...HOE LYK DIT DAAR?
Ds Andrè van den Berg
Luk.16:19-31
Daar is min woorde so soet as redding. Jy bevind jou op ʼn sinkende skip en ʼn reddingsvaartuig daag ter elfder ure op. Jy is in ʼn brandende gebou vasgekeer en word ter nouer nood deur brandweerpersoneel gered. Jy moes eintlik gesterf het, maar jy leef teen alle verwagting in!
Wat sou jy dink is die wonderlikste redding denkbaar? Om van die ewige dood gered te word. Dit gebeur wanneer God ʼn sondaar uit die see van vernietiging red amper soos wat Jesus vir Petrus een nag op die See van Galilea van ʼn gewisse verdrinking gered het. God het Jesus soos ʼn brandweerman gestuur om ons van ʼn vlamme-ewigheid te red wat die hel genoem word.
Die woord hel is ʼn woord wat oor die algemeen vrees en afkeur verwek. Vrees, omdat dit as die mees weersinwekkende plek beskou word om in te verkeer en afkeur omdat baie mense dit as die produk van ʼn siek verbeelding afmaak. Daar is ook mense wat sinies daaroor lag en die hel as ʼn bangmaak-simbool beskou. Hulle glo dat dit ʼn storie is wat die ou Jode bedink het om mense van ʼn bose lewe te weerhou.
Die hel is ʼn werklike plek net soos wat die hemel ʼn werklike plek is. In Joh.14:1 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy vir hulle plek gaan berei om vir ewig by Hom in die hemel te kan wees. Dis ʼn belofte vir alle gelowiges. Die hel is die plek vir diegene wat nie in die hemel gaan wees nie. Ná die dood gaan die mens na een van die twee plekke!
Leraars preek oor die algemeen nie graag oor die hel nie omdat hulle mense nie wil ontstel nie. Dis egter ʼn fatale fout want hoe durf ʼn leraar nalaat om mense oor die naderende oordeel te waarsku? As leraars meer oor die ewige redding en ewige verderf preek, kan daar selfs minder misdaad in ons land wees! Miskien kan die groot verval in Suid-Afrika teruggevoer word na die feit dat daar nie meer oor die gevaar van die hel gepreek word nie!
Baie mense glo nie aan ʼn hel nie omdat dit nie met hulle idee van ʼn liefdevolle God strook nie. Dit maak nie saak wat mense sê nie, die hel is ʼn werklikheid. Dis ʼn ontstellende feit en die grootste vraagstuk waarmee ongelowiges te kampe het totdat dit met hul bekering tot Jesus Christus opgelos word.
Daar is min Bybelse waarhede wat onverskilliges al so tot hul sinne gebring het soos die duidelikheid oor die hel. Vrees vir die dood en die hel het menige sondaar al van sy verkeerde pad laat wegswaai en aan die voet van die kruis redding ontvang. Desondanks moet geen mens hom bekeer omdat hy bang is vir die hel nie.
Ek sal nooit ʼn persoon met vreesprediking in die hemel probeer indwing nie. Geen leraar preek oor die hel omdat hy dit geniet nie, maar omdat Jesus daaroor gepraat het. Dis elke leraar se plig om mense te waarsku om nie in die hel te beland nie.
Mense is lief daarvoor om mekaar bang te maak. Ja, selfs om vrees vir die hel aan te wakker! Die filosoof Dante (geb.1265) het bv. in sy verbeeldingryke boek Inferno ʼn vreesaanjaende hel van rooi duiwels met drietandvurke in ʼn vuuroond beskryf. Mense wat daardie die boek gelees het, so word daar gesê, was amper te bang om te gaan slaap! Ja, ongelowiges sidder vir die oordeel.
Vir baie is die hel nie ʼn werklikheid nie, maar ʼn spreekwyse. Iemand sal bv. sê: “My huwelik is hel!” of: “Hy het my hel op aarde gegee”. Baie mense meen dat hulle geen hel in die hiernamaals sal smaak nie omdat hulle dit alreeds op aarde ervaar het. Wat ʼn onaangename verrassing wag daar nie op sulke mense nie!
Is daar werklik ʼn hel? Wat sê kerke? Talle kerke en teoloë staan deesdae skepties daaroor, veral in die ontspoorde kerke. ʼn Paar jaar gelede was daar ʼn hewige debat in ʼn NG Kerk Sinode oor die bestaan van die hel. Etlike teoloë glo nie aan ʼn werklike hel nie.
Wat glo jy? Ek het vir jou goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat daar wel ʼn hel is. Die goeie nuus is dat gelowiges nie daarin beland nie! Jesus maak ʼn belofte: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). Uitwerp hou met die hel verband. In die Gelykenis van die Talente sê die teleurgestelde werkgewer: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis...” (Mt.25:30). Die kind van God het die heerlike versekering dat hy in Jesus van ʼn ewige hel gered word!
Maar waarvan word ons eintlik gered? Van God se toorn. Sonde maak God kwaad. Ons het oortree en moet boet. Dit word nie sito-sito oorgesien nie. God se heiligheid en geregtigheid laat dit nie toe nie net soos ʼn regter ʼn misdadiger nie oorsien nie omdat die wet straf vereis. Dis geen vreemde gedagte nie. Die Bybel is vol daarvan. “Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom” (Obadja 1:15). In sy profesie teen Babel skryf Jeremia: “Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die Here....” (Jer.50:29).
Die hel is ʼn werklikheid en die oordeelsdag in aantog. Dis nie verbeelding of ʼn gogga-maak-vir-baba-bang storie nie; dis ʼn werklikheid. Die vraag wat ons onsself moet afvra, is: Is ek van God se toorn gevrywaar? Wie nie daarvan gevrywaar is nie, het ʼn probleem sonder enige gelyke!
Ten spyte daarvan dat alles in die lewe tydelik is, dink mense oor die algemeen nie baie aan ewige dinge nie. Dis miskien een van die groot redes waarom dit so sleg met die mensdom gaan. Mense het, soos die ryk man van Luk.16 hul ewigheidsvisie verloor. Hulle is op die hier en die nou ingestel, en dit maak hulle geestelik stiksienig.
Kyk ʼn bietjie rondom jou. Alles is tydelik. Die lewe is soos ʼn eindelose begraafplaas. Geslagte kom en geslagte gaan. Vandag staan ons by die graf van ons ouers, môre staan ons kinders by ons s’n. Ons besef nie dat dit wat van ons unieke mense maak, slegs met ʼn nietige naelstring van ons asem aan ʼn bewustelike bestaan gekoppel is nie! Die ewigheid kan enige sekonde vir ons aanbreek. Ofskoon ons op die aarde is, het ons geen vaste verlyfplek hier nie. Ek het ʼn tyd gelede ʼn mooi grafskrif gelees. Die oorledene het graag gereis. Sy grafskrif lui: “Ek was ʼn reisiger op aarde. Die reis is verby en ek is terug!”
Maar hoe lyk dit in die hel? Die Bybel sê vir ons sekere dinge daaroor. Dis ʼn plek van donkerte en skeiding met ʼn ewige vuur. “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie...” (Openb.14:11). “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Openb.20:10). In Rom.2 sê Paulus dat God se liefde geheel en al in die hel sal ontbreek.
Die NT gebruik twee Griekse woorde vir hel – gehenna en hades. Jesus waarsku en sê: “... maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28). Hier gebruik Hy die woord gehenna. Later sê Hy van Kapernaum “... jy sal tot die doderyk toe neergestoot word....” (Mt.11:23). Hier word die woord hades gebruik.
Gehenna is die Hebreeuse woord vir die Hinnomvallei (Ge-hinnom). Die Hinnom- en Kedronvallei is twee valleie buite Jerusalem se ou stadsmure. Die Bybel verwys 13 keer na die eersgenoemde vallei, meesal in ʼn ongunstige sin. Daar was ʼn tyd in die geskiedenis toe dit geestelik baie sleg met die Bondsvolk gegaan het. Hulle het soos die heidene selfs van hul kinders in die Hinnom-vallei aan Molog geoffer deur hul lewend in ʼn groot vuur te werp.
In Jer.7:31 praat God deur die profeet daarvan: “En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie...”
Luister wat word van koning Agas gesê: “Hy het self ook offerrook in die dal van die seun van Hinnom laat opgaan en sy seuns met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdryf het” (2 Kron.28:3). Hy was nie die enigste wat hierdie gruwel bedryf het nie. Manasse het ook: “Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom...” (2 Kron.33:6).
Gehenna kom 12 keer in die NT voor, 11 keer uit die mond van Jesus self. Dit was ʼn plek in die Hinnomvallei waar die stadsvullis asook die liggame van dooie diere en onopgeëiste misdadigers gestort en verbrand is; waarskynlik ook die liggaam van Lasarus (Luk.16). Daarom het daar dag en nag ʼn groot vuur gebrand om die stof te verteer terwyl die wurms onophoudelik in die vullis werksaam was. Die vuur is nooit geblus nie sodat die wurms nooit doodgegaan het nie. Daarbenewens het wilde honde gedurig oor die eetbare gedeeltes in hierdie vullishoop baklei. Die Jode het hierdie plek van vuur en stank liefs vermy en as ʼn idee van die hel ingebeeld.
Die Bybel sê dat die hel ʼn plek van straf is. Die ergste is dat dit ʼn plek van ewige gevangenskap is, nie net vir mense nie, maar ook vir die gevalle engele “... vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (Jud:13).
Die Hebreeus vir hel is sheol. Hierdie woord kom telkens in die OT voor en word met doderyk vertaal. Sofar, een van Job se vriende, sê: “Kan jy die dieptes van God peil? Of kan jy deurdring tot die volmaaktheid van die Almagtige? ... Dieper as die doderyk – wat kan jy weet?” (Job.11:7,8). Jesaja profeteer die val van die koning van Babel: “Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!” (Jes.14:15).
Die Bybel beskryf die hel voorts as ʼn plek van groot donkerte. In Mt.22:13 sê die koning vir sy dienaars om die man wat sonder die bruilofskleed opgedaag het weg te neem en in die buitenste duisternis te werp waar daar ʼn geween en ʼn gekners van die tande sal wees. So ook met die lui kneg in die Gelykenis van die Talente (Mt.25).
Die wagkamer na die hel word die buitenste duisternis genoem wat ook met uiterste duisternis vertaal kan word. Dis ʼn plek so ver van God verwyder, dat geen enkele ligstraal daardeur dring nie. Verlorenes wat vir ewig van God verban is, tas in die pikdonkerte rond.
Die geween en gekners van tande vertel van die droefheid, wanhoop en verwyt wat verlorenes ervaar wanneer hulle besef dat dit te laat is om hul te bekeer! Baie gaan tot hul ontsteltenis agterkom dat blote kerklidmaatskap hulle niks in die sak gebring het nie. “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Dit gebeur wanneer jy die roepstem van God minag wat jou oproep om jou saak met Hom reg te maak sodat jou naam in die boek van die lewe opgeteken kan word. Ek wonder hoeveel van die name van ons lesers vandag hier staan ook in die boek van die lewe opgeteken? Die Woord van God gee ons goeie raad: “Vandag, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Hebr.4:7). Dawid skryf in Ps.95:7: “Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!”
Dis nie God wat die mens verwerp nie, maar die mens wat God se reddingsaanbod van die hand wys. God stuur in der waarheid nie mense hel toe nie, hulle stuur hulself! “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel...” (Joh.3:18). Ongelowiges verdien die hel. Hoeveel bose mense was daar nie al op die aarde nie! ʼn Boom wat vrugte soos dié van Sodom en Gomorra dra, moet uitgekap word om die grond nie langer uit te put nie!
Hoe duidelik klink die oproep tot bekering as God deur die profeet Esegiël met sy halsstarrige volk praat: “Sê vir hulle: So waar as Ek leef... Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, O huis van Israel” (Eseg.33:11).
Beteken die hel ʼn absolute skeiding van God, m.a.w. dat God nie daar is nie? Nee, Hy is ook daar, maar op ʼn ander wyse. Onthou, Hy is alomteenwoordig. Daarom is sy wraak, oordeel en straf ook in die hel teenwoordig. Die verlore mens is egter vir ewig en altyd van God afgesny. Daar is geen gemeenskap met Hom nie.
Hoe verskriklik moet dit wees om van God afgesny te wees! Die Bybel is duidelik oor die verskrikking van die hel (Luk.16). Iemand wat in die hel verkeer, het geen aandeel aan God se seëninge nie. Nie eens ʼn druppel water nie!
As mens, deel ons net hier op aarde in God se seën. Ongelowiges deel ook saam met ons in die goeie dinge wat God sy kinders laat toeval. Maar in die hel is dit vir ewig en altyd verby. Daar is geen ontsnaproete of latere opskorting van straf soos wat die Roomse Kerk met hul dwaalleer oor die vagevuur leer nie. Daar is ook geen verligting of moontlikheid van ʼn bekering in die hiernamaals soos die Jehovasgetuies glo nie. God se oordeel word nie omgekeer nie, soos wat die ryk man in Luk.16 te laat agtergekom het.
Die hel is nie ʼn metafoor of bangmaakstorie nie, maar ʼn harde werklikheid. Soos die ryk man van Luk.16 glo miljoene mense dit glad nie. Hulle gaan te laat wakkerskrik! Die Bybel waarsku ons en gebruik selfs beskrywende woorde soos vuur, verdoemenis, pyniging, geween en gekners van tande om iets van die verskrikking van die hel in menslike taal deur te gee.
Net so min as wat ons die heerlikheid van die hemel met ons menslike verstand kan bedink, net so min kan ons die verskrikking van die hel bedink. Een ding moet ons egter weet – dit mag nie eens as ʼn opsie oorweeg word nie!