HOMO- SEKSUALISME

Ds AE van den Berg

En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het, soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle al twee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word” - Lev.18:22 en 20:13

Min sondes plaas ’n groter skandvlek op volke as homoseksualisme.  ”Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies” (Spr.14:34). Waar homoseksualisme eers geheim gehou is, word dit deesdae skaamteloos op die voorgrond gedryf.    Daar is gereeld homoseksuele saamtrekke en selfs huwelike.    Die koningin van Engeland het onlangs goedkeuring aan sulke huwelike in Brittanje verleen.

Waar homoseksualisme eers as ‘n skandvlek op ‘n gesin gesien is, word dit vandag as ‘n wisselvorm van seksualiteit aangebied.    Elke samelewingsfeer van die kerk tot die openbare media en van die onderwys tot by die regbank word in die stryd om die aanvaarding van homoseksualiteit betrek.    Die Bybelse maatstaf is met ‘n eietydse kultuurmaatstaf vervang.  Wat God sê, tel nie meer nie;  alleenlik die mens!

Homoseksualisme is so oud soos die mensdom en ’n gruwel in die oë van God.

   Alle Afrikaanse kerke het dit tot ’n paar jaar gelede as sonde verwerp.   In 1986 het die NG Kerk se amptelike beleid as volg gelui het: “Homoseksuele praktyke en ‘n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos deur die Heilige Skrif geopenbaar”. Dit is korrek!

Agtien jaar later sing dieselfde kerk ‘n ander deuntjie nadat die nuwe heidenwetgewer sy houding jeens homoseksualisme verander en die kerk haar mantel na die wind gedraai het.   Haar houding van:  Jammer, ons was al die tyd verkeerd maar nou is ons reg, het van ’n kruipende onderdanigheid aan ’n heidenregering gespreek.

Dis in die heidenwêreld mode om sonde nie te veroordeel nie, maar te verdra.     In 1973 pleit die tydskrif The Gay Christian vir versoening tussen homoseksuele en heteroseksuele gelowiges en sê dat laasgenoemdes homoseksualiteit as ‘n Godgegewe wisselvorm van seksualiteit moet aanvaar.   En dis presies wat die NG kerk doen - sy het haar willens en wetens in die maalstroom van teologiese afvalligheid laat intrek.

Gelowiges durf nie huiwer om standpunt teen die God-vyandige wêreld in te neem nie.  Die kerk is dan juis geroepe om in die wêreld in te gaan en nie die wêreld in die kerk nie, soos wat in Suid-Afrika gebeur het nie!

Homoseksualisme is opstand teen God en derhalwe anti-Evangelies.    Dis ‘n ander evangelie, dis ‘n geheel ander leer aangaande God se Woord, dis ‘n ander leer aangaande die skepping, dis ‘n ander teologie van die huwelik en helaas ook ‘n ander leer oor sonde!

Desondanks het sekere teoloë homoseksualisme kwansuis teologies hersien, dit daarna ontsondig en ons eeue oue standaarde onder verdenking geplaas.   Waarom het die apostels, kerkvaders en die Hervormers wat ernstig met die Bybel omgegaan het asook meer as 300 jaar se Gereformeerde teologie nooit probleme met die veroordeling van homoseksualisme gehad nie?  Waarom juis nou onder ’n heidenregering?   Sing die kerklike voël soos wat hy gebek is?

Vandag word alles in die stryd gewerp om homoseksualisme as ‘n wisselvorm van seksualiteit erken te kry al moet die Woord van God ook verkrag of op die agterbaan geskuif word.   Kerke is sienderoë deur homoseksuele drukgroepe oorrompel.

Die ontsondiging van homoseksualisme bring die gesag van die Skrif in gedrang omdat dit nie meer die finale sê het nie.   Hoe durf ’n kerk iets anderste as die Bybel leer!  Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan….” (1 Joh.4:1).    Wie ’n ander leer oor homoseksualisme verkondig, skuif die Bybel opsy en is ’n ergernis.  As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Joh. vers 10).   Die Bybel laat geen agterdeur vir ‘n gruwel soos homoseksualisme oop nie!

Die Skrif is baie duidelik oor homoseksualisme.    God skep die mens as man en vrou (Gen.1-2).    Gevolglik is homoseksualisme in die eerste plek opstand teen die skeppingsorde van God.    Daarna word die eerste mensepaar aangesê om voort te plant: “En God het die mens geskape na sy beeld…man en vrou het Hy hulle geskape.   En God het hulle geseën en God het vir hulle gesê:  Wees vrugbaar en vermeerder…” (Gen.1:27-28).    Om dit te verwerklik, het God hulle geslagtelik van mekaar laat verskil.    Eenderse geslagte kan hierdie opdrag nie uitvoer nie.

Jesus verwys in Mark.10:7 en 8 na Gen.1:27 en 2:24:  ”Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef.  En hulle sal een vlees wees”.   Die huwelik word as ‘n hersamestelling in een vlees gesien.   God het Eva uit Adam geskape en in die huwelik word hulle weer een vlees.  ’n Engelsman skryf:  “God created Adam and Eve, not Adam and Steve!” Wie homoseksualiteit steun, is met ’n vreemde skeppingsverhaal besig.   Gen.1:27-28 en 2:18-25 is nie losstaande tekse nie, maar vorm die kern van die Bybelse standpunt oor homoseksualiteit.

Gevolglik is homoseksualisme niks anders as ‘n bewustelike verwerping van die goddelike wil nie.   Dit ontken die geslagtelike onderskeid wat God gemaak het en verwerp dus die Skepper se ontwerp.   Daarom floreer homoseksuele gedrag onder heidene soos die verhaal van Sodom en Gomorra dit duidelik uitspel.

In Lev.18:22 en 20:13 verbied God uitdruklik homoseksuele dade en skryf selfs ‘n straf vir oortreders voor: “En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het, soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle al twee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word”. Die woord sekerlik bedoel sonder verskoning.   Homoseksuele moes sonder uitsondering tereggestel word!

Genesis ag heteroseksualiteit as God se wil en homoseksualiteit as ’n verminking daarvan.   Net soos wat Kommunisme booswigte se nabootsing van die Christendom is, is homoseksualisme Satan se nabootsing van die huwelik.

In die OT word homoseksualisme met die Hebreeuse woord toeva (gruwel) verbind.    Die Bybelskrywers gebruik dié woord as hulle na afgodspraktyke verwys.   Vir ‘n man om met ‘n man seksueel te verkeer, is ‘n toeva.   Israel word dan ook telkens opgeroep om nie aan heidense toevas deel te hê nie, maar om anders op te tree.

In Levitikus waarsku God vir Israel dat indien hulle nie ernstig teen homoseksualisme optree nie, Hy hulle uit hul land sou verwyder soos wat Hy die Kanaäniete daaruit sou verwyder.  As Israel hul aan heidense gruwels skuldig maak, sou hulle die gevolge dra.

Die verhaal van die vervloeking van Gam se nageslag verdien aandag.   Wat was Gam se sonde dat sy nageslag so ‘n harde oordeel ontvang het?   Het hy net vir sy besope vader gelag?     Nee, iets erger; hy het ’n homoseksuele daad met sy besope vader gepleeg.   In Gen.9 skryf Moses dat Gam sy vader se naaktheid aanskou het; ‘n woordgebruik waarmee die ou skrywers iets wat hulle nie reguit wou sê nie, verbloem het.

Moses skryf dat toe Noag uit sy roesemoes wakker word en bemerk wat Gam hom aangedoen het, hy sy nageslag vervloek het.    Die woordgebruik dui baie duidelik op seksuele aanranding.   Manlike verkragting is die ergste vernedering denkbaar en Gam se vervloeking in ooreenstemming met die oortreding.

Die verhaal van Sodom en Gomorra in Gen.19:4-11 is die mees voor die hand liggende verhaal van God se straf op homoseksualisme.   Die opskrif kan net so wel lui:  Die gruwel van homoseksualisme word gestraf.    Die wyse waarop die inwoners vreemdelinge by wyse van verkragting gedomineer het, het God so kwaad gemaak, dat Hy die  twee stede verwoes het.   Hoe durf ’n gelowige ’n sagte woord vir homoseksualisme hê!

Die NT-gelowiges het geen onduidelikheid oor homoseksualisme gehad nie.   Dit wat die Skrif daaroor wou sê, was alreeds in die OT gesê.   Gelowiges het geweet dat dit ’n ernstige vergryp was en wie hom daaraan skuldig maak, nie net van die volk van God afgesny is nie, maar ook van die koninkryk van God uitgesluit is.

Paulus sien homoseksuele praktyke as heidens wat nie onder gelowiges tuishoort nie.    Selfs heidene soos Plato, Aristoteles, Seneca en talle ander vooraanstaandes het ook homoseksualisme verag.  Teen hierdie agtergrond skryf Paulus aan die gelowiges in Rome:  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet…..omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan….” (Rom.2:14, 15).   Hou in gedagte dat die erotiese liefde in Rome met wellus deurspek was.

Rom.1:24-27, 1 Kor.6:9-10 en 1 Tim.1:9-10 wys Paulus spesifiek na die gruwel van homoseksualisme.    Wie hieraan skuldig is, word uit die koninkryk van God gesluit.   Gevolglik het die eerste Christene baie duidelik standpunt teen homoseksualisme ingeneem.   Dis as teken van hul geloof in Christus gesien.

Die heidene daarenteen het betreklik dierlik opgetree en mekaar dikwels as dinge en nie as mense behandel nie.   Heidene se skandelike hartstogte was simptomaties van hul God-verlatenheid.   Daarom is geen praktiserende homoseksueel kind van God nie.

Rom.1:18-32 is die sentrale Skrifgedeelte in die NT in die beoordeling van homoseksualisme.   Paulus sien dit as ongebreidelde wellus wat in die lewens van heidene hoogty vier.   Daarna onderstreep hy ’n waarheid - die Evangelie het op die lewe van enkelinge sowel as gemeenskappe betrekking.    Homoseksualisme keer die natuurlike orde van God in ‘n teen-natuurlike orde om en moet derhalwe God se straf verwag.  Niemand korrigeer Hom nie!

Desondanks wil ontspoorde kerklui ’n verskil tussen heidense homoseksualisme en die Christelike homoseksualisme maak, asof dit twee verskillende dinge is!   Hulle voer aan dat Paulus nie van homoseksuele oriëntasie en duursame homoseksuele verbintenisse geweet het nie en hom slegs teen heidense homoseksuele praktyke uitgespreek het.   Gevolglik is sy standpunte nie op moderne mense van toepassing nie.   Wie so dwaas redeneer, bring die goddelike inspirasie van die Skrif in gedrang!

Ontspoorde kerklui haal selfs Hand.15 aan waar Petrus sê dat die Here aan hom getoon het dat geen mens onheilig of onrein beskou mag word nie.    Gevolglik moet die kerk homoseksueles in haar midde aanvaar en laat tuis voel.    Wat ’n verdraaiing van die werklike bedoeling van hierdie Skrifgedeelte wat oor die aanvaarding van alle mense in die geloofsgemeenskap handel en beslis nie oor verdraagsaamheid en aanvaarding van gruwels in die gemeente nie!   Daarbenewens wemel die Bybel van tekste van mense wat onheilig en onrein geleef het.  Dink maar net aan Agab en Isebel!

Sommige kerklui beweer dat, omdat Jesus niks direk oor homoseksuele gedrag gesê het nie, Hy positief daaroor was.   Hulle koppel sy stilswye aan die liefdesgebod in Matt.22:34-40.    Dis ’n belaglike argument!    Jesus het allermins oor seksuele sondes geswyg, maar baie duidelik standpunt daarteen ingeneem.    Hy was dikwels in gesprek met vroue wat losbandig geleef het en het nooit simpatiek teenoor hulle vergrype gestaan nie, maar hulle [a1] aangesê om van die sonde af te sien.  Let net op sy gesprek met die owerspelige vrou in Joh.8.    Hy gun haar wel die ruimte by Hom, maar sê ook vir haar dat daar nie vir haar sonde plek is nie.

Nog ‘n dwase argument wat aangevoer word, is dat Jesus die mense wat as seremonieel onrein beskou is soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, melaatses en blindes nie afgestoot het nie, maar eerder nader getrek het.    Lidmate word aangemoedig om Jesus se voorbeeld hierin te volg en onreines soos homoseksueles nie te veroordeel nie, maar eerder in die gemeenskap van die gelowiges op te neem.

Die waarheid is dat homoseksualisme nooit as ‘n oortreding van die seremoniële wet beskou is nie, maar ‘n doelbewuste oortreding van God se morele wet.   Dis sedeloosheid op sy aller walglikste!

Gen.19:1-28; Rom.1:18-32