid en aktiewe diens in die kerk.   Gevolglik is ’n deeglike Christelike opvoeding ʼn skoonheid wat nooit vergaan nie.  Goeie ouers is padwysers na die hemel.

Kinders trotseer ook maar die storms van die lewe.   Wie sy kinders help om hul lewens op die Rots van alle eeue te bou, aanskou egter met dankbaarheid hoe hulle in sulke storms stewig en vas bly staan.  Wie vir sy kinders stewige Skrifgefundeerde wortels gee, aanskou hoe God hulle vlerke vir die toekoms gee.

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.  Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol.3:16,17).

Kinders is die lewende boodskappe wat ons die toekoms instuur vir ʼn tyd wat ons self nie gaan beleef nie.   Ons is soos Moses – hy het nooit die beloofde land binnegegaan nie, maar sy mense vir ʼn lewe in hierdie land voorberei.

Gee ag op jou kinders se opvoeding.   Jy kan ‘n kers doodblaas, maar nie ‘n vuur nie.   Moenie dat slegte gewoontes jou kinders vernietig as hulle groot is nie!    Dis beter om kinders se karakter te bou as om skadelike gewoontes te probeer verander.

Ons lewens is die handboek wat ons kinders leer hoe om te leef.  Daarom sal ‘n kind God makliker as sy hemelse Vader aanvaar indien hy iets van Hom in sy aardse vader raaksien.  Wie voorbeeldige kinders nalaat, sterf in werklikheid nooit nie.

Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid  hou vir dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, in duisende geslagte”.

Amen