Ds AE van den Berg
Onlangs vertel iemand my van ’n vriendin wat aan ’n Charismatiese kerk behoort en op ’n naweek-kamp geleer is hoe om te profeteer. Haar vraag was: Is dit moontlik? Is daar vandag nog profete? Charismate glo omdat dit die laaste dae is God deur mense met die gawe van profesie, aan die kerk nuwe openbaringe gee. Hierdie mense beskou hulself as moderne profete wat ’n profetiese woord direk van God ontvang het oor wat die toekoms inhou.
Dis ’n ernstige dwaling! Christus waarsku in Mt.24:24 teen die profete van die laaste dae en sê dat daar baie van hulle sal wees en baie mense gaan mislei. Selfaangestelde profete is egter nie ’n nuwe verskynsel nie, maar so oud soos die Christelike kerk self: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1).
Satan werk listig en mislei mense wat nie sterk in die geloof staan omdat hulle die Woord van God nie deeglik ondersoek nie. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie - hulle lees, maar verstaan nie. Daarenteen verhoed ’n deeglike kennis van die Bybel dwaling.
’n Deeglike kennis van die Bybel is die enigste instrument waarmee dwaalleraars aan die kaak gestel word: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot tereg-wysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17). Ongelukkig is baie mense, wanneer dit by die leer van die Bybel kom, onkundig en haal al te graag Skrifgedeeltes buite verband aan om hul siening te ondersteun.
Die Bybel waarsku dat dwaalleraars die kerk onder die dekmantel van uiterste vroomheid sal binnekom om mense te mislei: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dis is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Kor.11:13-15).
Die kerk het van sy ontstaan af met misleiding te kampe gehad. Jesus sê in Mt.24 dat die valse profete/leraars teen die einde gaan toeneem: “Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (:25). Misleiding het die kerk van Jesus Christus baie groter skade as vervolging aangerig!
Die grootste skade word egter net voor die wederkoms van Christus aangerig: “….in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1-2). Mense hang nie goedsmoeds valse leerstellings aan nie, maar word mislei om dit te doen. Op hulle beurt mislei hulle weer ander mense; ’n bose kringloop net omdat hulle die Woord van God nie verstaan nie!
Kyk gerus wie die maklikste mislei word - mense wat glo dat, omdat hulle Christene is, hulle nie mislei kan word nie. Die Bybel waarsku nie verniet dat wie staan, moet oppas om nie te val nie! Mense wat bonatuurlike dinge sonder meer as van goddelike oorsprong ag, hou nie daarmee rekening dat Satan ’n nabootser is en dat bose geeste hulle soms ook goed kan voordoen nie. Dwaalleraars tree in die gees van die Antichris op. Paulus sê van lg. “….hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen..” (2 Thess.2:9).
Charismate getuig van baie wonders en tekens wat hulle in die Naam van Jesus doen. Die vraag is: Watter Jesus? Om sy Naam te gebruik, waarborg nie dat dit die Jesus van die Bybel is nie. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal ingaan in die koninkryk van God nie…” (Mt.7:21).
Paulus skryf aan die Korintiërs wat baie godsdienstig was, maar nie oor die suiwere leer gewaak het nie: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:4). Om godsdiens ernstig te beleef, vrywaar ’n mens nie van misleiding nie.
Wat leer die Bybel in sake profete en profesieë? Die OT profete was mense wat God geroep het om instrumente in sy hande te wees. Israel was afgesonder om apart van die heidene te wees. Desondanks het Israel hul telkens van God afgekeer en met afgodery omgegaan. Dan het God sekere manne as profete aangestel om Israel te waarsku om na God terug te keer of geoordeel te word.
Omdat hulle Israel oor sonde moes aanspreek was die profete nie gewild nie en is selfs vervolg. Jeremia is bv. in ’n modder put gegooi. Die valse profete was egter gewild soos vandag. “So sê die Here van die Leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jer.23:16,17).
God het geweet dat daar valse profete sou wees en ’n toets aangelê waaraan die egtheid van ’n profeet vasgestel kon word. As ’n profeet in die Naam van God ’n toekoms-profesie uitspreek, was die toets dat dit moes gebeur! “…Hoe sal ons die woord weet wat die Here nie gespreek het nie? As die profeet in die Naam van die Here spreek en wat hy gesê het, gebeur en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie…” (Deut.18:21).
’n Profeet is altyd deur God geroep. Dit was nooit sy eie keuse nie. Hy het nie bewustelik daarna gesoek nie. Profete was nie toekoms-voorspellers nie, maar moes die afvallige volk waarsku om na God terug te keer.
In die NT het dié prentjie verander: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur sy Seun…” (Heb.1:1). Jesus openbaar self God se finale boodskap aan die mensdom. Die verlede, hede en toekoms is ten volle in die Bybel saamgevat. Net soos wat Maleagi die laaste OT profeet was en ná hom vir 400 jaar ’n profetiese stilte was, is daar na Johannes se verblyf op Patmos waar hy Openbaring geskryf het, geen verdere openbaring nie. Dit was die einde van die profete. Daarom waarsku Openb.22:18 om niks by die Bybel by te voeg en sê Paulus: “moet nie dink bo wat geskrywe is nie…” (1 Kor.4:6).
Die NT apostel en profeet was ’n uitsonderlike bediening wat God vir die vroeë kerk bestem het. Omdat die NT nog aan die uitleef en die Bybel gevolglik nie voltooi was nie, het die NT profeet se bediening anders as dié van sy OT eweknie gelyk – hy moes die woorde en leringe van Jesus verduidelik.
Nadat die NT afgehandel was, was die profeet nie meer nodig nie en het die amp onmiddellik verdwyn. Daarna is alle gelowiges deur God geroep om profete te wees in die sin dat hulle die Evangelie na ’n ongeredde mensdom moet uitdra deur God se volle geopenbaarde wil soos dit in die Bybel opgeteken is, te verkondig en te verduidelik.
Die gawe van profesie waarop moderne profete hul beroem, blyk iets geheel anders te wees as wat die Bybel bedoel. Die Bybelse gawe het uitsluitlik met verkondiging en nie met openbaring te doen nie. Die ontvanger van die gawe is ’n prediker en nie ’n waarsêer nie: “Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging, want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word” (1 Kor.14:3, 31). Kortom: Hy lig Skrif waarhede uit; hy voorspel nie die toekoms nie!
Let daarop dat waar die NT van profete melding maak, dit hoofsaaklik waarskuwings teen valse profete is. Jesus waarsku selfs dat dit in die laaste dae baie gaan toeneem.
Ons moet egter tussen valse leraars en leraars wat mislei is, onderskei. Daar is baie ernstige en opregte leraars, maar omdat hulle mislei is, mislei hulle ook ander mense onwetend. Hulle gebruik ook die Skrif om goddelike gesag aan hul lering te verleen. Baie van hulle het ’n opregte liefde vir God en ywer vir sy saak, maar hulle dwaal omdat hulle die Bybel nie reg verstaan nie. Baie van die moderne profete is niks anders as toekoms-voorspellers nie en staan nie in diens van God nie.
’n Gelowige wat beweer dat God nuwe openbarings direk aan hom bekend maak, plaas homself in baie groot gevaar omdat hy homself vir demoniese invloed oopmaak. Die geestelike skade wat sulke profete aan kerke veroorsaak, is astronomies groot! Menige is al ontnugter en sommige het selfs hul geloof in die proses verloor omdat kerke hierdie valse profete verdra. Hulle uitsprake het niks met Skrifuitleg te doen nie. Hulle ondermyn die gesag van die Skrif; presies wat Satan wil hê!
Baie van die valse profete word steeds in kerklike geledere as profete van God aangesien al is hulle uitsprake strydig met God se Woord. Mense wat nie sterk in die Woord van God staan nie, is baie verdraagsaam teenoor die dinge van Satan en aanvaar dat ’n profeet so nou en dan die punt kan mis. Dis on-Bybels! Hoe kan ’n God-begeesterde profeet dan verkeerd wees? Valse profesie behoort elke gelowige hewig te ontstel. So ’n profeet behoort, indien hy nie grondige berou toon, uit die kerk geban te word. Luister wat sê die Woord oor ’n profeet wat so nou en dan mis:
“Daarom kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat my woorde steel, die een van die ander. Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat hul tong gebruik en sê: die Here spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die Here, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die Here. Daarom kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle van my aangesig af wegwerp” (Jer.23:30-32,39).
Charismatiese kerke wemel van opleidingsentrums vir voornemende profete. Dis ’n skreiende misleiding en on-Bybels! Die moderne profetiese beweging is nie ’n gawe van die Heilige Gees nie, maar waarsêery wat baie duidelik deur die Woord van God verbied word. Baie mense trap in hierdie sataniese strik. Daar is net een manier om aan hierdie strik te ontkom en dis deur jou geloof slegs op die Bybel te grond en ernstig sorg te dra dat jy God se geopenbaarde Woord baie goed verstaan!
Eseg.13