VIGS: SIEKTE OF STRAF?

Ds Andrè van den Berg

"VIGS is ook verpolitiseer.  In hospitale mag geen pasiënt se VIGS-status bekend gemaak word nie omdat dit polities inkorrek sou wees.  Waarom?   Omdat dit hoofsaaklik ʼn siekte onder swartes is en die regering vir ʼn stigma vrees...   ... Droewiger is dat die werklike oorsaak van VIGS buite rekening gelaat word - die verbreking van die sewende gebod."

Deut.6:17-25; 28:1-15

Die voorspoed of verval van ʼn volk hang grootliks van die sedelike peil van sy burgers af.  Van die 22 beskawings wat tot ʼn val gekom en van die wêreldkaart verdwyn het, het 19 weens sedelike verval tot niet gegaan.

Hoe lyk die sedelike peil in Suid-Afrika?   Alles behalwe goed!  Dit het die hoogste voorkoms van VIGS ter wêreld – 18% van alle volwassenes is met hierdie virus besmet, en die getalle styg steeds namate die gat in ons morele osoonlaag al hoe groter word.

Twee homoseksuele vlugkelners was die eerstes wat in 1982 in Suid-Afrika met VIGS gediagnoseer is.   Vyf-en-twintig jaar later het navorsing getoon dat 5,7 miljoen persone in Suid-Afrika met die VIGS virus besmet was.  In 2010 alleen is 280,000 mense in ons land daaraan dood - 42% van die sterftes daardie jaar!

Niemand weet vir seker waar en wanneer VIGS begin het nie.   Dit was beslis nie altyd daar nie.  Die algemene verklaring is dat dit in tropiese Afrika ontstaan het omdat mense sekere ape se vleis geëet en die virus van ape na mense  oorgedra is.  Dis hoogs onwaarskynlik.  Dit kon nie so vinnig versprei het nie!

VIGS staan vir verworwe immuniteit gebrek sindroom.  Die naam sê dat dit van nêrens gekom het nie maar miljoene lewens geëis het toe hulle immuniteitsisteem skielik ophou werk het.   Die VIGS epidemie vergelyk met die Swart Plaag wat eeue gelede in ʼn betreklik kort tyd van die een land na die ander versprei en miljoene lewens in Europa en Engeland geëis het.

Feite oor VIGS is ontstellend - dit versprei soos ʼn veldbrand!  Dink maar aan die droewige beeldmateriaal op TV en ontstellende nuusberigte rakende hierdie epidemie.  Mediese dienste word oorlaai.   Lykshuise is vol, begraafplase loop oor en miljoene kinders word wees agtergelaat.  Na raming sal ʼn derde van Suid-Afrika se bevolking teen 2020 met VIGS besmet wees.  Desondanks doen die regering niks om iets aan die oorsprong van die plaag te doen nie!

As die oorsprong van ʼn probleem nie vasgestel word nie, is herstel onmoontlik. Dan behandel jy net simptome soos ʼn persoon wat na werk by die huis kom en vind dat sy huis se vloere onder water is.  Hy bereken dan hoeveel handdoeke hy gaan benodig om die water van die vloer te kry, maar maak nie die kraan toe wat oopgelos is nie.   Vir herstel moet daar by die begin begin word.

VIGS is egter nie die eerste plaag wat die mensdom tref nie.  In die 14e eeu het Engeland ʼn bevolking van 6 miljoen gehad.   Toe die Swart Plaag die land in 1348 tref, het hierdie getal drasties gedaal en in die jaar 1500 op slegs 1,6 miljoen te staan gekom.  Oor sewe geslagte heen is 4,4 miljoen Britte dood!

Die geskiedenis het ʼn manier om homself te herhaal.  VIGS het ʼn soortgelyke bedreigingspatroon.   Die ergste van alles is dat beide die Swart Plaag en VIGS verhoed kon gewees het indien maatreëls wat duisende jare gelede bekend gestel is, toegepas is.  Hierdie maatreëls is vir die ganse mensdom in die wêreld se top boekverkoper opgeskrywe - die Bybel.

Die Swart Plaag het sy oorsprong in die omgewing van die Swart See gehad toe ʼn vyandige Oosterse leër die Krimskiereiland in 1346 aangeval en so deur ʼn onverklaarbare plaag geteister is dat hulle die aftog moes blaas.  Laasgenoemde is deur vlooie op swart Asiatiese rotte veroorsaak.   Toe dié rotte weens ʼn plaag begin vrek, het die vlooie ander gashere gevind – mense.   Mense het begin siek word en by die duisende gesterf sonder om die oorsaak van die plaag vas te stel.  Die plaag het via matrose in Europa beland en later na Engeland versprei waar dit binne ʼn jaar ʼn kwart van die Britse bevolking uitgewis het.

Mense het destyds gedink dat dit iets in die lug was terwyl dit in werklikheid op die grond vlak voor hulle voete was.   Interessant genoeg was Jode die minste daardeur aangetas.   En daar is ʼn goeie rede voor.  Die onderliggende oorsaak van die Swart Plaag was vuilheid.   As die Bybelse gesondheidswette destyds nagevolg is, sou miljoene mense bly leef het.   Vullis is egter nooit met die plaag verbind nie.

VIGS ontspring ook uit vullis – dié van die siel wat baie duidelik aan die toenemende onsedelikheid van ons tyd gekenmerk word.  Maar soos wat daar vir die Swart Plaag ʼn Bybelse genesing was, is daar ook vir hierdie plaag genesing in die Bybel te vind.... as mense maar net wil luister!

Die regering het geld bewillig en gehoop dat m.b.v. inligting en opvoeding die verspreiding van VIGS beperk kon word.  Die een peperduur projek na die ander is geloods en mense is aangemoedig om veilige geslagsomgang te beoefen.  Miljoene kondome is gratis versprei en allerlei antivirale medisynes het hul verskyning gemaak sonder dat iets gewerk het.   Die medisynes het geen genesing nie, maar slegs ʼn vertraging van die dood gebring.

Die slotsom waartoe gekom is, is dat daar vir VIGS geen geneesmiddel is nie.   Gelukkig staan die mens nie weerloos daarteen nie.   Daar is stappe wat geneem kan word om VIGS te verhoed.  Nie genesing nie, maar voorkoming.  Vermy eerder die aas as om te sukkel om van die hoek ontslae te raak!

Navorsers onderskei tussen hoë en lae risiko geslagsomgang.    Eersgenoemde word as ses of meer verskillende bedmaats per jaar beskou en laasgenoemde as minder as ses.  Hoe anders praat die Bybel darem nie!  Hoë risiko is om meer as een buite die huwelik te hê!   Sulke verklarings wys vir jou hoe ver die mens al van God af weggedryf het.

Sonder God gaan hulle geen oplossing vir VIGS vind nie omdat die verbreking van God se wet aan die wortel van hierdie plaag lê.   Die kernprobleem is die ongehoorde onsedelikheid wat die wêreld teister en van alle oorde af ingepomp word.  Dit hou m.i. verband met die loslating van Satan (Openb.20).  Jesus praat ook van pessiektes as teken van die naderende einde van die wêreld. (Mt.24:7).

Toe God die eerste mensepaar geskep het, het Hy geweet dat hulle nie reg van verkeerd kon onderskei en dit nie vanself sou leer nie.  Hy moes hulle onderrig.  In Gen.2: 16,17 gee Hy aan Adam opdrag oor wat om te eet en wat nie. Gen.3 vertel van hulle ongehoorsaamheid en God se daaropvolgende straf.  Ja, wie God se opdragte verwerp, betaal ʼn duur prys!

God het die Tien Gebooie gegee sodat mense gelukkige, gesonde lewens kan lei.   Onsedelike lewens lei dikwels tot die dood soos in die geval van VIGS en ander geslagsiektes wat jaarliks duisende lewens wêreldwyd eis.  Die verbode vrug in die tuin van Eden was ʼn lus vir die oog.  Die gevolg was dodelik.  Verbode vrugte mag lekkerder smaak, maar dit verrot ook vinniger!

Enige geslagtelike verhouding buite die huwelik is sonde.  God se wet staan vas ongeag wat mense ook al mag sê:  “Want Ek, die Here, het nie verander nie...” (Mal.3:6).  Wie gevaar goedsmoeds binnestap moenie wonderwerke verwag nie.

Tydens die Swart Plaag was die gesondheidstoestande in dorpe en stede haglik.   Plaasdiere is dikwels in huise aangehou en ontlasting en huisvullis sommer by vensters uitgegooi.   Daarbenewens was huise te na aan mekaar wat alreeds ʼn gesondheidsrisiko geskep het.  Rotte het in sulke omstandighede gefloreer, die draers van vlooie en vlooie die draers van pessiektes.

God het aan oud-Israel ʼn voorskrif gegee oor wat om met menslike ontlasting te maak: “Jy moet buitekant die laer ʼn plek hê, en daarheen moet jy uitgaan.  En jy moet by jou gereedskap ʼn grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak” (Deut.23:12,13).

God het 3,500 jaar gelede al hierdie voorkomingsmaatreëls onthul.   Die Jode wat dit gehoorsaam het, is tydens die Swart Plaag nie so geraak soos die ander bevolkingsgroepe nie.    Jode se gehoorsaamheid aan God het hulle ʼn sekere mate van immuniteit besorg.   Ongelukkig het niemand dit destyds verstaan nie.

Ten spyte van meer geld wat vir navorsing en antivirale medisyne benodig word en deur verhoogde belasting verkry word, ontwyk ʼn mediese geneesmiddel vir VIGS die navorsers nog steeds.  Al hoe meer mense word siek en sterf daaraan omdat dit ʼn siekte tot die dood is.   Daar is net een oplossing – die Bybelse voorskrif; gehoorsaam net God se morele wette.  Hy het dit duisende jare gelede al laat opteken.

Gemeet aan die tydsgewrig waarin die mensdom met VIGS worstel, gaan dit ʼn mens se verstand te bowe dat kerke hul toenemend ten gunste van homoseksualisme  uitspreek.   Moet dit nie juis anders om wees nie?   Hoe durf vooraanstaande kerklui homoseksuele regte in die openbaar verdedig!   Hulle wakker hierdie gruwel aan!   ʼn Kerk wat homoseksualisme nie veroordeel nie, is indirek aandadig aan die verspreiding van VIGS!!

VIGS is ook verpolitiseer.  In hospitale mag geen pasiënt se VIGS-status bekend gemaak word nie omdat dit polities inkorrek sou wees.  Waarom?   Omdat dit hoofsaaklik ʼn siekte onder swartes is en die regering vir ʼn stigma vrees.  Wees maar versigtig vir uitdrukkings soos  politiese korrek of politiese inkorrek.  Niks wat sedelik verkeerd is, kan ooit polities reg wees nie.

Die nuusmedia dwing met VIGS wêreldwye medelye af asof dit ʼn siekte soos masels of waterpokkies is terwyl dit ʼn self toegedien siekte is (Engels: self inflicted disease).   Tydens ʼn simposium oor VIGS in Suid-Afrika is die feit dat dit met sedeloosheid verband hou nêrens genoem nie terwyl sedeloosheid die oorsaak van 98% van alle gevalle in Afrika is!

Daar is ongelukkig ook mense wat VIGS onskuldig opdoen soos met besmette bloed of vuil inspuitnaalde.  Dink ook aan die miljoene kinders wat weens die sonde van hul ouers ly.  ʼn Mens voel bitter jammer vir hulle.   Droewiger is dat die werklike oorsaak van VIGS buite rekening gelaat word - die verbreking van die sewende gebod.

God het die mensdom al telkens in die verlede gewaarsku dat ongehinderde sedeloosheid nie ongestraf sal bly nie.   Hy het selfs twee stede tot as laat verbrand weens die gruwel van homoseksualisme: “en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand ... as ʼn voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Pet.2:6).   God straf nie net diegene wat homoseksualisme beoefen nie, maar ook gemeenskappe wat hulle laat begaan!

Daarbenewens is dit opvallend dat VIGS en bose regerings hand aan hand loop omdat sulke regerings juis aan die verdraagsaamheid van ʼn volk teenoor verkeerde dinge te wyte is.   ʼn Bose gemeenskap wil nie aan mense aanstoot gee nie, maar skroom nie om God se bevele te minag nie.

God se oplossing vir VIGS is eenvoudig - herstel verkeerde sedelike gedrag.   VIGS sal alleenlik gestop word indien mense ʼn bewustelike keuse vir God en teen die Satan maak.   Geen sedes kan sonder die Bybel gehandhaaf word nie.

Suid-Afrika het nie meer kondome of duurder medisyne nodig nie, maar eerder ʼn hartsverandering!   Ek droom van ʼn Suid-Afrika waar God geëer word; ʼn land waar wellus nie meer uitgebuit word nie, die jeug sedelik rein is en die huwelik onbevlek.   Dan sterf VIGS in ons huidige geslag uit.