DIE DODELIKE TENTAKELS VAN DIE ONTLUIKENDE KERK
Ds Andrè van den Berg
"Die Ontluikende Kerk beskou die Bybel as woorde oor God en nie die Woord van God as sulks nie. So ʼn verdraaide skrifbeskouing is ʼn bose aanslag op die Christendom en voer lidmate verby ʼn punt dat hulle die dwaalleer herken en/of op Bybelse gronde kan weerlê!... ...Ds. Franklin Graham is by geleentheid genooi om as spreker by ʼn Presidensiële Ontbyt (VSA) op te tree. Toe hy ʼn paar dae voor sy besoek aan die Withuis in ʼn toespraak sê dat Christus die enigste weg na die hemel is, het die Withuis sy uitnodiging onmiddellik teruggetrek."
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” - 1 Tim.4:1,2 .
Die wederkoms van Christus is ʼn goddelike belofte wat deur sekere ontstellende sigbare tekens vooraf gegaan sal word. Die groot afval waarvan Paulus aan Timoteus skryf, is een daarvan. Dis ʼn verval wat die Christelike kerk soos ʼn getygolf gaan tref en bykans onherkenbaar verander.
Die Christelike kerk word van meet af aan deur dwaalleer geteister. Petrus skryf: "Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos wat daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer..." (2 Pet.2:2). Johannes skryf: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1). Die laaste aanslag sal egter ongeëwenaard wees.
Daar is alreeds in talle kerke en hul teologiese skole tekens van verval waar te neem wat mense na plekke heen voer waar hulle nie wil wees nie; veral mense met ʼn Gereformeerde belydenis. Hierdie stroming staan as die Ontluikende Kerk bekend; ʼn mooi benaming vir ʼn baie lelike gesig. Dis in werklikheid geen nuwigheid nie, maar die herlewing van ʼn baie ou kettery.
Alhoewel die Ontluikende Kerk besig is om fatale verskuiwings in elke faset van die plaaslike Christendom te maak, is dit slegs die punt van ʼn veel groter ysberg van Antichristelike insypeling wat Suid-Afrika op talle terreine besoedel. Dis egter nie net tot Suid-Afrika beperk nie, maar oorspoel die Christelike kerk wêreldwyd. Dis soos ʼn moltrein wat plek-plek kop bo die grond uitsteek, maar hoofsaaklik ondergronds werk.
Die leer van die Ontluikende Kerk staan as Panenteïsme bekend; ʼn heidense wêreldbeeld wat nie met die Christelike geloof versoen kan word nie. Dit leer dat God in alles, ook in die mens is. Die mens is eintlik god en boosheid die gevolg dat hy vergeet het dat hy god is.
Die leer van die Ontluikende Kerk kom op die volgende neer:
- God is nie net goed nie. Daar is ook kwaad in Hom.
- God is nie alwetend en almagtig nie, omdat Hy in die skepping vasgevang is.
- Daar was nie ʼn sondeval nie.
- Satan bestaan nie.
- Die hel bestaan nie.
- Jesus se verlossingswerk aan die kruis moet anders verstaan word.
- Jesus is nie uit ʼn maagd gebore nie en derhalwe nie uniek nie.
- Jesus het nie liggaamlik opgestaan nie.
Al hierdie dwalings kom in ʼn mindere of meerdere mate tans in die NG Kerk voor. Satan gebruik dwaalleer om God te onteer sodat die mens en sy sonde verheerlik kan word. Kerke wat gunstige uitsprake oor homoseksualisme, saambly en ander gruwels maak, het die Satan ten prooi geval!
Panenteïsme is egter niks nuuts nie, maar ʼn dwaalleer wat in die vierde eeu ná Christus by ene Plotinus begin het. Die Roomse Kerk het selfs vir Meister Eckhard in die 13de eeu weens sy Panenteïsme uitgeban. Calvyn het ook in sy Institusies van die Christelike Geloof baie sterk standpunt daarteen ingeneem.
In die verlede was dit betreklik maklik om Panenteïsme uit die hoofstroom van die Christelike godsdiens te hou. Nie meer vandag nie. Die duiwel skuil graag agter ʼn kruis. Toe die NG Kerk onder dawerende internasionale applous die deure vir booswigte oopmaak om die land te ontwrig, kon sy self nie aan die verfoeilike gevolge daarvan ontkom nie en het ʼn bitter duur prys vir haar verlies aan profetiese visie betaal.
Dwaalleraars het van die geleentheid gebruik gemaak om die plaaslike kerklike toneel te ontwrig en die Bybel van sy goddelike inspirasie te begin stroop. Lidmate is aangemoedig om die Bybel anders te begin verstaan as wat daar geskryf is. Die golf van kerklike ontwrigting wat dit veroorsaak het, is ironies genoeg vernuwing genoem. ʼn Leuen het altyd ʼn waarheid as handvatsel nodig. Die ergste leuens is daardie waarvan die lem vals, maar die handvatsel eg is!
Vertolkers van die Ontluikende Kerk verklaar dat die moderne mens die Bybel nooit sal kan verstaan nie omdat dit in ʼn ander konteks geskryf is waartoe daar geen toegang is nie. Al hoe dit enigsins verstaan kan word, is wanneer die leser dit vanuit sy eie omstandighede probeer verstaan. Die leser se eie agtergrond en subjektiewe oordeel is dus die sleutel tot die verstaan van die Bybel. Daarom kan hy met die Bybel doen net wat hy wil.
Die Ontluikende Kerk beskou die Bybel as woorde oor God en nie die Woord van God as sulks nie. So ʼn verdraaide skrifbeskouing is ʼn bose aanslag op die Christendom en voer lidmate verby ʼn punt dat hulle die dwaalleer herken en/of op Bybelse gronde kan weerlê!
Vertolkers van die Ontluikende Kerk moedig die kerk aan om by veranderende omstandighede aan te pas. Die ritme van die musiek het glo verander. Wie nie daarby aanpas nie, beland later op die kantlyn. Gevolglik word daar gedurig na nuwe maniere van kerkwees gesoek en selfs by New Age denkers en afgodsdienste kersopgesteek.
Voortvloeiend hieruit verwag die Ontluikende Kerk dat die Christendom bo die uitgediende idees van net een ware godsdiens moet uitstyg. Verskeidenheid het die wagwoord geword. Hulle sê dat die kerk soos ʼn huis met baie kamers is wat almal huisves. Ortodoksie (leer) moet plek maak vir ortopraksie (praktyk).
Brain McLaren, een van Amerika se leiervertolkers van die Ontluikende Kerk, verkondig openlik dat Boeddhiste, Hindoes en Jode almal volgelinge van Jesus kan word sonder om hulle oorspronklike geloof te verlaat. Desmond Tutu het ook onlangs soortgelyke uitsprake gemaak.
Die Ontluikende Kerk beskou die tradisionele kerk as ʼn dam met stilstaande water teenoor hulle wat soos ʼn rivier met opwindende stroomversnellings is. Die probleem is dat stroomversnellings handuit kan ruk en vloedskade kan veroorsaak! Die vraag is net of hulle stroomversnellings eg Bybels is? Hou hulle by die Bron (Bybel)? Die vraag is nie of ’n leerstelling mooi klink nie, maar of dit die waarheid is! Leuens is dikwels so na aan die waarheid, dat dit byna soos die kleure van die reënboog in mekaar vloei.
Geestelike hervorming is geen blinde verandering nie, maar ʼn noodsaaklike terugkeer na die Skrif. ʼn Oproep om verandering sonder ʼn duidelike omskrywing saai net chaos en maai geweld. Talle bose dade is al in die naam van verandering gepleeg. Die reënboognasie is ʼn sprekende voorbeeld hiervan! Om te verander en ten goede te verander, is dikwels twee verskillende dinge.
Die Ontluikende Kerk het dik strome besoedelde water in die see van teologiese opleiding laat vloei. Dit het menige professore hul die reg laat toe-eien om Skrifwaarhede anders te verstaan en doelbewus hul studente daarmee te vergiftig. Meerdere kerklike vergaderings word gereeld met sinnelose redenasies belas. Daar is bv. onlangs tydens ʼn Sinode oor die bestaan van die Satan gestry. Wat help dit om daaroor te stry indien die onderliggende probleem, ʼn heidense wêreldbeeld, nie aangespreek word nie? Bose magte floreer in hierdie klimaat van teologiese onverskilligheid.
Min teoloë het vandag die moed of selfs die nodige Bybelse insig om die Ontluikende Kerk die hoof te bied. Die skade wat dit veroorsaak, word selfs in die getal teologiese studente weerspieël wat hul geloof tydens hul teologiese opleiding verloor. Nagenoeg 90% van Tukkies se teologiese studente is na verneem word reeds deur hierdie dwaling besmet. Is dit uit onkunde of doelbewus?
Baie van die teoloë wat nie deur vorige dwaalstrome soos die Jesus Seminaar en Nuwe Hervorming meegesleur is nie, het aan hierdie een nie ontkom nie. Leiersfigure van die Ontluikende Kerk word openlik aangeprys en hul werke as insiggewende, noodsaaklike horisonverskuiwings lof toegeswaai in ʼn poging om die gruwelike naaktheid van dwaalleer met die vyeblare van teologiese onverskilligheid te verberg. Wee die geleerdes wat leraars oplei, die lof van wolwe in skaapsklere besing en die hek van die skaapkraal vir hulle oopmaak!
Daarbenewens dra die kerklike media die Opkomende Kerk se dwaallektuur op groot skaal in die plaaslike kerklike wêreld in. Die vernietigende uitwerking wat dit op niksvermoedende lidmate het, bly dieselfde: skape wat ter slagting gelei word.
Die Ontluikende Kerk verwerp in hoofsaak die versoeningsdood van Christus aan die kruis omdat die idee dat God sonde straf, vir hulle onaanvaarbaar is. Jesus se offerdood word selfs as kosmiese kindermishandeling afgemaak! Hulle sien Jesus se kruisdood slegs as ʼn voorbeeld van selfopofferende liefde. Niks minder en niks meer nie. Daarbenewens vorm Jesus se godheid slegs die filosofiese basis vir die mens se eie vergoddeliking. Dit kom daarop neer dat mense nie minder God as Jesus is nie!
Voortvloeiend uit die Ontluikende Kerk se verdraaide skrifbeskouing verkondig hulle dat alle mense uiteindelik gered sal word. ʼn NG-leraar van Waverley (Pretoria) het onlangs verkondig dat niemand ná Jesus se dood, meer hel toe gaan nie omdat Christus vir almal gesterf het. Indien dit waar is, is die Christelike godsdiens niks beter as enigeen van die ander godsdienste nie. Sulke prediking ruk die hart uit die Evangelie uit!
Die Ontluikende Kerk is ʼn bose onkruid wat die kerklike tuin lelik vervuil. Hulle stel hul visier spesifiek op die jeug in. Hul Youth Specialities is ʼn jeugorganisasie wat jongmense o.a. Oosterse meditasie en verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit en onreinheid leer. Hul opleidingskursusse is gratis op Internet beskikbaar en word dikwels deur NG-jeugleraars gebruik.
The Shack is een van Ontluikende Kerk se blitsverkoper jeugboeke wat ʼn bose verdraaiing van die Drie-eenheid propageer. Jesus word as ʼn panteïstiese Jesus uitgebeeld wat, strydig met Joh.14:6, ontken dat Hy die enigste Weg na die Vader is. Die NG Kerk beveel hierdie boek vir kinders in die kategese aan!
ʼn Kerk wat die waarheid nie beskerm nie, het hoegenaamd geen bestaansreg nie! Talle NG gemeentes skeur weens die nuwe manier van kerkwees. Die NG Kerk het in 2012 alléén, meer as 29,000 lidmate verloor. Alvorens sy haar nie bekeer en na die waarheid terugkeer nie, sal sy bly skeur!
God beveel gelowiges om hul van dwaalleer af te keer en dit aan die kaak te stel: “...en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efes.5:11). NG-lidmate wat beswaar teen dwaalleer maak, word dikwels as moeilikheidmakers gebrandmerk en uit gemeentes verdryf. Sommige bevind hul selfs in die beskuldigde bank terwyl die skuldiges vrygespreek word. Die slapende meerderheid kom egter niks agter nie en strompel maar agter die verraderlike leiers na die afgrond voort.
Die Ontluikende Kerk skat dit wat vir gelowiges heilig is, dikwels gering. In ʼn onlangse Kerkbode-artikel word kerkgang as niks belangriker as ʼn piekniek saam met jou gesin bestempel nie. Dit bewys weereens: Waar die dood in die kerklike murg beland, bly daar later net ʼn leë dop oor.
Die leer van die Ontluikende Kerk is baie ver van die Christelike godsdiens verwyder, selfs verder as Islam Die Koran stem op meer punte met die ware Christelike leer saam as die Ontluikende Kerk!
Pogings om die eeu-oue standpunte van die Bybel te staaf, word as uit voeling met die tyd veroordeel. Wie dit waag, word dikwels aangekyk soos ʼn bord kos wat nie bestel is nie. Ds. Franklin Graham is by geleentheid genooi om as spreker by ʼn Presidensiële Ontbyt (VSA) op te tree. Toe hy ʼn paar dae voor sy besoek aan die Withuis in ʼn toespraak sê dat Christus die enigste weg na die hemel is, het die Withuis sy uitnodiging onmiddellik teruggetrek.
Die dwaalleer van die Ontluikende Kerk maak baie NG predikante skuldig aan bedrog. Leraars wat in die NG Kerk gelegitimeer is en met Panenteïsme besiel raak, bedien steeds gemeentes en ontvang ʼn salaris. Wat het van die plegtige legitimasie-verklaring geword wat lui dat ʼn leraar die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid aanvaar omdat dit met die Bybel ooreenstem? Verder beloof hulle om dié leer getrou te verkondig, uit te leef en alle dwalinge wat daarmee in stryd is, teen te staan en alles in hul vermoë sal doen om dwaalleer uit die Kerk te hou.
Hierdie legitimasie-verklaring is deel van elke NG leraar se dienskontrak met sy plaaslike gemeente. As hy die Gereformeerde belydenis bewustelik verwerp maar steeds aanbly, is dit niks anders as ʼn verbreking van die legitimasie-verklaring nie - kontrakbreuk!
Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15). Die kerklike toneel lê besaai met verskeurde karkasse. Dit het vir die NG Kerk baie laat geword, baie later as wat lidmate besef. Uit die krom hout van die Ontluikende Kerk kan niks reguit voortkom nie. Dis vrot hout. Niemand kan iets mooi daaruit kerf nie.
Christus skryf aan die gemeente Sardis: “Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou ; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ʼn dief, en jy sal nie weet watter uur Ek op jou afkom nie” (Openb.3:3).
Omdat die ware kerk daar is waar die Woord van God suiwer verkondig word, is daar vir gelowiges geen edeler ding om te doen as om in die lig van die waarheid te wandel nie. Niks onderskei God se kinders soos ʼn liefde vir die waarheid nie. Daarom getuig die liefde vir die waarheid en geregtigheid van God se beeld in ons. Mag die wagters op die mure nooit ophou om alarm te maak en mag die prys vir die stryd om die waarheid nooit te hoog word nie!