Ds AE van den Berg
Gen.4:1-17
Vrede is die eerste slagoffer van geweld:
Geseënd is elkeen wat sy lewe aan vredemaak toewy want dis ʼn uitdaging!
" In Gen.9 lê God ʼn beginsel rakende die morele vergryp van geweld neer: 'Hy wat die bloed van ʼn mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak' (Gen.9:6) ... In ʼn geweldsituasie is daar geen wenners nie, maar slegs verloorders. Abel het iewers in die veld dood gelê. Kain het presies geweet waar want hy het die daad gepleeg. 'Toe sê die Here vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?' (Gen.4:9). Dis ʼn vraag wat ons onsself moet afvra – is ek my broer se wagter?"
Suid-Afrika is een van die gewelddadigste lande ter wêreld met meer as 40 moorde (2013) per dag. Die plaaslike misdaadvlak word in sommige internasionale kringe selfs as die ergste benewens ʼn oorlogsgebied beskou! Ons is ongelukkig deel van ʼn vasteland wat vir sy geweld en onbevoegde regerings wat teen eens beskaafde gemeenskappe ʼn skrikbewind voer, berug is.
Suid-Afrika is die skouspel van ʼn eksperiment wat baie lelik skeefgeloop het toe ʼn verkose heidenregering met die ondersteuning van etlike ontspoorde kerke die Christelike grondwet met ʼn wêreldse grondwet vervang het. Hulle het die band met die hemelse Vredevors bewustelik verbreek en die bittere gevolge gedra: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2,3).
Gevolglik het geweld oorhand toegeneem – 717% binne die eerste vyf jaar! Sedertdien teister misdaad ons land soos ʼn Middeleeuse plaag. Daar gaan nie ʼn dag verby dat burgers nie van geweld kennis neem en/of daaraan blootgestel is nie. Nagenoeg 3000 boere is al op plase vermoor soos wat die seuns van Belial hulle gate uit geniet!
Gevolglik is dit belangrik dat gelowiges dieper insig in die oorsaak van geweld verkry ten einde die dieper-liggende wortels daarvan te verstaan. Die media se dekking van geweld is baie oppervlakkig en sentreer grotendeels om wapenbeheer, sonder om by die oorsaak van geweld uit te kom. Die meeste mense het maar vrede met die verfoeilike toedrag van sake gemaak en hoop dat strenger wetstoepassing in die toekoms ʼn einde aan die voortslepende geweld sal maak.
Wat sê die Bybel oor geweld? Hoe moet gelowiges hierdie kommerwekkende situasie in ons land na reg betrag? ʼn Mens hoef nie ver in die Bybel te lees om op geweld af te kom nie; om die waarheid te sê, reeds in die vierde hoofstuk van Genesis, by die tweede menslike geslag. Kain vermoor sy broer en die mensdom se getal daal met ʼn hele 25% .... as gevolg van geweld!
Wat het agter Kain se optrede gesit? Jaloesie, die oorsprong van geweld. Jaloesie is ʼn emosie wat in die hart ontspring en as dit nie gesmoor word nie, lei dit dikwels tot geweld. Soos wat roes yster wegvreet, verteer jaloesie mense
Jaloesie is soos ʼn wurm wat selfs in die mooiste vrug inkruip of ʼn wolf wat die mooiste bok teiken. Abraham se rykdom het sy vyande jaloers gemaak en Jakob se seëninge het Esau hom laat haat.
Let op die gelese gedeelte. God waarsku Kain betyds: “.... Waarom is jy kwaad en waarom laat jy jou hoof hang? .... die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou,; maar jy moet daaroor heers” (Gen.4:6,7). Wat moet gelowiges met kwaad doen? Dit bemeester: “maar jy moet daaroor heers” Versuim maak dat bloed verspil kan word. Geweld is die gevolg van kwaad wat nie bemeester is nie en mense soms irrasioneel laat optree. Hulle vergeet wie hulle is en wat hulle doen. Geweld begin nie met militêre optrede, rassehaat of sosiale ongelykheid nie; dis so na aan ons as jou eie hart!
In Gen.9 lê God ʼn beginsel rakende die morele vergryp van geweld neer: “ Hy wat die bloed van ʼn mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” (Gen.9:6). Dit staan vroeg in die Bybel en is derhalwe ʼn grondliggende beginsel – mense is God se beelddraers. Jy gebruik nie geweld teen die maaksel van God se hande nie!
Desondanks lees ons gereeld van geweld in die OT. Dit wil selfs voorkom asof die OT ʼn bloedige verslag van die geskiedenis van Israel is en dat God self geweld goedpraat. Nee, alle geweld dra nie God se goedkeuring weg nie. Baie van die geweld was egter geregverdig omdat Israel genoodsaak was om haar teen vyandige magte te verdedig en dit wat vir haar kosbaar was te beskerm.
Daar is ʼn baie groot onderskeid tussen verdedigende (defensiewe) geweld en aanvalsgeweld (offensief). Let op ons eie volksgeskiedenis. ʼn Bietjie meer as ʼn eeu gelede val Brittanje die Boerevolk vir sy minerale rykdom aan; dis offensiewe geweld en derhalwe sonde. Die Boerevolk skiet baie Britse soldate dood; dis defensiewe geweld en nie sonde nie.
Gemeet aan die leer van Jesus verander die prentjie rakende geweld ingrypend in die NT. Tydens Jesus se inhegtenisname beveel Hy Petrus om nie sy swaard te gebruik om Hom te verdedig nie. Tydens die daaropvolgende verhoor sê Jesus vir Pilatus: “... My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het....” (Joh.18:36).
Jesus se leerstellings sluit nie geweld sondermeer uit nie. Verdedigende geweld is altyd geregverdig. Daarom is Jesus se leer nie vreemd aan wat Paulus in Rom.13 oor die mag van die staat skryf nie. Die staat het die volste reg om geweld te gebruik ten einde ʼn rustige lewe vir burgers te verseker – selfs die doodstraf daadwerklik toe te pas! “...want hy is ʼn dienaar van God, jou ten goede” (Rom.13:4). Jesus verkies egter altyd vrede bo geweld omdat Hy ʼn ander soort koninkryk met ʼn ander manier van lewe kom bekend stel het.
Jesus raak in die Bergpredikasie die oorsprong van geweld aan. Dis dieper as wat ons dink en begin voordat enige bloed vergiet word: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broer sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg” (Mt.5:21,22).
Daarna leer Jesus iets baie belangrik: “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dit is die dinge wat die mens onrein maak” (Mark.7:15). Verkeerde dinge stimuleer wel boosheid; dis egter die oorgaan tot die daad wat die skade aanrig. En hierdie besluit kom uit die hart. Ja, die hart is die oorsprong van geweld. As jou hart vuil is, is jou dade vuil, maar as dit skoon is, is jou dade ook skoon.
Die Fariseërs het geglo dat slegs dit wat ʼn mens inneem, hom onrein maak. Jesus wys hulle tereg; dis wat uit jou hart gaan wat jou onrein maak. Die orde word omgekeer – nie van buite na binne, maar van binne na buite.
Vervolgens moedig Jesus gelowiges aan om in die aangesig van geweld geestelik dapper op te tree. Die wêreld is ʼn sondige, gewelddadige plek en gelowiges sal verdrukking hê en selfs vir hul geloof sterf. “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie....” (Mt.10:28). “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh.16:33). Jesus praat van die dapperheid wat Christene wat in gevaarlike plekke verkeer, daagliks moet uitoefen.
Jesus gee aan gelowiges ʼn opdrag hoe om met die geweld van hulle tyd om te gaan: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word|” (Mt.5:9). Vrede is die eerste slagoffer van geweld. Jy kan geweld slegs teenwerk as jy jou baie ernstig aan hierdie opdrag toewy. Dit sluit daadwerklike optrede, harde werk en frustrasie in. Geseënd is elkeen wat sy lewe aan vredemaak toewy want dis ʼn uitdaging!
Die volgelinge van Jesus het vrede gevind toe hulle Hom in hulle lewe gevind het. Daarna het Hy hulle aangesê om daadwerklik vrede te gaan maak. Die God van vrede kan nooit deur ʼn geweldsituasie vereer word nie. Daarom gaan dit bitter sleg met die Christendom aan die suidpunt van Afrika. Gelowiges daarenteen is nie geweldenaars nie en geweldenaars nie gelowiges nie! Vredemaak is goddelike werk en nie vir Satan se kinders beskore nie. Al werk die vrede nie altyd uit soos wat ons dit wou hê nie, weet ons een ding – daar is geen alternatief daarvoor nie. Geweld werk nêrens ter wêreld nie!
Wat kan ons aan die geweld doen wat ons dierbare land al meer as twee dekades teister? Bid dat God die booswigte sal verdryf en ons nuwe volksleiers sal gee, mense wie se harte in die bloed van Christus gewas is en vir die land vrede bring. In rein harte skuil daar geen geweld nie. “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mt.7:11). Hy wil gee!
In ʼn geweldsituasie is daar geen wenners nie, maar slegs verloorders. Abel het iewers in die veld dood gelê. Kain het presies geweet waar want hy het die daad gepleeg. “Toe sê die Here vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter? “ (Gen.4:9). Dis ʼn vraag wat ons onsself moet afvra – is ek my broer se wagter? Ja, ek is!