...EVANGELIE OF DWAALLEER?
Ds AE van den Berg
“….Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie…” (Mt 22:29)
"Dis goed dat ons lidmate van die EGK as broers en susters in Christus aanvaar. Ons moet egter besef dat dit wesentlik ’n Pinksterkerk is met ’n Gereformeerde baadjie aan wat nie lekker pas nie. Daarom sal ons geestelike vriendskap nooit diepte verkry nie."
Omdat daar ’n goeie verhouding tussen lidmate van die AP Kerk en die Evangelies Gereformeerde Kerk (EGK) is, het baie mense aanvaar dat daar nie juis verskille tussen die twee kerke is nie. In werklikheid verskil die AP Kerk en EGK ingrypend van mekaar!
Die EGK is aanvanklik die Nuwe Protestantse Kerk genoem en het in 1944 ontstaan toe ’n klomp lidmate weens besware teen die Belydenisskrifte uit die NG Kerk bedank het. Daarna het hulle hul eie kerk gestig met ’n eie belydenis-skrif - die Evangeliese Belydenis. In 1985 is die kerk se naam na Evangelies Gereformeerde Kerk verander. Hierdie naam is vêr van die waarheid want hulle is nòg Evangelies nòg Gereformeerd!
Met die Evangeliese Belydenis word die dwaalleer van die Duisendjarige ryk en die wegraping in stryd met die Evangelie geleer. Verder verskil die AP Kerk ook van die EGK oor die leer van die bekering en wedergeboorte.
Die EGK het probleme met die volgende stellings van die Dortse Leerreëls in die derde en vierde Leerstukke. Let op die kern waaroor dit in hierdie leerstukke gaan – dat dit nie die sondaar is wat besluit om hom tot God te keer nie, maar God wat die sondaar wat Hy uitverkies het na Hom laat kom.
“Daarom word alle mense in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enige saligmakende goed, geneig tot die kwaad, dood in die sondes en slawe van die sonde: hulle wil en kan ook nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of hulself daartoe bring om dit te verbeter nie, sonder die genade van die Heilig Gees wat die wedergeboorte skenk.
Maar dat (mense)….bekeer word…..moet aan God toegeskrywe word wat al diegene, deur Hom as sy eiendom van ewigheid af in Christus uitverkore, ook almal in die tyd met goeie gevolg roep, met die geloof en bekering begiftig…
In die wil stort Hy nuwe hoedanighede in en maak dat die wil wat dood was, lewens word; dit wat boos was goed word; wat nie wou nie, nou inderdaad wil; wat wederspannig was, gehoorsaam word.
En dit is die wedergeboorte…wat God sonder ons in ons werk. En dit word in ons voltrek…teweeggebring….nadat God sy werk volbring het….Maar dit is ’n geheel bowenatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie soete, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking wat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en effektief wedergebore word en daadwerklik glo….omdat dit deur God beweeg word….”
Dit is die ware Evangelie!
Die EGK maak hulle skuldig aan die kettery van Pelagius, ’n eertydse Britse monnik van wat gesê het dat God nie die enigste rolspeler in ’n mens se bekering is nie, maar dat die mens sy medewerker is. Daarom speel die mens ’n belangrike rol in sy eie verlossing. Dis dwaalleer!
Hiermee trek die EGK ’n dik streep deur die Gereformeerde leer wat bely Sola gratia – dat sondaars net deur die genade van God alleen gered word. Die drie hoekstene waarop die hele Hervorming van die 16de eeu gebou is, is sola dei, sola scriptura en sola gratia (God alleen, die Bybel alleen en genade alleen).
Dis ironies dat die EGK in 1985 sy naam na Evangelies Gereformeerd verander het, terwyl hulle glad nie die toets van die Evangelie of die Gereformeerde leer slaag nie. Die Volle Evangelie Kerk (VEG) is ’n soortgelyke voorbeeld, ’n kerk wat met sy naam voorgee dat al die ander kerke dwaal omdat hulle nie die volle Evangelie verkondig nie!
Die ironie is dat die VEG nie die volle Evangelie verkondig nie, maar dwaal omdat dit, net soos die EGK, dinge verkondig wat in stryd met die Bybel is! Die EGK heg groter waarde aan sy eie belydenisskrif as aan die tradisionele Gereformeerde belydenisskrifte! Daarom staan die AP Kerk en EGK nie op dieselfde belydenisgrondslag nie en word lidmate van die EGK wat na die AP Kerk wil oorkom nie sito-sito aanvaar voordat daar nie ’n in diepte gesprek met hulle oor die dwaalleringe van die EGK gepraat is nie.
Die EGK is in werklikheid die Pinkster- en Gereformeerde teologie wat mekaar halfpad ontmoet. Baie van die EGK se leerstellings is suiwer Pinkster-teologie. Veral die voorkeur wat hulle aan profesieë oor die eindtyd gee.
Die Bybel sê dat die wêreldtoneel net voor Jesus se wederkoms drasties gaan verander omdat Satan losgemaak word om vir ’n kort tyd oorlog teen die ware gelowiges te voer. Dis ’n siftingsproses en die Groot Verdrukking waarvan Jesus in Mt.24 praat. Die EGK verkondig dat ’n duisendjarige vrederyk net hierna sal aanbreek wanneer Jesus ’n vrederyk op die aarde stig waaroor Hy ’n 1000 jaar lank sal regeer. Daarna gaan Hy terug hemel toe om later weer as Regter te kom oordeel. Die EGK leer dus twee wederkomste wat geheel en al vreemd aan die Skrif is.
Elkeen wat wil weet hoe die einde van die wêreld gaan verloop, moet Mt.24 lees. Jesus gee hier die presiese volgorde waarin die dinge van die laaste dae gaan verloop. Johannes herhaal dieselfde volgorde in Openb.6. Nie Jesus of Johannes praat van ’n duisendjarige vrederyk nie. Dis ’n fabel.
Die EGK leer in stryd met die Bybel dat die eerste wederkoms net voor die groot verdrukking plaasvind en dat Christus by daardie geleentheid gelowiges in die lug op pluk (wegraping). Die tweede wederkoms vind plaas wanneer Hy vir ’n 1000 jaar die aarde kom bewoon. Die Bybel leer net een wederkoms wanneer Christus aan die einde van die tyd as Regter kom en sy kinders daarna hemel toe vat. Niemand word voor hierdie laaste oordeel op gepluk nie. Dis ’n gruwelike dwaling!
Desondanks verkoop boeke oor die wegraping by die miljoene. Dis ‘n gewilde onderwerp by Amerikaanse Pinksterkerk-dwaalleraars soos Hal Lindsay(The Late Great Planet Earth) en Tim La Haye (Left Behind). Die wegraping het sy oorsprong by John Nelson Darby gehad, ‘n 19de eeuse prediker wat geglo het dat dit die kerk se plig is om die koninkryk van God te laat verwerklik. God laat dit nie kom nie, maar die kerk - weereens die dwaalleer van Pelagius!
Die Bybel sowel as die kerkgeskiedenis weet niks van ‘n wegraping nie. Dit as sulks laat alreeds die gevaarligte brand. Die wegraping is ‘n sprekende voorbeeld van eie uitleg. “terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie” (II Pet. 1:20). As dit Skriftuurlik was, sou dit duidelik en sonder ‘n omhaal van woorde in die Bybel gestaan het; veral in Mt.24 en die vroeë Belydenisskrifte.
Al vyf die tekste wat die EGK vir die leer van die wegraping aanvoer, het met die wederkoms te doen. I Thess.4:16,17 is hul gunsteling teks: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met de geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees”.
Om dit as ‘n bewys vir die wegraping aan te voer, is ‘n mistasting. Dit bots ook met vers 15 en 18: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”. Hierdie Skrifgedeelte vra van gelowiges om mekaar te bemoedig omdat hulle hul ontslape geliefdes met die wederkoms weer sal sien.
Vervolgens bots die dwaalleer van die wegraping met die boodskap van Openbaring. Daar is geen aanduiding dat God sommige gelowiges die groot verdrukking gaan spaar nie, maar eerder dat Hy hulle sal bystaan. Daar is nie ‘n ontsnaproete soos wat die EGK leer nie. Om die waarheid te sê, trek die wegraping ‘n streep deur die boodskap van Openbaring! Daar is net een kenbron vir die waarheid - die Bybel en dit leer geen wegraping nie, maar wel ‘n wederkoms.
By geleentheid het die dissipels na Jesus gekom en Hom gevra wat hulle aan die einde van die tyd moes verwag (Mt.24:3) waarna Hy sonder ‘n omhaal van woorde gesê het dat die laaste gelowiges en die Antichris terselfdertyd op aarde gaan wees. Die EGK verkondig soos die Pinksterkerke dat God sy uitverkorenes vóór die verskyning van die Antichris in die hemel sal op pluk. Dis nie wat Jesus sê nie! God sal wel by geleentheid al sy uitverkorenes op aarde bymekaarmaak: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mt. 24:31). Dis juis hulle wat deur die groot verdrukking gegaan het. Feit bly staan dat hulle terselfdertyd op die aarde as die Antichris sal wees en nie voor die tyd op gepluk word nie.
Wat ‘n ontnugtering wag daar nie op lidmate van die EGK wat hul hoop op die hersenskim van ‘n wegraping plaas nie! Hulle glo wel dat daar groot verdrukking gaan plaasvind, maar dat hulle dit nie sal beleef nie omdat God hulle in die hemel sal op pluk voordat dit gebeur. Dit gaan nie gebeur nie!
Dis tragies dat soveel goedgelowige mense in die leeu se bek staar, maar nogtans glo dat hulle op ‘n verebed die hemel ingedra gaan word. As hulle net na die Skrif wil luister! In Mt.24 sê Jesus baie duidelik vir gelowiges wat hulle oor die eindtyd moet weet - daar is geen wegraping nie, maar slegs ‘n bymekaarmaak van gelowiges aan die einde van die tyd om vir ewig saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem te gaan woon.
Die AP Kerk verskil ook van die EGK t.o.v. die heilsorde (die orde waardeur die Heilige Gees in sondaars se harte werk om kinders van God te word. In die AP Kerk leer ons dat dit as volg verloop: Roeping, wedergeboorte, geloof, bekering, regverdigmaking, volharding en verheerliking. Dis die Bybelse orde.
Die EGK leer ’n vreemde heilsorde: Roeping, bekering, regverdigmaking, wedergeboorte, heiligmaking en verheerliking. Waar wedergeboorte in die Gereformeerde leer tweede in die ry staan, staan dit by die EGK vierde in die ry omdat hulle te veel klem op die op die positiewe reaksie van die sondaar plaas. Die EGK ken as’t ware ’n sekere verdienstelike waarde aan die mens toe. Pelagius steek weereens kop uit! Die klem verskuif soos in die Pinkster-teologie van God na die mens.
Teenoor hierdie dwaalleer leer die Bybel dat geloof ’n genadegawe is: “Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil.1:29). “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil.2:13). God bewerk in ons die saligheid en nie die mens wat bewustelik daarna soek nie. As God die mens nie roep nie, sal hy nooit reageer nie!
Dis goed dat ons lidmate van die EGK as broers en susters in Christus aanvaar. Ons moet egter besef dat dit wesentlik ’n Pinksterkerk is met ’n Gereformeerde baadjie aan wat nie lekker pas nie. Daarom sal ons geestelike vriendskap nooit diepte verkry nie.
“Kom, huis van Jakob en laat ons wandel in die lig van die Here!” (Jes.2:5)