Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
“Die Here is my Herder, niks al my ontbreek nie” (Ps.23:1)
In die Louvre kunsmuseum in Parys was daar tot onlangs toe ‘n skildery getiteld Skaakmat. Dit het Satan uitgebeeld wat selfvoldaan bo sy opponent uittroon omdat hy sy siel met ‘n skaakspel gewen het. Laasgenoemde is as ‘n jongman, uitgebeeld met ‘n kop wat hang; verneder en verslae. Satan, daarenteen, het smalend gelag. Alhoewel daar nog paar skaakstukke op skaakbord oor was, was die spel verby. Die jongman kon nie verder beweeg nie. Dit was skaakmat!
By geleentheid het ‘n ou man die skildery aandagtig bekyk en skielik uitgeroep: “Dis ‘n leuen!” Toe die besoekers nader staan, het die kurator kom verneem wat die fout is. Die ou man was ‘n skaakkampioen en kon aan die oorblywende skaakstukke sien dat die spel, alhoewel dit op die oog af so gelyk het, in werklikheid nie oor was nie. Die koning het nog ‘n skuif oorgehad!
Bykans 2000 jaar gelede het Jesus vir duisende mense aan die oewer van die See van Galilea gepreek. Hulle was later honger en Jesus wou hulle nie honger huistoe stuur nie. Die dissipels het net 200 pennings in hul beursie gehad; nie naastenby genoeg vir kos vir almal nie (Joh.6:7). Was dit skaakmat? Nee, die Koning het nog 'n skuif oorgehad!
‘n Seuntjie het by geleentheid met twee vissies en vyf brode tussen ‘n skare opgedaag. “En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies. Soveel as hulle wou hê. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het” (Joh.6:11-13). Die Koning het nog ‘n skuif oorgehad, daarom het dit niemand aan voedsel ontbreek nie (Ps.23:1).
Ongeveer 600 jaar voor hierdie wonder is ‘n gelowige in Babel ter dood veroordeel en in ‘n kuil vol hanger leeus gegooi. Daniël het nie gemoor, geroof of verkrag nie. Hy het bloot geweier om die koning te aanbid! Daar is selfs ‘n klip op die opening van die kuil geplaas sodat hy nie kon ontsnap nie (Dan.6:18). Was dit skaakmat vir hom? Nee, die Koning het nog ‘n skuif oorgehad. God het ‘n engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hy niks oorgekom het nie.
By geleentheid kom Jesus in Betanië by die graf van Lasarus wat drie dae dood was. Sy liggaam het al begin ontbind. Was dit skaakmat vir hom? Wel, as jy dood is, kan dit sekerlik nie anders nie? Verkeerd, die Koning het nog ‘n skuif oorgehad! In Joh.11 lees ons dat Jesus tot God gebid en daarna met ‘n groot stem geroep het: “Lasarus, kom uit!” (:43) “En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind...Jesus sê ....Maak hom los en laat hom gaan” (:44).
Aan Jesus behoort alle mag oor lewe en dood omdat Hy God is! Daarom kan diegene wat aan Hom behoort, nooit in ‘n skaakmatsituasie beland nie. Die Koning van alle konings maak altyd die laaste skuif!
In Joh.8 tree Jesus in gesprek met mense wat op die punt staan om ‘n vrou met klippe dood te gooi; ‘n egbreekster wat op heterdaad betrap is. Daarvoor was daar net een straf – die doodstraf by wyse van steniging! Was dit skaakmat vir haar? Nee, die koning het nog ‘n skuif oorgehad! Jesus sê vir haar: “Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh.8:11).
Twee jaar later hang twee misdadigers saam met Jesus aan kruise. Hoor hoe praat die een met die ander: “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? – ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie” (Luk.23:40,41). Beide is besig om te sterf. Die grond onder hulle is nat van die bloed wat uit hulle vloei. Is dit skaakmat?
Nee, die koning, soos die naambordjie bokant Jesus se kruis aangedui het, het nog ‘n skuif oorgehad. Toe die een hom bekeer, sê Jesus vir hom: “....Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43). Sy siel is ter elfder ure gered.
Op Goeie Vrydag is die Lam van God wreedaardig geslag. Mense het histeries geskreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Hulle het Hom gespot, gespoeg en geslaan waarna Hy met spykers aan ‘n kruis vasgeslaan is. “Eloi, Eloi, lama sabagtani?” het Hy uitgeroep tewyl mense gespot het dat Hy ander kon red, maar nie Homself nie! Dis verby, gaan maar huistoe! Satan het smalend oor hulle skouers geleun, ja, dis verby; skaakmat!
Toe breek die wonderlike Sondagoggend van Jesus se opstanding aan. Gelowiges het besef dat dit nie verby is nie. Dis nie skaakmat nie. Die Koning het nog ‘n skuif oorgehad en daarmee oor die dood getriomfeer. Daarom sal niks sy kinders ontbreek nie, al voel dit asof alles vergaan!
Die Boerevolk het slagoffers van ‘n skrikbewind aan die suidpunt van Afrika geword. Moord, verkragting, korrupsie en onreg is aan die orde van die dag. Mense verloor hul werk, huise, huwelike, lewens, selfrespek ens. ‘n Mens voel soms lus om te huil, ja, jy voel leeg. Jy soek na die regte pad, maar bevind jou telkens op afdraaipaaie. Daarbenewens moedig Satan jou aan om handdoek in te gooi. “Kyk, dis verby. Sluk daardie pille, trek die sneller, druk die tuinslang in die uitlaatpyp, sit die tou om jou nek, ry voor die vragmotor in....dis verby!”
Vrees is aan die orde van die dag. Dit bepaal jou kom en gaan. Vrees vir jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jou omstandighede, vrees vir jou gedagtes, vrees vir die toekoms....vrees, vrees, vrees!
Nee, liewe volksgenoot, die spel is nog nie oor nie, al lyk dit ook so. Die koning het nog ‘n skuif oor! Moenie jou ore aan die Satan uitleen nie. Hy sal altyd vir jou sê dat dit oor en verby is; skaakmat! Hy lieg! Hy is ‘n leuenaar. Jesus sê so (Joh.8). Moet hom nie glo nie! Die hemelse Koning het nog die laaste skuif oor. Klou opnuut aan Hom vas wat alle mag in die hemel en op die aarde het. Niks sal jou ontbreek nie!