Ds Andrè van den Berg
“…..want die mens gaan na sy ewige huis en die rouklaers sal op die straat rondgaan”.
Koning Salomo was een van die mees bevoorregte mense op aarde, ’n man wat alles gehad wat sy hart begeer het; rykdom, kennis, aansien, weelde, selfs ’n 1000 vroue! Desondanks het hy besef dat die lewe nie oor stoflike dinge gaan nie, maar oor iets baie dieper. Hy wou dit vind ten einde reg te leef.
Die lewe is soos ‘n valskermsprong – jy moet dit die eerste keer regkry, jy kry nie ’n tweede kans nie! Om te sterf, is nie ’n kuns nie; selfs die slegste mense kry dit reg. Maar om reg te leef, is nie almal beskore nie. Salomo het besef dat hy niks aan die lengte van sy lewe kon doen nie, maar slegs aan die diepte. So ook ek en jy. Ons moet ’n lewe leef wat saak maak.
Die lewe gaan baie vinnig verby. Elkeen van ons kan daarvan getuig! Die lewe is soos ʼn toilet-rolletjie; hoe nader dit aan die einde kom, hoe vinniger rol dit!
Die Woord van God sê dat elkeen se lewe ten einde gaan kom: “…..want die mens gaan na sy ewige huis en die rouklaers sal op die straat rondgaan”.Daar kom ’n dag dat jy die son nie meer op jou sal voel skyn nie. Daar sal geen minute, ure of dae op jou lewens-parkeermeter oor wees nie omdat die vlaggie verskyn het: tyd verstreke.
Elkeen van ons gaan oor 'n tyd weer ’n nuwe jaar vier waarvan ons die Oujaar nie gaan sien nie. Ja, daar gaan vir elkeen van ons ’n laaste dag aanbreek. Ons is huurders van die lewe en God die Eienaar wat die huur enige tyd mag opskort. Die dood het ‘n duisend deure waarby die lewe uitgelaat kan word. Die omhulsel wat ons siele huisves is inderdaad broos!
Alles wat jy in die lewe bymekaargemaak het, hetsy geld of besittings sal eendag iemand anders s’n word en jou welvaart, roem en aansien verdwyn asof dit nooit was nie. Niks sal verder enige waarde hê nie; nie jou besittings, kwalifikasies, stokperdjie of wat ook al nie. Ook die lelike dinge in jou lewe soos wrokke, afkeure, frustrasies en jaloesie verdwyn vir altyd. So ook jou hoop, strewes, planne en verlangens. Alles is met sterflikheid deurweek. Oor alles staan geskryf: TYD VERSTREKE
Op daardie dag is al daardie dinge wat so baie van jou tyd in beslag geneem het, nie verder belangrik nie; ook nie van waar jy gekom of in watter woonbuurt jy gewoon het. Dit maak selfs nie verder saak of jy mooi of slim was nie.
Die Arabiere sê dat die dood soos ‘n swart kameel is wat enige tyd by enigeen se tent mag inloop. Dis waar! Die dood vat nie net die arm man se koei nie, maar ook die ryk man se kind. Ná ʼn skaakspel word die koning en die pionne in dieselfde kassie gebêre.
Kom ons wees egter positief: Wat maak werklik in die lewe saak? Salomo worstel dwarsdeur die boek Prediker met hierdie vraag. Wat is die maatstaf waaraan ons waarde op aarde gemeet word? Hierdie waarde word nie deur die dinge wat ons koop bepaal nie, maar aan dit wat ons vir God en ons medemens doen. Niemand is al ooit vereer vir dit wat hy ontvang het nie, maar vir wat hy gegee het. Nie ons suksesse nie, maar ons betekenis vir ons medemens is die dinge wat in die lewe saak maak. Dit wat jy met jou goeie voorbeeld nalaat, is ’n erfporsie wat baie lank hou.
Hoe lyk jou lewe? Getuig jou optrede van inbors, medelye, opofferings en ander dinge wat mense se lewens verryk? Het iemand al in ’n oomblik van nood sterk gestaan omdat jy vir hom ’n voorbeeld is? Solank as wat jy vir iemand iets beteken, het jy ’n rede om te leef.
Bevoegdheid is ’n wonderlike bate. Desondanks is dit nie wat mense na jou toe trek nie, maar jou karakter. Ook nie hoeveel mense jy geken het nie, maar hoeveel mense jou na jou dood gaan mis. Dit moet verskriklik wees om te sterf, maar nie gemis te word nie!
Laat derhalwe goeie herinneringe na. Mense vergeet soms wat jy vir hulle gesê het, maar nie die dinge wat jy vir hulle gedoen het nie. ʼn Geliefde wat in mense gedagte agterbly, sterf nie, hy is maar net baie ver.
Die dood is nie ‘n ramp nie, maar die lewe ’n uitdaging; leef jy of oorleef jy? Weet jy wat is ’n ramp? As iets in jou doodgaan terwyl jy nog leef! Salomo sê in Prediker: Jy kry net een geleentheid; maak die beste daarvan. Leef ’n lewe wat saak maak!
So ’n lewe gebeur nie toevallig nie, maar is die gevolg van die regte besluite: Kies reg, leef reg. Kies Jesus reeds vroeg in jou lewe! “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid…” (:1).
Die lewe is te kort om dit met beuselagtighede te vul en net te kosbaar om dit met verkeerde dinge te besmet. Moet nooit ʼn lewensweg inslaan wat weg van God lei nie. Moenie saamloop as dinge skeef loop nie, maar verander dadelik van rigting. As jy nie ’n goeie voorbeeld is nie, kan jy ʼn wrede waarskuwing word! Die lewe is soos ‘n lig wat God aan ons leen. Laat dit so helder as moontlik skyn alvorens jy dit aan die volgende geslag oorhandig.
Wat maak jy met jou lewe? Baie mense probeer alles uit die lewe trek – een onttrekking op die ander. Jesus laat ons eerder deposito’s maak en dit gee sin aan die lewe. Nie wat mense vir jou kan doen nie, maar wat jy vir mense doen. Alles wat ons is en het, is ‘n gawe van God. Beskou dit as jou lewenstaak om dit aan mense terug te gee.
Ons dood is in aantog: “…..want die mens gaan na sy ewige huis en die rouklaers sal op die straat rondgaan”. As ons reg leef, sal ons ook reg sterf. Die Here gee ons genoeg kans om ons siele vir die ewigheid voor te berei. Wie sy lewe aan Jesus toewy, sal die aarde sonder hartseer verlaat.
Gevolglik maak dit nie saak hoe jy doodgaan nie, maar hoe jy leef. Leef ’n lewe wat saak maak en geniet dit. Dink net daaraan hoe jy die lewe in die hiernamaals gaan geniet as jy jou aardse lewe geniet
Wie goed leef, leef twee maal. Dis ’n belofte van God se Woord: “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom stel” (2 Kor.4:14).
Gevolglik is daar net een lewe wat sin maak – die een wat ons vir Christus en ons naaste leef. Laat ons elke dag leef asof dit ons laaste dag gaan wees want eendag gaan ons reg wees! Gaan jy vir die ewigheid reg wees?
Mag jy al die dae van jou lewe voluit leef. Laat mense na jou kyk en kennis neem van iemand wat na aan God se hart geleef het, want dan sal die rimpels wat jy in die poel van die lewe maak, lank na jou dood nog steeds gevoel word.
Amen