...DIE DRIE DAE TUSSEN SY DOOD EN SY OPSTANDING?
Ds Andrè van den Berg
1 Pet 3:18-22
Die Bybel sê dat Jesus op ʼn Vrydag op ʼn koppie net buite Jerusalem gekruisig en begrawe is, maar dat Hy die daaropvolgende Sondagoggend uit die dood opgestaan het. Waar was Hy in die tyd tussen sy dood en opstanding? Slegs Petrus gee in die gelese Skrifgedeelte spesifieke inligting op hierdie vraag. Hou egter in gedagte dat hierdie Skrifgedeelte die verband tussen Christus se lyding (:18) en sy verheerliking (:22) beskryf. Dit is nie ʼn bal-vir-bal kommentaar van wat Christus alles in dié tyd gedoen het nie.
In vers 19 skryf Petrus dat Christus gedurende hierdie drie dae vir die geeste in die gevangenis gaan preek het. Dis ʼn uitsonderlike vermelding aangesien dit nêrens anders in die Bybel genoem word nie. Hoe moet dit verstaan word?
Die Griekse woord preek wat Petrus hier gebruik, is nie dieselfde woord as wat vir prediking van die Evangelie gebruik word nie. Hier beteken dit letterlik om ʼn boodskap by wyse van ʼn aankondiging oor te dra. Dit was in die ou tyd veral die werk van heroute. Hulle was die amptelike boodskappers van konings of goewerneurs wat belangrike aankondigings namens hulle in die openbaar gemaak het. Die Engelse het hulle as street criers geken.
Die Griekse woord wat Petrus hier vir preek gebruik, is ekukuzen. Die Griekse woord vir Evangelieprediking is euangelizo – die bring van ʼn goeie tyding soos die nag met Jesus se geboorte. En dis alles behalwe wat Jesus ná sy dood in die doderyk gaan doen het! Hy het geen goeie tyding gebring nie, maar vir die gevangenes in die doderyk duidelik laat verstaan dat hul vir ewig en altyd van God se verlossing uitgesluit is.
Die woord ekukuzen pas by die boodskap wat Noag net voor die sondvloed aan sy eertydse volksgenote gebring het. Hy het hulle namens God gewaarsku dat God se reg en geregtigheid gaan geskied en dat oordeel oppad is! Petrus noem Noag dan ook spesifiek ʼn prediker van geregtigheid:
“Want as God die engele wat gesondig het nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van die duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word, en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het...” (2 Pet.2:4,5).
Moenie vergeet nie dat Christus in sy nie-liggaamlike staat teenwoordig was toe Noag die mense van sy tyd gewaarsku het. Daardie mense is nou in die ewige duisternis soos verhoorafwagtendes wat in ʼn tronk die finale oordeel afwag. God het in die OT gereeld van profete gebruik gemaak om goddelose mense te waarsku. In die NT gebruik Hy hoofsaaklik apostels en leraars.
Wat kan ons met sekerheid van Jesus in die graf glo? Presies wat Petrus skryf: “... Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees” (:18). Jesus se dood het sy menslike gees van sy liggaam geskei. Jesus sê mos aan die kruis: “ ... Vader, in u hande gee ek my gees oor...” Maar die oomblik toe Hy uit die dood opstaan, het sy gees weereens die volle kameraadskap met sy Vader opgeneem.
Let wel dat slegs Jesus se liggaam dood was, maar nie sy gees nie. Dit het deur sy eie goddelike krag lewend gebly. Daarom het God ons Here Jesus onmiddellik nadat Hy van die vlees losgemaak is, ʼn nuwe lewenswyse laat betree. Hy het na die doderyk afgedaal net soos wat Hy 43 dae later na die hemel sou opvaar.
Toe die Romeinse teregstellingsbeamptes Jesus aan die kruis doodgemaak het, is slegs een van sy lewenswyses beëindig. Daarna het sy lewe op ʼn ander wyse voortgegaan. Hy sou drie dae later weer sy aardse lewe in al sy heerlikheid hervat. Jesus sê bv. vir Maria: “ ... Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie...” (Joh.20:17). Jesus het die drie dae in die graf alreeds iets van sy komende heerlikheid begin beleef.
Petrus skryf dat Christus gedurende hierdie drie dae ʼn aankondiging aan die geeste in die gevangenis gaan maak het. Hierdie prediking was beslis nie verlossingsprediking nie aangesien hierdie mense alreeds dood was en dooie mense nie tot bekering kan kom nie; slegs lewendes.
Oor wie hierdie geeste is, bestaan daar geen absolute duidelikheid nie. Sommige verklaarders meen dat dit nie mense was nie. Petrus praat van mense as siele en nie geeste nie: “... onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is” (:20). In die NT dui geeste hoofsaaklik bose geeste en nie mense aan nie. Daarbenewens word nêrens in die Bybel gesê dat Jesus die hel ná sy dood besoek het nie.
In Hand.2:31 lees ons wel dat Jesus in die doderyk (Hades) was. Hades is egter nie sondermeer die hel nie, maar die tydelike plek waar ongelowiges na die dood met ʼn geween en gekners van die tande die finale oordeel van God afwag. Hierdie onderskeid is in Openb.20:11-15 duidelik. Vir verlorenes is Hades ʼn tydelike plek van afwagting op die oordeel. Die hel is die permanente plek!
Verklaarders wat hierdie gevangenes as bose geeste sien, sê dat mense wel gees het, maar as sulks nie geeste is nie. Daarom kan die geeste in die gevangenis waarvan Petrus skryf, nie gestorwe mense wees nie, maar slegs gevalle engele.
Die probleem met hierdie siening is dat alle gevalle engele nie in gevangenskap verkeer nie. Die NT maak menige maal van demoniese optrede melding. Dink maar net aan die besetene van Gadara. Indien hierdie geeste wel bose geeste is, moet dit ʼn spesifieke groep demone wees wat op ʼn sekere stadium gevange geneem is. Luister wat skryf Judas: “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar” (Judas:6). Kan hulle die geeste in die gevangenis wees waarvan Petrus skryf?
Indien dit wel hulle is, wat kon hulle oortreding gewees het? Gen.6:1-4 vertel van die seuns van God wat by die dogters van die mens kinders verwek het. Hierdie seuns van God was waarskynlik demone wat menslike vlees aangeneem het en met vrouens geslagtelik verkeer het. Daardeur het ʼn ras van reusagtige groot mense ontstaan wat vir God ʼn gruwel was – die Nephilim.
Dis moontlik dat hierdie geeste die geeste in die gevangenis is waarvan Petrus skryf. God het hulle waarskynlik op ʼn gegewe tyd gevange laat neem om te verhoed dat hulle die sonde voortsit en insgelyks hul nageslag in die sondvloed laat omkom. Wat hierdie verduideliking ondersteun is dat Petrus van die dae van Noag melding maak (:20).
Die woord gevangenis het in die Bybel altyd ʼn ongunstige betekenis. Wanneer Petrus egter hier van ʼn gevangenis skryf, moet dit nie as ʼn plek van veilige bewaring gesien word waar goeie en slegte geeste kan wees nie. Gevangenis (Grieks: phulake) beteken hier iets heel anders: ʼn plek van afwagting.
Hierdie woord kom 38 keer in NT voor as ʼn plek waar geen ontsnapping of vrylating moontlik is nie. “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word” (Openb.20:7). Dis ʼn gevangenisskap in die onsigbare wêreld.
Petrus sê nie vir sy lesers wat Jesus aan hierdie geeste gesê het nie. Dit was waarskynlik ʼn oorwinningsverklaring oor Satan en sy magte. Hy skryf van Jesus as die Een: “...wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is”(1 Pet.3:22).
Die skrywer van Hebreërs sê: “...nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Heb.2:15). Paulus sê: “... Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem ... Hy het opgevaar – wat beteken dit anders as dat Hy ook neergedaal het in die onderste dele van die aarde? (Efes.4:8,9).
ʼn Vraag wat mense al gevra het, is waarom Jesus drie dae in die graf was siende dat Hy op die Vrydag gekruisig en vroeg op die Sondag opgestaan het? Daar het nie 72 uur verloop nie. Luister wat sê Jesus self: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mt.12:40).
Die Jode van daardie tyd het ʼn gedeelte van ʼn dag as ʼn hele dag beskou. Dis soos ʼn reserwe - al speel hy slegs vyf minute tel dit vir hom as ʼn wedstryd. Jesus was vir ʼn gedeelte van die Vrydag, die hele Saterdag en ʼn gedeelte van die Sondag in die graf – dus drie dae. Dae is ook as dae en nagte uitgedruk. Dink maar aan Elia wat 40 dae en 40 nagte in die woestyn geloop het.
Nog ʼn vraag is hoe ons die 12 Artikels moet verstaan wat sê dat Jesus ter helle neergedaal het? Die woorde ter helle neergedaal kom uiteraard nie in die Bybel voor nie. Daar is geen bewys dat Jesus werklik in die hel was nie. Die Bybel sê net dat Hy drie dae lank fisies dood was. Dit sê nêrens waar Hy in daardie tyd was nie. Dit was vir die NT skrywers geensins belangrik nie.
Die algemene afleiding is dat Hy in hierdie tyd in die doderyk was. Al wat ons weet, is dat die dood Hom nie kon vashou nie. Hy het immers die sleutels van die dood en die doderyk (Openb.1:18). Deur self die dood te smaak en doderyk te betree, het Hy vir ons ʼn deurgang na die hemel bewerk – die dood kan ons ook nie vashou nie omdat Jesus die deur na die ewige lewe oopgesluit het. Jesus het nie nodig gehad om self na die hel toe af te gaan nie omdat die oorwinning oor Satan nie in die hel nie maar in die hemel plaasgevind het.
Die uitdrukking ter helle neergedaal kan op een van twee maniere verklaar word. Eerstens dat Jesus aan die kruis smarte ervaar het soos iemand wat in die hel verkeer. Onthou dat Hy in die tuin van Getsemane bloeddruppels gesweet het toe Hy gebid het dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan. Kruisiging was ondraaglike pyn. Dit is dus nie ʼn letterlike verklaring nie, maar figuurlik.
Die Heidelbergse Kategismus ondersteun die figuurlike verklaring. Die woorde gely, gekruisig, gestorwe, begrawe en ter helle neergedaal word verstaan as dat God in Christus self tot in die diepste duister van ons sonde afgedaal het om ons van ʼn ewige dood te red.
ʼn Tweede moontlikheid is dat ter helle neergedaal op die diepte van Christus se Godverlatenheid kan dui. Om geen toegang tot God te hê nie is ʼn ervaring van die hel! Voordat Jesus die Lig van die wêreld kon word, moes Hy eers die diepste donkerte vir ons betree.
God wil dat alle mense vry wees. In Joh.8 sê Jesus dat Hy gekom het om mense vry te maak en dat die waarheid hulle vry sal maak. “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Kor.3:17). En dis presies wat Jesus deur sy dood kom doen het.
Opsommend kan ons sê dat die Bybel nie presies sê waar Jesus die drie dae van sy dood was nie. Dit skyn asof Hy in hierdie tyd sy oorwinning oor gevalle engele en ongelowiges gaan verkondig het. Een ding kan ons egter van seker wees: Jesus gee mense ná die dood geen tweede kans op bekering soos die Jehovasgetuies valslik verkondig nie.
Ná die dood kom ons wel voor die groot wit troon van oordeel te staan, maar ons kry nie ʼn tweede kans op bekering nie. Dit sou glad nie met die gelykenis van Lasarus en die ryk man strook nie. Miskien is die antwoord op die vraag waar Jesus die drie dae van sy dood was een van die verborgenhede wat ons slegs eendag in die hemel sal weet. Paulus skryf aan die Korintiërs dat ons nou soos ʼn spieël in ʼn raaisel sien maar eendag ten volle sal verstaan. Kom ons wag maar tot dan!