JÝ IN BEPROEWING (1)

DIS NIE GOD SE SKULD

Ds Andrè van den Berg

Ons leef net een keer op aarde en nooit weer nie.  Maar as ons reg leef, is eenkeer genoeg.  Van een ding kan ons baie seker wees nl.dat ons iewers op ons lewenspad met beproewing te doene gaan kry.  En heelwaarskynlik nie net eenmaal nie.

Wie ‘n lewe sonder pyn en beproewing verlang, moet òf ‘n lyk òf ‘n god wees.   Mense reageer nie almal eenders op beproewing nie.  Sommige mense lê geloof en selfbeheersing aan die dag terwyl ander weer oorreageer en in selfbejammering verval.

Beproewing raak ons hele menswees; nie net fisies nie, maar ook psigies.  Dit tas ons verstand, emosies en gees aan.  Hoe ons hierop reageer, bepaal ons geesteskrag.  Aan die feit dat fisiese lyding ons liggaam verswak, kan ons niks doen nie.  Wat ons wel kan verhoed, is dat beproewings ons gees aftakel.

Moenie God verwyt nie

Beproewings bring dikwels verwyte mee.  Sommige mense verwyt hulself terwyl ander die Here verwyt en sê: “As dit is hoe God my behandel, wil ek niks verder met Hom te doene hê nie!” Sulke mense beskou godsdiens as ‘n ongeluksvrywarings-polis.   God moet, as vergoeding vir hul kerkgang en Bybellees, alle beproewing van hulle afweer. Sulke mense raak altyd terleurgestel.  Beproewings maak hulle bitter in plaas van beter.  Nee, God skuld ons op aarde niks nie, nie eens die lewe nie.  Alles is genade – onverdiende guns!

Mense wat die dood van ‘n geliefde nie wil verwerk nie, verkwalik met hul optrede in werklikheid die Here.  Dikwels onttrek hulle hul van alles en almal, veral die kerk en die gemeenskap van die gelowiges.  Sulke optrede is niks anders as opstand teen God nie en derhalwe sonde.

In tye van ernstige beproewing het ons God juis die nodigste.  Gelowiges sal eerder meer pyn en lyding verduur as om hul rug op God te draai.  Ons durf nie toelaat dat omstandighede ons van ons geloof stroop nie, want dis presies wat die Satan wil hê, vra maar vir Job!    

God se wil moet voorop in ons lewens staan.  Sy wil is nie iets wat ons iewers moet gaan soek nie, maar eerder iets wat ons in gehoorsaamheid moet doen.  En as ons ons werklik daarop toelê om in ons beproewing Sy wil te doen, sal daar nie nog tyd wees om Sy optredes te bevraagteken nie.

Ongelukkig is God vir baie mense soos ‘n spaarwiel - net goed in geval van nood.  Godsdiens is vir hulle soos ‘n bus - maak net daarvan gebruik as dit in hulle rigting gaan.  Nee, God moet die stuurwiel, nie die spaarwiel van ons lewens wees nie!

Beproewings laat dikwels vrae in ons gemoed onstaan.  In die lied Why vra die sanger Roger Wittaker: “Will the last word ever be spoken be why?” so sprekend van die mens.  Ons vra altyd waarom?  God antwoord ons waarom’s nie altyd met daarom’s nie; slegs met die belofte dat ons eendag alles wel deeglik sal verstaan.  Paulus skryf in 1 Kor.13:12 “……Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken…”

Beproefdes probeer dikwels hul verbittering agter maskers wegsteek.  Pyn dra nie vir lank ‘n masker nie. Op een of ander stadium kom dit af.   Gevolglik is daar net een oplossing – maak vrede met jou beproewing.  En hoe maak ‘n mens vrede daarmee?  Deur jou gedagtes op God se beloftes in te stel.  Dis immers hoe ons Here Jesus die pyn van die kruis verduur het.  Hy was geheel en al op Sy hemelse Vader se beloftes ingestel.  Laat ons Sy voorbeeld navolg!

Baie jare gelede het ‘n touloper voor ‘n skare nuusieriges oor die Niagra waterval geloop. “Waarom dra jy nie iemand op jou rug oor nie?” het ‘n verslaggewer hom uitgedaag. “Kom klim op my rug” het die touloper hom genooi.  Na baie mooipraat en allerlei beloftes van sy kollegas het hy ingestem. Net voordat hulle begin loop, het die touloper vir hom gesê: “Sien jy daardie rooi rots aan die oorkant?  Hou jou oë net daarop gerig.  Moenie afkyk nie!” Hy het nie en die oorkant veilig bereik.

Wat leer ons hieruit?  Kyk vorentoe; nie agter jou, langs jou of waar ookal nie; slegs vorentoe na Jesus aan die oorkant.  Petrus het een nag op die see van Galilea gewaag om sy oë van Jesus af te neem en dit het hom amper sy lewe gekos.  Moenie dieselfde fout maak nie!

Siekte is nie die gevolg van jou sonde nie!

Die wêreld is vol van dwaalleraars wat sê dat siekte die gevolg van ‘n spesifieke sonde is.  Dis ‘n leuen en doen die Christendom skade aan. Die Bybel praat anders.  Lees gerus Joh.9 waar Jesus hierdie vraag duidelik beantwoord.

Daar is mense wat al jare lank ernstige beproewing verduur, maar terselfdertyd baie na aan God leef.  ‘n Mens het byna instinkmatig medelye met sulke mense. Eintlik behoort ons hulle te beny omdat hierdie dapper lasdraers God op ‘n besondere wyse verheerlik. God plaas hulle voete op ‘n stewige rots.  Daarom sink hulle nie!

Alhoewel beproewings as sulks nie ‘n straf van God is nie, gebruik Hy dit dikwels om Sy heilge doel met ons te bereik.  Iemand het eenker gesê dat pyn die megafoon is waarmee God ‘n dowe wêreld wakker wil maak.

In ons beproewing staan Christus nie iewers daar ver en kyk hoe swaar ons kry nie. In sulke tye is Hy juis baie nader aan ons as wat ons dink.  Hy het medelye met ons want daar is geen dieper lyding as waarin Hy alreeds afgesak het of donkerder diepte as wat Hy alreeds oorwin het nie.

By geleentheid het ‘n gelowige as volg gebid: “Here, laat my nooit vergeet dat my siekte en pyn nie U straf op my sonde is nie.  Plaas my voete altyd op die stewige rots van u belofte dat U altyd by my sal wees, al gaan ek ook deur donker dieptes.  Leer my dat ek elke donker uur as die besondere geleentheid sal sien om U liefde en genade nog beter te leer ken”.

God werk anders

God werk dikwels baie anders om as wat die mens verwag.  Baie gelowiges getuig dat hul ergste dae van hulle beste dae was.  Ja, wanneer dit vir hulle gelyk het asof God wreed was, was Hy in werklikheid goed vir hulle.  Wanneer die gelowige se gesond-heid knak en geen medikasie meer help nie, het hy een troos: God se liefde vir Sy kinders verdwyn nie saam met hul gesondheid nie.

Baie jare gelede was ‘n skilder op ‘n hoë steierwerk besig om die koepel van ‘n katedraal te versier.  Toe hy ‘n deel voltooi het, het hy teruggetree om die werk van ‘n afstand te besigtig en byna na sy dood geval.  Gelukkig het ‘n vriend dit betyds sien kom, ‘n kwas gegryp en ‘n streep deur die kunswerk getrek.  Die skilder het instink-matig vorentoe gespring om die skade te verhoed en hom van ‘n gewisse dood gered.

Ons het almal ‘n beeld van die soort lewe wat ons graag sou wou lei.  En soos wat ons dit bewonder, loop ons ongesiens al hoe verder van ons eie geestelike veiligheid al nader aan die gevaar.  Dan moet God soms drasties ingryp en ons prent kom bederf sodat ons tot ons sinne kan kom en ons siel van die verderf red.

Spurgeon het gesê dat van alles wat hy in die lewe ervaar het, hy God ook vir sy  beproewings kan dank omdat dit ‘n geestelik sterker mens van hom gemaak het.  Hy bely dat hy in die brandoond van beproewing groter geestelike krag as uit enige van sy voorspoed geput het.  God was in sy donkerste dieptes so naby aan hom, dat hy amper aan Hom kon raak!

SKRIF: Job 1(teks:22)