Ds AE van den Berg
2 Kor.6:11-18; 1 Joh.4:1-5
Die Roomse Kerk (RK) het met die Hervorming (16de eeu) baie seer gekry toe duisende van haar lidmate afgodery laat staan en by Protestantse kerke aange-sluit het. Dit het haar aansien lelik geknou en kon sy nie meer die septer swaai en teenstanders laat folter of doodmaak nie. Haar ego was geskonde. Die Engelse spreekwoord lui: “Hell has no fury like a woman scorned” Dis ook van die RK waar. Daarom het sy gesweer dat elke Protestantse kerk na haar in berou sou terugkruip!
Die RK het tot en met 1962 weinig sukses daarmee gehad omdat Protestantse kerke hul lidmate deeglik teen die Roomse verderf gewaarsku het. Die NG Kerk het selfs ʼn boekie uitgegee Die Roomse Gevaar waarin sy haar lidmate in geen onduidelike taal teen die invloed en leer van die RK gewaarsku het.
In 1962 het die kerklike toneel verander toe ʼn Konsilie (Sinode) in Rome gehou is (Vaticanum 2) waarop besluit is om van strategie te verander – die RK sou openlik toenadering tot Protestantse kerke soek en hulle daarna vir verandering sagmaak. Protestantse kerke moes oorreed word om hul vir strukturele eenheid te beywer - almal onder een groot kerklike dak en gevolglik maklik om om te beheer. Die dinamiese program van optrede wat na hierdie Konsilie van stapel gestuur is, het ernstige gevolge vir Protestantse kerke gehad.
Een van die instrumente vir verandering wat vanuit Rome geloods is om bande met Protestante te smee, was ʼn interkonfessionele Bybel; ʼn Bybel wat vir beide Katolieke en Protestante aanvaarbaar was. Daar is in Junie 1968 daarmee begin en ʼn Afrikaanse uitgawe in 1983 bekend gestel. Daarmee is ʼn Roomse ideaal verwesentlik – Afrikaanse kerke het in Roomse geledere beland!
Die Antichris se ideaal van 'n Eenwêreldstaat, een ekonomie, en een wêreldgodsdiens onder die Roomse pous, het met hierdie interkonfessionele Bybel ʼn groot hupstoot gekry. Protestante het na Rome begin terugkruip! Wat daarna met baie van die Protestante kerke gebeur het, is skokkend! Seremonies is met brandende kerse gehou, Roomse gebruike soos Ash Wednesday en die Roomse kindernagmaal het oral kop uitgesteek. Selfs die hostie i.p.v. die brood is met Nagmaal gebruik. Van al die plae wat die Boerevolk getref het, is kerklike misleiding die ergste!
Calvyn het presies geweet wie die Antichris is. Hy skryf as volg: “Die profeet Daniël en die apostel Paulus het voorspel dat die Antichris in die tempel van God sou sit en voorgee dat hy God is. Ons glo dat dit die pousdom is” (Institusie, Deel 2, p.314). Die profesie van Daniël dui op niemand anders as die pousdom nie: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel...” (Dan.7:25).
Hoe kon die Boerevolk toelaat dat die pousdom met sy Bybel inmeng?! Die Bybel was sedert die volkstigting vir hulle kosbaar. Hulle eerbied daarvoor het hulle deur talle ellendes soos bv. Bloedrivier gedra. Daar was vir hulle niks heiliger op aarde as God se Woord nie. Die Antichris het dit geweet! Daarom het hy juis hierdie medium gebruik om ons Gereformeerde volksbestaan te ondermyn en talle handlangers uit ons volksgeledere te kry. As kerklui saam met die vyand plunder, is die dood in die pot want die verstand van die kerklike publiek word maklik getiranniseer om die dood vir die lewe aan te sien.
Bose magte wat daarop uit is om ʼn volk te vernietig, skuil graag agter die skild van godsdiens soos die duiwel agter ʼn kruis! Dis opvallend dat, soos wat die politiek verander het, daar ook aan die Bybelvertaling verander is. Dieselfde tyd! Nadat die NAV in 1983 verskyn het, is mnr. Pik Botha met ʼn praguitgawe daarvan Rome toe gestuur om dit persoonlik aan die pous te oorhandig. Dit het die goddelose aap uit die vrome mou gelaat – plaaslike Protestantse kerke het gemene sake met Rome gehad!
Dit ontstel ernstige Protestante dat die RK indirek by die NAV betrokke was. Ons sal seker nooit weet watter bose planne ontspoorde kerke agter die skerms gesmee en besmoontlik nog steeds smee nie!
Die NAV is in werklikheid nie ʼn Bybelvertaling nie omdat dit volgens die dinamies ekwivalente Bybelvertaling vertaal is; ʼn metode eie aan alle ander Rooms-georkestreerde Bybelvertalings. Hierdie vertaling is aan die hand van ʼn Vatikaanse studiestuk gedoen wat in Januarie 1968 uitgereik is: “Guiding principles for Inter-confessional Co-operation in Translating the Bible”. Rome het selfs vir Protestantse kerke voorgeskryf hoe om die Bybel te vertaal!
Wat het in werklikheid agter hierdie nuwe vertaling gesit? Waarom was dit nodig? Die RK wou die suiwere leer van die Protestantse Bybel ondergrawe ten einde ooreenstemming tussen Rome en Protestantse kerke te verkry. Hierdie vertaling was die dun ent van die wig wat al hoe dieper ingedryf is.
Die NAV verskaal die Protestantse leer oor geregtigheid deur die geloof - een van die kardinale leerstellings van die Christendom wat deur Paulus in sy brief aan die Romeine sterk beklemtoon word. Die RK verag hierdie Skrifwaarheid en leer dat goeie werke en kerklidmaatskap mense die saligheid besorg. Dit was juis Rom.1:17 wat Luther laat besef het dat die RK dwaal: “... Maar die regverdige sal uit die geloof leef”. Hierdie waarheid het in die 16de eeu ʼn ingrypende kerklike omwenteling en breuk in kerklike geledere gebring. Die NAV probeer hierdie onoorbrugbare breuk oorbrug.
Verdraagsaamheid en versoening het vandag feitlik Evangelie geword. Kerke gaan selfs kompromieë aan wat nie tot God se eer strek nie. Die musiek van universele versoening het aanvanklik goed geklink maar gaandeweg wanklanke voortgebring. Paulus waarsku: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?" (2 Kor.6:14). In Openb.22:18 en 19 waarsku God mense om nie aan die Bybel te peuter nie:
“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe....”
Waar staan die Boerevolk met die nuwe geparafraseerde Bybelvertaling? 'n Parafrase is ʼn verklaring in die vertaling.
Dis nie ʼn letterlike weergawe van die Bybelse grondteks nie, maar ʼn verklarende weergawe daarvan. Selfs die Messiaanse heilsverwagting in die OT is uit die NAV wegvertaal!
Die 16de eeuse Hervormers het onmiddellik na die Hervorming met ander Bybelvertalings begin – vertalings deur Luther, Calvyn, Tyndale en die Nederlandse Statevertaling; almal uit die grondtekste vertaal. Rome het nog nooit een daarvan as gesaghebbend erken nie; slegs hul Codex Vaticanus, die grondteks van die NAV. Let daarop dat die Jehova Getuies se New World Translation dieselfde grondteks as die NAV gebruik. In werklikheid stem die NAV meer met New World Translation as met die OAV ooreen!
Daar is vir die Boerevolk net een egte Afrikaanse vertaling - die van 1933/53 omdat dit ʼn vertaling van die grondteks is. [A1] ʼn Vertaling het slegs verdienste indien dit die oorspronklike teks korrek en onvervals weergee. [A2] [A3] Toe daar met die OAV begin is, het die vertalers by die Statevertalers se manier van vertaling aangesluit nl. om die manier hoe die mense in die Bybelse tyd gepraat het (Hebreeus en Grieks) deur te gee; ʼn letterlike oorsetting van die Heilige Skrif. Gevolglik is die OAV feitlik ʼn woord-vir-woord weergawe van die grondteks.
Die OAV het ʼn voor – en ʼn nadeel. Die voordeel is dat lesers kan sien hoe die oorspronklike grondteks gelyk het. Al nadeel is dat dit nie altyd so verstaanbaar in die Afrikaanse idioom is nie. Daarom lees die NAV baie makliker. Die vertalers glo tot vandag toe nog dat hulle ʼn leemte kom vul het. Die vraag is: Teen watter prys?
Die groot probleem van die NAV is dat dit ʼn parafrase is – ʼn verklaring in die vertaling en as sulks nie ʼn vertaling in die ware sin van die woord nie. Die vertalers het van die letterlike vertaalmetode wegbeweeg deur nie woorde nie, maar eerder hul betekenis te vertaal. Gevolglik val die klem op verstaanbaarheid en nie gebondenheid aan die grondteks nie. Al lees dit makliker, verbloem dit die grondteks. Vir iemand wat ernstig met Skrifstudie is, is die NAV onvoldoende en derhalwe onaanvaarbaar!
Gevolglik staan en val die AP Kerk as beskermers van die waarheid by die OAV. Oral waar die tempel van Christus verrys, rig Satan sy kapel van misleiding op en het ʼn kerk wat die waarheid nie meer beskerm nie, geen bestaansreg nie.