...SEËN OF DWALING?
Ds Andrè van den Berg
Afvalligheid skiet vandag oral soos paddastoele op ʼn mishoop in die akker van besmette teologie op. Die evangelie van verlossing deur genade alleen kom in talle kerkverbande wat as gereformeerd bekend staan, onder skoot. Kerke soos die NG Kerk wat eeue lank geen gemene sake met die Roomse Kerk (RK) gehad het nie, maak al hoe meer van Roomse tradisies en simbole onder die dekmantel van liturgiese vernuwing gebruik.
Hierdie vernuwing word aan leke as ʼn verruiming van die liturgie aangebied wat kwansuis hul geloofslewe verdiep. Dis ʼn leuen! Roomse tradisies en simbole verdiep nie die geloofslewe of verruim ʼn sinvolle erediens nie. Dit stoot eerder Protestantse kerke al hoe dieper in die drukgang van die Vatikaan.
Toe die NG Kerk haar jare gelede vir verandering oopgestel het, moes sy van haar beginsels inboet. En hoe meer sy dit gedoen het, hoe meer het sy gedwaal. Wie beginsels begin versaak, begin by een, daarna word dit twee en so hou dit aan totdat daar niks meer oorbly behalwe die begeerte om te verander nie!
Die Hervorming van die 16de eeu het die RK destyds in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat alle Protestantse kerke na haar sal terugkruip.
Dit gebeur vandag sienderoë. Roomse simbole, rituele en dwalings steek in al hoe meer Protestantse kerke kop uit sonder noemenswaardige teenstand.Hierdie ontsporing het in die moederskoot van ekumene uitgebroei, ʼn Rooms-georkestreerde interkerklike beweging wat Protestante van hul kerklike erfenis vervreem deur hulle wys te maak dat hulle verlede verder as die Hervorming strek. Kerke word aangemoedig om hul klassieke verlede te herontdek en hul liturgieë dienooreenkomstig daarby aan te pas.
Kerke wat in die verlede teen die Roomse gevaar gewaarsku het, swyg vandag in alle tale. Die viering van Roomse heilige dae, liturgiese danse, kruissimbole en die aansteek van kerse by spesiale geleenthede soos ’n huwelik, die voorstelling van nuwe lidmate of die doop vind al hoe meer byval, om nie eens van die NG Kerk se toelating van kinders by die nagmaal te praat nie. Dis ʼn nuwe vorm van ʼn ou aanval op God se genade wat die stroom van teologiese ontsporing weerspieël wat lidmate van die waarheid van die Skrif af wegvoer.
ʼn Kerk is alleenlik suiwer indien dit die Woord en die sakramente suiwer bedien en kerklike opsig en tug uitoefen. Wie hiervan afwyk, dwaal soos met die NG Kerk gebeur het toe die nagmaal na ʼn Sinodebesluit (1998) ook aan kinders begin bedien is ongeag of hulle kon lees of skryf, behoorlike kategese deurloop of openbare geloofsbelydenis afgelê het.
Om in die leer van sakramente te dwaal is ʼn baie ernstige oortreding wat die hart van die Christelike geloof raak. Daarom het kindernagmaal deur die geskiedenis heen altyd met ʼn dwaling in die verlossingsleer asook ʼn valse verbondsbegrip verband gehou. Daarom het die apostels en die leraars wat gemeentes tydens die eerste twee eeue na Christus bedien het nie die kindernagmaal bedien nie.
Hierdie dwaling het eers in die derde eeu na Christus sy kop uitgesteek toe ʼn sekere Ciprianus Joh.6:53 verkeerd verklaar het: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie”. Hy het geglo dat hierdie waarskuwing ook op kinders betrekking gehad het en die nagmaal aan hulle begin bedien.
Namate dwaalleer in die Christelike kerk toegeneem het, het kindernagmaal al hoe meer gevestig geraak. Dit was die geval tot in die laat Middeleeue toe die Hervorming die Skriftuurlike weg gevolg en die kindernagmaal verwerp het. Daar was tot aan die begin van die 20ste eeu geen enkele geval van kinder-nagmaal wat nie met ʼn dwaling in die verlossingsleer gepaard gegaan het nie.
Die NG Kerk se opname van hierdie ou dwaling hou direk verband met haar betrokkenheid by die Wêreldraad van Kerke (WRK) voor wie ʼn verslag in 1982 oor die kindernagmaal gedien het met die opskrif: “ .... en verhinder hulle nie”. Die NG Kerk het openlik met ʼn organisasie wie se gemene doelstellings ʼn ope boek was, geheul en toegewings begin maak. Met haar voet op die glybaan van ontsporing was dit net ʼn kwessie van tyd!
Gelowiges glo dat soos wat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, die nagmaal in die plek van die pasga gekom het. Die verhouding tussen nagmaal en pasga is egter nie so eenvoudig as wat die voorstanders van kindernagmaal dit maak nie. Hulle beweer dat die nagmaal, soos die pasga, vir al die mense in die huis bedoel is. Om so ʼn simplistiese lyn tussen pasga en nagmaal te trek, is nie eksegeties korrek nie. Jesus het bv. by die pasga van sy tyd aangesluit deur wyn te gebruik wat in die tyd van Moses nie die gebruik was nie.
Die Gereformeerde belydenisse en kategismusse laat hoegenaamd geen ruimte vir kindernagmaal nie. Daar is in 1568 tydens ʼn Sinode in Wezel besluit dat niemand tot die nagmaal toegelaat mag word alvorens hulle nie die openbare belydenis van die geloof afgelê het en hul aan die kerklike opsig en tug onderwerp het nie.
Kindernagmaal verbreek in werklikheid die verband tussen doop, kategese, geloofsbelydenis en nagmaal. Vir die toelating tot die nagmaal val die klem sterk op amptelike opsig en tug. Niemand mag die nagmaal gebruik indien hy hom nie aan die kerklike opsig en tug onderwerp nie. Kindernagmaal voldoen nie hieraan nie.
Om die verantwoordelikheid van die nagmaal aan ouers oor te laat, soos wat die NG Kerk doen, is baie verkeerd. Dis is ʼn saak van die hele gemeente. Die hele gemeente is by die toelating van nagmaal betrokke! Deur slegs die ouers se verantwoordelikheid te beklemtoon, word die gemeente oor die hoof gesien.
Die gebruik van nagmaal moet vervolgens deur deeglike kategese vooraf gegaan word. Geloof is tog nie sonder inhoud nie. Om in Jesus te glo, veronderstel ʼn bepaalde kennis van Hom. Daarom is die Heidelbergse Kategismus (HK) eeue gelede al opgestel is om ʼn brug tussen die doop en die nagmaal te vorm. Dit gaan in die HK oor die kennis van sonde, verlossing en dankbaarheid waarsonder niemand die nagmaal behoort te gebruik nie.
Die NG Kerk dwaal as sy die doop as enigste voorwaarde vir die toelating tot die nagmaal stel. Kategismusse uit die tyd van die Hervorming lewer duidelike bewys dat die doop nooit as die enigste voorwaarde tot die nagmaaltafel gestel is nie. Alhoewel kategese en die openbare geloofsbelydenis nie Bybelse voorwaardes vir die deelname aan die nagmaal is nie, berei dit tog die weg vir sinvolle nagmaalsgebruik voor. Ongelukkig het die NG Kerk se begrip van glo in Jesus al so hol geword dat dit ingrypend van die geloof in Jesus verskil waarvan die HK so duidelik praat. ʼn Kerk wat dwaalleer nie beveg nie, is aandadig daaraan!
Volgens Art 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) is die nagmaal slegs vir wedergebore gelowiges bedoel. Voorstanders van die kindernagmaal vervang egter wedergeborenes met gedooptes; die dwaling van die leer van die veronderstelde wedergeboorte wat die RK van meet af aan kenmerk.
Die RK glo op grond van ʼn foutiewe uitleg van Mt.16:18,19 dat die kerk in ʼn groot mate oor die saligheid beskik en dit soos genade-inspuitings aan lidmate kan toedien. Hulle leer dat die reddende genade van God in Jesus Christus binne die sfeer van die verbond universeel is. Elke gedoopte kind ontvang hierdie genade. Die Gereformeerde geloof daarenteen, verwerp die leer van die universele genade as kettery en glo dat regverdiging alleenlik uit die geloof is.
Kindernagmaal vernietig die band tussen geloof en sakrament. Geloof word ʼn kerkaangeleentheid i.p.v. ʼn persoonlike saak. Dan word nagmaal ʼn kerklike ritueel wat die geloof leeg en inhoudloos agterlaat!
Desondanks beskou die NG Kerk die bediening van kindernagmaal as ʼn uitstaande skuld wat betaal is. Haar optrede is egter baie verdag, gesien in die lig van die WRK se aandrang op die kindernagmaal suiwer op grond van humanistiese redes. Hulle sê dat kinders deel is van ʼn wêreld van verdrukking, honger en onreg en gevolglik ook deur sekere strukture onderdruk word. Daarom moet kerke dit as hul plig beskou om handelend vir kinders se bevryding te werk deur hulle o.a. ook tot die nagmaal toe te laat.
Die rede waarom gereformeerde kerke nie aan kinders nagmaal bedien nie, het hoegenaamd niks met die onderdrukking van of onreg aan kinders te doen nie. Dit gaan oor ʼn dieper saak waaroor die Bybel baie ernstig is: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en die bloed van die Here” (1 Kor.11:27).
Mense wat nagmaal gebruik, moet hulself vooraf baie ernstig voor God ondersoek. Die apostels het duidelik geleer dat diegene wat hulself nie wil/kan ondersoek nie, hul van die nagmaal moet weerhou. Kinders onderskei as ʼn reël nie genoegsaam tussen reg en verkeerd nie. Daarom is seuns in die tyd van die NT eers op die ouderdom van 13 in die Joodse kerk aangeneem waarna hulle aan die pasga kon deelneem.
Die selfondersoek voor nagmaalgebruik behels dat die gelowige eerstens vanweë die sonde ʼn mishae in homself sal hê. Dit beteken dat hy as’t ware vir homself vies moet wees omdat hy hom met sonde laat besmet het. Daarna moet hy sy hand smekend na Jesus uitsteek en glo dat net Hy hom kan reinig waarna daar ʼn ernstige begeerte by hom moet wees om hoe langer hoe meer in die geloof versterk te word. Dit kan slegs verstaan word deur meer van God te leer. Daarom is daar kategese.
Daarom vereis die AP Kerk soos al die ander Skrifgetroue Protestantse kerke dat kinders eers moet katkiseer voordat hulle tot die nagmaal toegelaat word. Dit beskerm die kerk teen ʼn misbruik van die sakrament en bewaar so die eer van God.
ʼn Kerk wat nagmaal aan kinders bedien, behoort nie as Gereformeerd bekend staan nie. Dwaalleer is kerklike duisternis waaruit niks kom wat Jesus, die Lig van die wêreld, na reg kan vereer nie. Dis hartseer om die son oor ʼn eens trotse en waardige NG Kerk te moes sien ondergaan. Ons in die AP Kerk hou slegs aan die beginsels van die Woord vas. As ons dit ooit t.w.v. internasionale kerklike bande sou laat afwater, sal ons kerklike lewe ook op losse skroewe te staan kom soos wat met die NG Kerk gebeur het!
Mt.26:17-30