...EG OF SELFBEDROG?
Ds AE van den Berg
1 Kor.12:12-31; 14:25
"Die spreek in tale staan nie toevallig laaste op die lys van gawes nie (1 Kor.12). Dit was die minste werd omdat dit slegs ʼn teken vir ongelowiges was. 'Die tale is dus nie ʼn teken vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges' (1 Kor.14:22). "
Die Charismatiese beweging lê sterk klem op die spreek in tale; die geestelike vermoë om in ʼn verrukking van sinne in ʼn nie-verstaanbare taal te kan praat. Dis vir hulle ʼn klinkklare bewys van die doop met die Heilige Gees, wat dit nie is nie. Dit het niks met die Heilige Gees te doen nie, maar is in werklikheid selfbedrog. Brabbeltaal is ʼn kenmerk van alle heidense misterie-godsdienste waardeur Satan ʼn vatkans kry (Efes.4:27).
Vir Charismate is die spreek in tale ʼn verruklike ervaring wat, so leer hulle, beleef moet word om te kan waardeer. Gevolglik plaas hulle ervaring bo die Skrif; een van die gevaarlikste dwalings wat begaan kan word! Gereformeerdes daarenteen plaas altyd die Skrif eerste. Alle ervarings word daaraan onderwerp. Indien ʼn ervaring nie met die Skrif ooreenstem nie, word dit daar gelaat.
In Charismatiese kringe wemel dit van subjektiewe ervarings sonder die nodige Skriftuurlike gronde. Dis uiters gevaarlik want as die verstand uitgeskakel word, verloor mense beheer oor hulself en neem Satan oor. Sulke ervarings prikkel hoogstens die vlees. Om dit as heiligmakend te beskou, getuig van gebrekkige Skrif kennis asook die onvermoë om die geeste te onderskei.
Benewens een teks in Markus word daar net in twee ander Bybelboeke van die spreek in tale melding gemaak - Handelinge (2,10 en 19) en Korintiërs (1:12-14). Omdat Handelinge nie ʼn normatiewe patroon vir die Christelike kerk daarstel nie, het slegs 1 Kor.12-14 betrekking op die rol van tale-spreek in die gemeente. Let daarop dat al drie hierdie hoofstukke ʼn teregwysing is. Die Korintiërs het dieselfde fout as die Charismate van vandag gemaak – hulle het die gawe misverstaan en daarom misbruik!
In 1 Kor.12 skryf Paulus oor die geestesgawes in die algemeen en in hoofstuk 14 oor die minderwaardigheid van tale teenoor profesie (gesaghebbende prediking). Vervolgens gee hy riglyne vir die regte beoefening van hierdie gawe en die uitleg daarvan. In hoofstuk 13 bespreek hy die motief vir die gawes van Gees - liefde. Paulus het die gemeente oor die vingers getik omdat hulle die gawes selfsugtig en liefdeloos gebruik het net om hul eie beul te blaas.
Paulus het self in tale gepraat (1 Kor.14:18) en veroordeel gevolglik nie die gebruik daarvan nie, maar die misbruik. ʼn Gawe word misbruik wanneer mense dit anders gebruik as wat die gewer daarmee bedoel het. ʼn Taal wat misbruik word, is bv. niks anders as ʼn geraas nie.
Charismate beskou die spreek in tale ʼn vertroulike gebedstaal wat net God alleen kan verstaan; ʼn engeletaal. Nêrens in die Skrif is daar enige aanduiding dat engele in ander tale as bestaande tale gepraat het nie, nog minder dat die ander tale van Handelinge 2 nie mensetaal was nie. Die spreek in tale waarvan Paulus praat, was dieselfde as wat op Pinksterdag in die tempel gehoor is. Dit was 14 bestaande tale en beslis nie brabbeltaal nie!
As Paulus van die uitleg van tale praat, kon dit net hierdie bestaande tale gewees het. Brabbeltaal is nie ʼn taal nie en kan dus nie uitgelê word nie. Die uitleg van tale was die vermoë (gawe) om ʼn boodskap in ʼn onbekende bestaande taal te kon uitlê ten einde die hoorders geestelik te versterk.
I Kor.14:21,22 dien as verdere bewys dat die gawe van tale verstaanbare tale was. Dit was ʼn teken vir ongelowige Jode en die vervulling van ʼn profesie: “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ʼn vreemde tong met hierdie volk spreek” (Jes.28:11). God het die Evangelie ook in ander tale bekend laat word sodat die Jode kon glo dat Jesus die Messias was. Die vreemde tale was dus nie onsinnige brabbeltaal nie, maar bestaande tale.
Waar het die Korintiërs dan aan die brabbeltaal gekom? Van die heidendom!
Die gemeente was deur ʼn heidendom omring wat deur verrukkings, brabbeltaal en beswymings gekenmerk is. Van die gemeentelede het God se gawe met hierdie heidense verrukking vermeng.
Die spreek in tale staan nie toevallig laaste op die lys van gawes nie (1 Kor.12). Dit was die minste werd omdat dit slegs ʼn teken vir ongelowiges was. “Die tale is dus nie ʼn teken vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges” (1 Kor.14:22).
Wie die spreek in tale as ʼn bewys van die doop met die Heilige Gees beskou, dwaal sienderoë. Dit het déstyds nie eens tot stigting van die gemeente gedien nie, laat staan nog vandag! Daarom staan dit laaste. Dit het ʼn beperkte nut gehad en het baie gou uitgedien geraak.
Die doel van die geestelike gawes was om die gemeente as die liggaam van God te dien. “Namate elkeen ʼn genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien...” (1 Pet.4:10). Dit moes stigtelik en opbouend wees. “So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente” (1 Kor.14:12).
Paulus skryf dat die spreek in tale nie tot stigting van ʼn gemeente dien indien daar nie ʼn uitlêer is nie. Die misbruik daarvan het tot liefdeloosheid in die gemeente gelei. Mense wou daardeur te kenne gee dat hulle op ʼn hoër geestelike vlak was en geestelike snobisme in die hand gewerk.
Van die gemeentelede het so na vertoon-gawes gesoek, dat hulle liefdeloos optree het. Daarom het Paulus ʼn uitdaging aan hulle gerig: ” Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ʼn nog uitnemender weg. Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ʼn klinkende metaal of ʼn luidend simbaal geword” (1 Kor.12:31; 1:1). In hulle gejaag na tale het hulle die grootste van al God se gawes, die liefde, gemis!
Paulus skryf dat die liefde nooit sal vergaan nie (1 Kor.13:8). Tale sal wel ophou. Die Grieks vir ophou is pauoen wat in werklikheid beteken om blywend te eindig. Tale gaan blywend ophou om nooit weer aan die gang te kom nie. Dit het dan ook ná die apostels se dood gebeur. Charismate probeer dit wat God afgeskakel het, weer aan die gang te kry. Dit wat in hul kringe bedryf word, is geen herlewing van ʼn Bybelse gawe nie, maar eerder ʼn herlewing van die mistasting wat groot ongelukkigheid in Korinte veroorsaak het.
Die spreek in tale het soos al die ander wondertekens, saam met die apostels uitgesterf. Die laaste aangetekende wonder het teen 58nC op Malta plaasgevind toe Paulus siekes genees het (Hand.28:7-10). Daarna word van geen wonder meer gewag gemaak nie.
Die spreek in tale en genesingwonders kom slegs in een van Paulus se briewe te sprake - 1 Korintiërs. Dis een van die eerste briewe wat Paulus geskryf het. Later bespreek Paulus die gawes van die Gees breedvoerig in twee van sy ander briewe (Efesiërs en Romeine) sonder om eenmaal na die wondergawes te verwys. Dit was waarskynlik toe alreeds iets van die verlede omdat die Evangelie op daardie stadium nie meer bekendstelling nodig gehad het nie. Voor die einde van die eerste eeu was alles wat vir die NT bestem is klaar geskryf en deur die gemeentes gelees. Die wondergawes het geen verdere doel gehad nie. “Die kentekens tog van ʼn apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Kor.12:12).
Die spreek in tale was voorts ʼn teken vir ongelowige Jode wat kennis moes neem van God se nuwe verbond met die mensdom wat ook nie-Jode ingesluit het. Hy sou voortaan tot alle nasies in alle tale spreek. Dus het die spreek in tale ook ʼn oorgang van die ou- na die nuwe verbond aangedui. Toe alles afgehandel is, was hierdie tekens nie verder nodig nie.
Die kerkgeskiedenis getuig ook van die spreek in tale wat ten einde gekom het. Ná 1 Korintiërs het Paulus nog 12 briewe geskryf sonder om eenmaal na die spreek in tale te verwys. Indien dit so belangrik is soos die Charismate beweer, sou hy telkens daarna verwys het. Waarom verwys Petrus, Johannes, Jakobus en Judas nooit daarna nie? Omdat dit nie vir gelowiges belangrik was nie.
Die Kerkvaders het ook die spreek in tale as iets van die verlede beskou. Chrisostimus (4de eeu) skryf dat die spreek in tale iets vreemd was en dat hy nie eens van die eienskappe seker was nie omdat dit so lank terug opgehou het.
Augustinus skryf dat dit tydelik en iets van die verlede was en maak die insiggewende opmerking in sy Lesings en Traktate oor die Evangelie van Johannes as hy vra: “Waarom spreek niemand meer in ʼn taal nie? Omdat die kerk nou in alle tale met alle nasies praat” (p.195)
Gedurende die eerste 500 jaar van kerkgeskiedenis het alleenlik die volgelinge van die dwaalleraar Montanus in tale gepreek. Daarna het ʼn groep militante Protestante in die 17de eeu in die suide van Frankryk begin profeteer, gesigte gesien en in brabbeltaal gepraat. Geen profesie is egter vervul nie. Daarna het die Janseniste, ʼn Roomse groep, ook in brabbeltaal gepraat. So die Shakers in Amerika nie net in tale gespreek nie, maar ook in beswymings gedans; almal niksbeduidende groepe. Van die einde van die apostel-era tot op hede was daar geen ware herlewing van die NuweTestamentiese gawe van die spreek in tale nie. Dit het geëindig (1 Kor.13:8) om nooit weer aan die gang te kom nie.
Waarom spreek Charismate ná byna 1,900 jaar van stilte tans weer in tale? Dit het òf hervat òf is Sataniese misleiding. Charismate verskil hieroor. Een groep sê dat die gawes nooit geëindig het nie en dat die kerk dit eeue lank verwaarloos het. Gedagtig daaraan dat Jesus ten hemel gevaar het vanwaar Hy sy kerk regeer, sê hierdie dwaalgeeste in effek dat Jesus nie sy werk gedoen het nie!
ʼn Ander groep glo dat die spreek van tale wel nádie apostel-era ten einde gekom het, maar dat die Heilige Gees aan die begin van die 20ste eeu finaal uitgestort is ten einde die gelowiges vir die laaste dae krag te gee. Dit wat God aan die begin vir die kerk gedoen het, herhaal Hy glo aan die einde: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom en julle jongelinge gesigte sien” (Joël 2:28). Petrus sê op Pinksterdag aan Jode dat dit wat hulle in die tempel beleef het ʼn vervulling van hierdie profesie is en haal Joël 2:28 woordeliks aan. Wie is reg, Petrus of die Charismate?
Joël 2:28 kan nie gebruik word om die spreek in tale mee te verdedig nie. Joël maak, ironies genoeg, nie eens van tale melding nie. Daarbenewens is daar hoegenaamd geen Bybelse bewys dat die Heilige Gees vir ʼn tweede keer uitgestort is of dat gelowiges aan die einde van die tyd weer wonders sal doen nie. Jesus waarsku egter in Mt.7 dat daar aan die einde van die tyd baie valse profete sal wees wat die waarheid gaan verdraai, wondertekens gaan verrig, demone gaan uitdryf en profeteer, maar nie met die krag van die Heilige Gees nie maar met die van Satan (Mt.7:21-23).
Charismate glo en getuig dat die spreek in tale hul geestelike lewe verryk. Maar is dit werklik so? Die spreek in tale kan uiteraard die maklikste van al die gawes nageboots word – selfbedrog! Daar is egter ook mense wat getuig dat toe hulle die spreek in tale gelos het, hulle geestelike lewe verbeter het. Daar is hoegenaamd geen objektiewe bewys dat charismatiese kerke geestelik sterker as Protestantse kerke is nie. Daar moet baie ver gesoek word om ʼn charismatiese kerk te vind waar geestelike groei en Skrifkennis werklik die brandpunt is.
Watter vrugte dra Charismate? “Maar pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken...” (Mt.7:15,16). Hulle getuig net van hoe die spreek in tale hulle laat voel en nie hoe dit hulle meer vrug laat dra nie. God het nie aan die apostels gawes gegee om hulle beter te laat voel nie, maar om van hulle kragtige getuies te maak – vrug te laat dra.
As die brabbeltaal wat vandag in charismatiese kringe gebesig word, nie dieselfde is as wat in die apostel-era onder die spreek in tale verstaan is nie, watter tale is dit dan? Dis òf loutere onsin òf Sataniese knoeiery . Satan sit agter elke valse godsdiens: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulle verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan verander homself in ʼn engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie....” (2 Kor.11:13-15).
Wie nie by die waarheid van God se Woord hou nie, val Satan ten prooi: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en lering van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1). Mense skuif maklik die waarheid vir die leuen opsy, veral as die leuen met Bybeltekste versier is. Let maar net op die Belhar-Belydenis!
Brabbeltaal kom by afgodsdienste voor. Daar is honderde aangetekende gevalle waar besetenes sonder enige voorkennis in bestaande tale gepraat het. Dr. Kurt Koch, ʼn kenner op die gebied van duiwelskunste, skryf van ʼn Britse vrou wat aan ʼn charismatiese kerk behoort het. Elke Sondag het ʼn vrou voor haar opgespring en in tale gepraat. Toe dit later herhalend begin klink het, het sy ʼn bandopname daarvan gemaak en foneties neergeskryf. Al haar pogings om vas te stel watter taal dit was, was tevergeefs totdat ʼn sendeling uit Nigerië haar besoek het. Toe hy die naam wat die swartes vir Satan gebruik, noem, het sy die papier met die vreemde taal vir hom gaan haal om te lees. Dit was ergerlike godslastering in ʼn Nigeriese dialek!
ʼn Ander moontlikheid is dat die spreek in tale ʼn aangeleerde vermoë is. Charismate hou graag kampe en konferensies waar mense aangepor word (jump start) om in tale te praat. Dis onskriftuurlik! Geestesgawes is juis iets wat van God ontvang en derhalwe nie aangeleer kan word nie. Buitendien deel die Heilige Gees gawes uit soos Hy wil (1 Kor.12:11).
Die druk om geestelik uit te blink, laat Charismate met ʼn onversadigbare behoefte na gawes en wedywering met mekaar. Wat ʼn ontnugtering as hulle agterkom dat dit alles aangeleerde vermoëns is en nie werklike gawes nie!
Sielkundige beïnvloeding speel ook ʼn groot rol in die spreek in tale. Een persoon verkry beheer oor ʼn ander se denke. Dis mos hoe hipnose werk. Talle Charismate het al getuig dat wanneer hulle in tale praat, hulle geheel en al anderste voel, amper soos in ʼn ligte beswyming.
Waarom jaag Charismate geestesgawes na? Weens geestelike honger. Hulle hoor dat die spreek in tale ʼn wonderlike geestelike ervaring is en wil dit nie mis nie. Hulle soek altyd na daardie iets meer op geestelike gebied. Talle kom uit Calvinistiese kerke waar hulle onbetrokke was en gevolglik nie die gemeenskap van die heiliges beleef het nie. Hulle het uitgesluit gevoel en daarna gesmag om ʼn nuwe blaadjie om te slaan. Dis die charismatiese beweging se oesland. Hulle laat sulke mense na iets in die lewe voel. Daarom bars Charismatiese kerke vandag uit hul nate – mense se behoefte aan ʼn alternatief vir die koue, lewelose Christendom wat ongelukkig in sommige kerke heers. Mense soek na lewe, opwinding, warmte en liefde. Hulle wil God ervaar. En dis net waar die Satan vir hulle die strik stel!